Bo is die wolke onder die vliegtuig en links die misgehulde vliegveld.
Ek staan langs die gesellige oggendvuur in die lapa en drink bietjies-
bietjies aan ’n stomende beker koffie. Tyd om die vol dag voor my se aktiwiteite op te lyn en te rangskik. Die kamp en die Mosambiekse wildernis is toegevou in digte, spierwit mis en dit is doodstil. Die digte mis demp alle klank en selfs die voëls is onnatuurlik stil. Dit is onheilspellend en spookagtig maar eintlik pragtig. Behalwe as jy die ou is wat binne die volgende uur ’n vliegtuig vol passasiers en bagasie hier moet uitvlieg. Dan is dit spanning en bekommernis in lewende lywe. As jy nie kan sien nie, kan jy nie opstyg nie – so eenvoudig soos dit.
Ons probeer Beira se lugverkeer in die hande kry op die satelietfoon met gemengde welslae. Ek moet weet hoe die weer daar lyk aangesien ons daar moet land en brandstof ingooi, anders is dit direk Vilancoulos toe. Met die kort grasaanloopbaan by die kamp probeer ons maar altyd so lig as moontlik wees vir die opstygslag. Swaar vliegtuie vlieg net nie so lekker soos ligte vliegtuie nie. Beira is egter “oop” en ons sal daar kan land, en daar is brandstof sê hulle. Dit is Afrika en die brandstofvoorraad raak enige tyd gedaan, en dan het jy natuurlik ander moeilikheid. Nou moet die mis net
bietjie lig …
Ek ry solank vooruit met ’n klomp bagasie na die vliegtuig toe. Die lang gras langs die tipiese tweespoor bospaadjie pad lê swaar en platgevou van die water, en die sig is maar eina. Ek kan seker maar so 50 meter vêr voor my sien. Kom ons kyk maar.
Die hele plek asook die Aerostar is papsopnat. Ek doen gou die voorvluginspeksie soos gebruiklik en pak die bagasie weg in die bagasieruim. Dan is dit tyd om die aanloopbaan op en af te ry om seker te maak daar is geen erdvarkgate of ander lastige verrassings nie. Die mis bly hang en die sig bly swak. Dit laat jou maag op ’n knop trek. Die gaste moet vanaand op die Delta vlug na Atlanta wees en ons is nog baie vêr van Johannesburg af.
Wat voel soos ’n ewigheid later wil dit lyk asof die mis begin lig en my gemoed doen dieselfde. Die gaste kom al skertsend en vrolik by die vliegtuig aan en dan volg die gebruiklike rumoe-rige gegroet met die manne wat agterbly. Die ouens het sopas ’n intense tyd in mekaar se geselskap spandeer en daar is groot vriendskappe gesmee in die proses. Maar soos alle goeie dinge, kom dit ook tot ’n einde.
Ek kyk vir oulaas die windstil aanloopbaan op en af en ons klim in. Ons moet nou wegkom. Die aanskakelproses is roetine en ek rek dit maar so bietjie uit terwyl ek so kalm as moontlik probeer lyk voor die passasiers. Al die naalde van al die meters op die instrumentpaneel wys wat dit moet wys en ons ry na die onderpunt na die aanloopbaan, vanwaar ons gaan opstyg. Daar gekom, draai ek 180 grade om en gee die Aerostar vol krag om in die lug te kom. Ek konsentreer op die landingstrook met alles wat ek het en sien net die wêreld weerskante verby flits in ’n vae reeks donker en ligte beelde.
Op die regte spoed lig ek die voorwiel en ons gly soos honderde vorige kere grasieus die lug in. Die enigste verskil is, toe ons sowat 15 meter in die lug is, is ons binne in die wolke en dit is ’n probleem. Buite die vensters is dit melkwit en jy het geen idee van bo, onder, rigting of spoed nie. Daarvoor het ’n vliegtuig ’n hele klomp vlieginstrumente. Jou brein werk oortyd en jy fokus baie stip op die instrumente. Gelukkig ken ek die vliegtuig soos die palm van my hand en dinge gebeur amper outomaties. Goeie opleiding en ervaring is prysloos. Die grootste geneuk is natuurlik as ek nou ’n probleem kry, gaan ek nie kan terugdraai en land nie! Weg met daardie opsie en hou aan klim. Hier by 3000 voet bo die grond warrel-warrel ons uit die wolkbank uit in die helderste son denkbaar in. Ons vlieg bo ’n eindelose wit wêreld, so vêr soos die oog kan sien. Dit is pragtig, veral as jy bo dit vlieg en dit doen die knop op jou maag die wêreldse goed.
Met dun waterstraaltjies wat steeds oor die kantvensters loop, gaan sit ons op ons verkose vlugvlak en ry rustig Beira toe. In die verte kan jy al reeds sien waar die wit wolkkombers ophou en begin jy die grond, Beira en die see sien. Die kliënte sit stil met hulle gedagtes en ek begin myself solank my plan voorberei vir alles wat soos gewoonlik op die lughawe moet gebeur.
Maar, soos hulle sê … net omdat jy ’n goeie plan het beteken dit nie dit is wat gaan gebeur nie. Hierdie trippie se moelikheid was nog vêr van verby … maar meer daaroor volgende keer!
