Covid-19-gevalle op Oudtshoorn styg tot 75

DIE aantal Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn het sedert verlede week Woensdag kwaai gestyg met 75 gevalle wat teen gister (1 Julie 2020) be­vestig was.

Daar was verlede Woensdag 45 bevestigde gevalle en die voorafgaande Woensdag (17 Junie 2020) 29 bevestigde gevalle.

In Kannaland het die aantal bevestigde gevalle skielik tot 8 geklim – teenoor 3 gevalle ’n week en twee weke gelede.

Teen gister het 26 mense op Oudts­hoorn reeds herstel en 3 in Kannaland.
In die ander munisipaliteite in die Tuinroete-distrik het dit gister soos volg ge­lyk (aantal mense wat herstel het in ha­kies): George 652 (198), Mos­selbaai 221 (73), Bitou 78 (23), Knysna 196 (92) en Hessequa 27 (17).

19 sterftes in Tuinroete
Volgens die jongste syfers oor sterftes in die Tuinroete Distrik wat Sondag (28 Junie 2020) bekend gemaak is, het 19 mense in dié distrik, wat die Groter Oudtshoorn en Kannaland insluit, reeds aan Covid-19 gesterf.

Die meeste sterftes was in George (12), met 4 in Knysna en 1 elk in Mosselbaai, Hessequa en Bitou.

Hoewel ’n munisipale amptenaar van Oudtshoorn, Pumzo Tofile (55), Saterdag oorlede is, word sy sterfte in Kaapstad bereken waar sy tuiste was en hy ook in die hospitaal was. (Deur Liesel le Roux)