’N MAN van Tanzanië wat in Beaufort-Wes woonagtig is en op Oudtshoorn met tik van meer as R80 000 in sy besit betrap is, is in die Oudtshoorn Streekhof tronkstraf van 15 jaar vir handel in dwelms opgelê.
Pedro Mguile (43) het onskuldig gepleit op die klagte van handeldryf in dwelms, maar skuldig op die alternatiewe klagte van besit van dwelms.
Hy is op 29 Mei 2019 in Rosebank op Oudtshoorn in hegtenis geneem met drie sakkies tik met ’n straatwaarde van R88 887.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Mguile ’n swaar vonnis op te lê wat ander dwelmsmouse sal afskrik.
Hy is deur streeklanddros Ntsoki Moni aan handeldryf in dwelms skuldig bevind asook aan die oortreding van die immigrasiewet omdat hy geen dokumentasie ten opsigte van sy verblyf in Suid-Afrika kon toon nie.
Moni het met vonnisoplegging gesê Mguile is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind wat gemeenskappe vernietig. Hy is ’n verdere drie maande vir oortreding van die immigrasiewet opgelê. (Deur Garnett Wicomb)