Deur Liesel le Roux
Die Hoorn se Foto van die Week wat geneem is deur Higgo Jacobs het een van die mooiste dinge van die winter in die Klein Karoo vasgevang – ’n suikerbekkie op soek na nektar in ’n laventelbos,
Baie inwoners kan vertel hoe die suikerbekkies se manewales ’n mens hierdie tyd van die jaar gevange kan hou – of hulle nou rondsoek na nektar in ’n laventelbos, kanferfoelieblom of aalwyn.
Die Klein Karoo se winters is seker van die mooiste in die land. En dit is nie net vanweë die sneeu wat soms ’n wit hoed op die Swarberge se kop sit nie.
Op die hoëveld – in die Vrystaat, Gauteng en aangrensende dele – is die winter die seisoen wanneer alle kleur ver-dwyn met blaarlose swart boomstamme en geel verdorde gras. In die Klein Karoo egter is die winter ’n seisoen van kleur – groen veld, helder oranje aalwyne en blou berge – selfs in ’n jaar soos vanjaar wat die droogte ook die Klein Karoo teister.
Ironies genoeg is dit ook vir baie inwoners van die streek die moeilikste tyd van die jaar; spesifiek vir diegene wat nie het nie – nie ’n dak oor die kop nie; nie ’n warm trui of skoene vir skool nie; nie ’n kombers vir die koue nagte nie en, helaas, nie kos by die huis vir die familie nie.
As dié wete jou hart raak, hoop ons dat jy iewers jou hand sal uitsteek.
Vra byvoorbeeld gerus by ’n skool, kerk of welsynsorganisasie waar daar so ’n behoefte onder hul mense is.
• Een voorstel: Geestelike leiers van Bridgton het Die Hoorn genader om hulp met warm skoolklere vir leerders vir Bergsig Primêr. Skenkings kan afgegee word by die skool of Die Hoorn.