Moenie bang wees nie…

Deur Poem Mooney

Dit was weer een van my worsteldae. Ousie Roeslyn het vroegmôre kom kuier. Ons het koffie gedrink terwyl sy, Ousie, my byna onkant gevang het met een van die opvoedingsdebatte.

“Gert,” het sy soos gewoonlik haar storie begin, “wat dink jy is besig om in ons land aan te gaan? Watse gestryery en bakleiery is dit gedurig? Die moord en doodslag gepratery en die verkragting van wet en orde. Jy sal sweer respek en orde is doodsonde in die oë van die proletariaat.” Ousie het gesukkel om haar emosies onder beheer te bring. “Ek is nou al moeg geluister na die gestry oor grond en taal. Dis sommer net ’n selfsugtige neiging oor wie moet hê – en wie nie. En die onnodige bakleiery oor taal, is sommer net ’n klomp snert.

“Ousie!” het ek haar stortvloed woorde probeer stop. “Hoekom is Ousie vanmôre so omgekrap?”
“Gert,” het sy waarskuwend met haar regter voorvinger in my ringting gewys. “Moenie my gees steur nie, hoekom doen jy dit, of is jy bang om die waarheid te praat? Jy weet tog wat die Bybel sê, ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie. Dis teen die magte, die owerhede, die vorste van hierdie eeu en die bose geeste in die lug. Verstaan jy hoekom ek met jou raas?” het sy hierdie betoog afgesluit. Sy het haar koppie leeggedrink en uitdagend in my rigting gekyk vir kommentaar.
Ousie Roeslyn het my laat dink aan die spotgedig van Kas van der Berg wat jare gelede in ’n tydskrif gepubliseer is. Ek het die gedig woord vir woord vir Ousie aangehaal. “Ek wil uitstyg bo die massa, maar ek is bang, bang, bang. Vir wie? Vir hulle, vir hulle, vir hulle. Vir dit en DDT.”

Ek het al die jare gewonder oor die betekenis van dié akroniem, “my kleintjie,” het skielik binne my “gefluitster,” miskien staan dit vir die do…. trespassers. Ek het geskrik vir hierdie “influistering” vir myself het ek gesê: “Nou moet jy fyn trap in die pietersielie, Gert Mooney, en het na Ousie gekyk, gesien sy wag vir ’n antwoord.

“Nee, Ousie,” het ek gesê. Ek het geweet ek sal my woorde moet weeg. “Wat ek nou gaan sê, sê ek sonder benadeling van regte. Ek is nie bang nie, want ons het tog die reg om te praat oor dit wat verkeerd is. As ons praat oor reg en geregtigheid, dan oefen ons, ons konstitusionele reg uit – of hoe, Ousie?”

“Nou sien jy, Gert, hoekom julle my bier so suur maak, is hierdie gefynkappery. As jy oor die waarheid praat, hoekom moet julle altyd so suutjies-poep, of het julle vergeet van die passie, toe ons mense, deel was van die gewapende stryd tydens die turbulente tye, onder die aanvoering van die UDF. Hoekom laat julle dan ‘sekere mense’ toe om oor julle te loop? Julle laat dan toe dat magsbehepte politieke leiers oor julle loop. Mense wie nie eens gebore was tydens daardie stryd nie. Laat die grootpraters hulle ID’s vir julle wys! Wat weet hulle van taal, volk en ewewig? Het julle daardie stryd vergeet, het julle regtig vergeet?” Ousie het uitdagend haar regterwysvinger voor my bors gedruk. “Ek sê vandag vir jou, en dit sê ek sonder vrees vir teenspraak: stilbly is ook ’n antwoord, en dit is hoekom enige Piet, Paul en Klaas oor julle loop. Wat sê jy nou? Ek vra weer, het julle vergeet?”

“Nee Ousie,” het ek myself probeer verdedig. “Ons mag nooit ons aandeel in die gewapende stryd vergeet nie. Ons mag nooit vergeet dat ons in goedertrou toegelaat het dat die UDF ontbind is ter wille van…”

“Ter wille van wie, Gert?” het Ousie my in die rede geval. Sy was driftig toe sy verder praat: “En nou, Gert, nou speel julle tweede viool. Weet jy wat, my niggie Kate Morris, het nou bietjie dag vir my gesê, nou word julle vertrap en verniel, en die land en taal word vergooi deur elke voël wat fluit soos hy gebek is. Die meeste inkommers trek voordeel in die land wat nie aan hulle behoort nie, en julle swyg?!”

Sy het lank stilgebly en ek kon sien hoe sy sukkel om die knop in haar keel af te sluk en sê toe afgemete: “Gaan julle nog langer stilbly? Gaan julle praat, julle moet, of wil julle hê God moet praat. Julle moet weet, Gert, dié land is diep en vêr en wyd. Die taal. ons taal, Afrikaans, is diep verhewe, sterk. Die Khoi-San volk is die eerste inheemse nasie. En julle, Gert, is diep. Volkome sterk, gelyk in rang en stand en taal. En weet jy, Gert, as julle nie duidelik praat nie, sal God praat. My raad aan jou vandag is – moenie bang wees nie.” Ousie Roeslyn het oorgestap na Katie Morris se huis. Ek het by my kamer ingestap om troos te soek in Sy Woord.

Ek het die Bybel oopgeslaan by Genesis 14:14: “Moenie bang wees nie! Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg.”