■ Ek verstaan regtig nie hoekom die munisipaliteit sulke klein gaatjies net vol teer stop nie. Hoekom doen hul nie ’n ordentlike werk en herstel die paaie behoorlik nie. Dis net so goed jy ry op ’n grondpad as gevolg van daardie “stopsels”, en dit hou letterlik net ’n rukkie.
■ Dit was so mooi skoon by die sloot voor die NA Smit Swembad. Dankie, AfriForum, maar ai, vanaf Dinsdag lyk dit weer soos die foto in 15 November se Hoorn. Ek wil net graag weet, bestaan daar dan nie meer ’n wet wat rommelstrooi verhoed nie? Iemand bring duidelik swartsakke tot daar en strooi dit dan in die sloot. So hartseer dat mense niks vir ons dorp voel nie en dat ander agter jou moet skoonmaak. Nee wat, Oudtshoorniete, ek is baie teleurgestel. Lizzy Strydom
■ Dit breek my hart as ek sien hoe die straat waarin ek bly Vrydae lyk nadat die weeklikse vullissakke verwyder is. Inwoners, kom ons staan saam en maak voor ons eie huise skoon.
■ Hoe kan mense wat ’n voorbeeld vir ons kinders moet stel maar oneerlik is, dan nog met ’n breë glimlag in koerante sit. Dis ’n skande. Hulle wat moet beskerm en dien. Here, red dit wat nog oor is vir ons nageslag. Antie Bets
■ AfriForum is ons pronkperde! As hulle ’n politieke party was, het ek verseker vir hulle gestem.
■ De Lille maak regtig of haar mense nie kan tel nie. Al kies sy watse naam, ons kan lees. Haar gans het klaar gedans, gee ’n ander nou ’n kans. Vaalie van vollie
■ Ja, dis amper tyd vir kruisies trek om wie en watse party in die stoel te hou; al sit ons bruin mense al 20 jaar in dieselfde platehokkie en al brand die son en val die kapok. Onthou, God sien en weet van julle. Eendag is eendag. Volmoeders, laat God die werk doen. Ons ken van swaarkry. Van ’n hartseer Volmoeder
■ Hiermee ons grootste dank aan die personeel van United Paints wat my Maandag met soveel deernis en ondersteuning versorg het. Julle maak die wêreld ’n beter plek. Sarel en Joey de Kock
Raakgelees op whatsapp:
■ My hart is baie seer. Ek kom by die huis en my kat bly miaauw… Iemand in Jakarandalaan-omgewing het haar met ’n windbuks geskiet. Hoe lafhartig, wie dra nou die koste van die geval. Wees asb op die uitkyk indien julle iemand gewaar met ’n windbuks in die omgewing. Sy loop nie rond of ver nie. Sy is ’n huiskat en reggemaak.