Deur Tania Smit
Ek wil die mens wees wat glo in my engel.
Die een wat my hart se stem kan hoor praat
Die een wat dieper kan kyk tot ek deur die krake die lig kan sien
Die een wat myself elke keer weer van voor af sal kan vervel.
Ek wil die mens wees wat opstaan vir die sonsopkoms
Die een wat op die stoep sit in die reën
Die een wat vir die toetende karre waai as ons padkos eet
Die een wat op die rooi duin sit as die dag sy gordyne toetrek
Ek wil links voor wees sodat ek met my voete op die dashboard kan sit
Ek wil stof ruik omdat grond vir my oë mooier ry as teer
Ek wil kaal swem, of met klere, want swembroeke is vir ver dink en lank wag,
En ek wil kan stil wees.
Want stilwees is belangrik.
Ek wil koffie drink wat gebrand en gemoer is.
Juwele dra met ’n storie
Mense luister in hul wees in
Boeke lees in die vergeet in.
Ek wil kan slaap in die ver in
Lag in die seer in
Sit in die diep in
En ek wil kan liefhê in die alles in.
Ek wil volmens wees
Diep mens
Voelmens
Real mens
Dapper mens
Authentic mens
Vroumens
Heelmens
En genoegmens.
Meeste van als wil ek genoegmens wees.
© Hekelwoorde van my Hart