Moeilikheid kom nie in dun straaltjies nie (2)

Die vroeë oggendson is gerus-stellend warm deur die Aerostar se venters terwyl ons Beira vinnig nader in die daling. Ná die gebruiklike radioprosedures maak ek geringe aanpassings aan die kragstellings en bevestig ’n paar ander noodsaaklikhede op die instrumentpaneel.

Veilig vlieg is baie afhanklik van prosedures en met pasasiers is dit net soveel meer ernstig.

’n Stemmetjie sê vir my om net weer seker te maak dat Beira brandstof het. Ek roep die man in die toring …

“Beira tower, Pappa Delta November, request.”

“Pappa Delta November, go ahead.”

“Beira, please confirm BP Avgas available.”

“Pappa Delta November, stand by.” Dit word stil vir ’n lang mi-nuut terwyl ons die lughawe al kan sien voordat hy antwoord…

“Pappa Delta November, I am sorry, no Avgas, I confirm negative Avgas.” Ag nee, my planne tuimel inmekaar vir die hoeveelste keer die laaste dag. Only in Africa. Ek roep hom terug.

“Pappa Delta November, we need to proceed to Vilanculos, please cancel our approach.”

“Ok Pappa Delta November, please fly heading as required for Vilanculos, call three zero miles outbound.” Ek herhaal die instruksie oor die radio en hou aan praat met myself oor die hopelose situasie, natuurlik met ’n string woorde – wat soos hulle sê – nie vir ’n familie-program aanvaarbaar sou wees nie. Drieletterwoorde, vierletterwoorde en lang, saamgestelde woorde soos net Afrikaans kan produseer. Natuurlik nadat ek die “transmit” knoppie laat los het.

Die ou wat doodstil langs my sit in die mede-vlieëniersitplek, waag dit uiteindelik om iets te vra. Hy luister natuurlik saam na al die radiowerk want hy dra ook oorfone.

Hy vra in ’n tipiese Amerikaanse aksent wat ek al so gewoond geraak het … “Hey Jouhaan, doesn’t the guy in the tower mind that you speak to him like that?” Hy het gedink die ou luister saam na my taal vol knope en uit-skellery van alles wat sleg is in Afrika. Ek kon net lag en verduidelik dat dit nie uitgestuur was nie, hy kan maar ontspan.

Vilancoulus is so 250 km verder suid langs die Mosambiekse kus af reguit oor die see, wat beteken nagenoeg so 45 minute se vlieg met brandstof wat ek eintlik nie aan boord het nie. Jou brein werk alweer oortyd en jy maak berekeninge dat jou kop letterlik warm word! Ek loer vinnig na die drie tenks se naalde op die brandstofmeters… twee lê al plat wat beteken die vlerke se tenks is reeds leeg. Die middelste tenk se naald hang luierig bokant ’n geel streep. Nadat ek al die ander instrumente wat brandstofverbruik monitor geraadpleeg het, kom ek tot die slotsom dat daar so 15 minute se brandstof in die tenk gaan wees wanneer ons in Vilanculos land. Dit is min, baie min, naels-kou min. As daar enige rede is waarom ons nie onmiddelik kan land teen die tyd wat ons daar aankom nie, het ek moeilikheid, baie groot moeilikheid.

Ek sê niks vir die passasiers nie en hou my “pose” tot elke prys. Wat voel soos ’n ewigheid later praat ek met die beheertoring in Vilanculos. Teen hierdie tyd sit my hart in my keel en ek wag vir die Low Fuel-liggie om daardie eerste flikker te gee. Hoewel ek weet dit kom, trek jou maag in elk geval op ’n stywe knop as dit wel gebeur. Jy kry eintlik ’n gevoel van ontkenning en maak dit so half af as onwerklik. Maar dan flikker hy weer ’n keer. Die daaropvolgende flikkers elke keer as die vliegtuig so bietjie skommel begin jy afmaak met die handige gedagte dat jy eintlik 20 minute se brandstof oor het wanneer die geel waarskuwingsliggie aanmekaar brand. Die idee pas jou in daardie stadium en jy fokus maar op die lughawe wat genadiglik baie vinnig al hoe nader kom. Ek voel soos ’n trapsuutjie met oë wat in verskillende rigtings kyk – een oog wat wag vir die geel liggie om weer te flikker en die ander wat uitkyk vir die lughawe doer in die verte.

Die kuslyn by Vilanculos is verruklik mooi met lang wit strande en idilliese groen eilande in die helderste blou see van die Baza-ruto Archipelago. Maar vandag het ek nie tyd daarvoor nie. Ek kyk vir die nare klein geel liggie wat al hoe meer begin flikker op my instrumentpaneel. Op so 10 km eindnadering is hy byna die hele tyd aan, maar gelukkig kan ek nou begin krag verminder – en minder brandstof gebruik. Ons gaan dit maak!

Die landing is roetine maar toe ek van die aanloopbaan afdraai, merk ek op dat my “geel vriendjie” nou heeltyd aan is. Gelukkig was my beskermengel aan diens die dag en is ons veilig op die grond.

Ek hou stil voor die brandstofpompe en skakel alles af. Baie dankbaar.
Daar kom ’n benoude stem van agter af … “Hey Jouhaan, where the hell are we?” Die mense het natuurlik gedink ons gaan Beira toe. Ek verduidelik vining en almal gaan gelukkig en vol glimlagte om die doeane- en immigrasie- prosesse deur te gaan terwyl ek die Aerostar vol brandstof maak en my senuwees weer sodoende rustig kry.

Ek kyk na my horlosie… dit is presies 24 uur sedert ek gister uit Wonderboom lughawe weg is.

Wat ’n lang, vol dag (en nag)! Ek moet seker nie kla nie. Ek staan in die varste lug denkbaar, met Afrika se helder oggendson op my rug, op een van die mooiste plekke denkbaar en doen waarvan ek hou. Terselfdertyd is daar nou ouens wat in Johannesburg se verkeer vassit op pad iewers heen om te doen waarvan hulle nie hou nie.

’n Mens moet maar gedurig jou seëninge tel!