Sterk liewers hul hand
Dit is Donderdag 15 November 2018. Ek het die dag byna nege ure lank gewerk, met tuiskoms my vuurtjie aangeslaan om my porterhouse-beessnit met sy vetjie aan te braai en ’n lekker koppie koffie gedrink. Salig.
Toe lees ek die briewe in die dag se uitgawe van Die Hoorn. Net om te sien of daar nie nuus is wat ek miskien ge-mis het nie.
Maar, ai, helaas. Die sogenoemde reënboog (-nasie) met sy mooi kleure: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo, violet, het maar weer platgeval en net wit en swart vertoon. So, hoe ons ooit ’n reënboognasie genoem kan word, gaan my verstand te bowe. Wit en swart, ja. Nie bruin of geel tussen nie. Maar wag, ek dwaal af.
As gewese voorsitter vir ’n hele aantal jare by die Hoërskool Oudtshoorn tydens die Model C-skooljare het een skrywe my opgeval, die van dr Clifford van Wyk.
Sy intreeparagraaf was nogal ’n ysbreker. Jammer dat dit deurspek is met foute en ’n wolk van rassisme.
As Afrikaner het ek geen keuse as om die ware feite oor dr HF Verwoerd oor te dra nie.
Ja, Pratt het hom in die gesig geskiet en u behoort werklik van beter te weet as om daaroor te juig… (“Simbolies om sy (Verwoerd se) siek, woorde stil te maak.”)
Ses jaar later het Tsafendas dr Verwoerd met ’n mes doodgesteek. U woorde “Vandag beskou “ons” (wie is nou die “ons”?) Verwoerd as selfs meer geestelik siek in sy denke, waarby nie- wit as minder-mens beskou is” is ’n rassistiese onwaarheid en laat ’n slegte smaak.
Ja, dr Verwoerd was ’n voorstaander van afsonderlike ontwikkeling. Hy het te veel etikette gekry. Die meeste onverdiend.
Vergelyk dit met vandag se demokrasie.
Jy moet vandag onder ons nuwe demokrasie swart wees om te kan tender om vir die staat iets te doen (teen betaling) en om ’n betrekking te kry in ’n staatinstelling. Jy moet swart wees of swart familie hê om vir ’n staatsbeurs te kwalifiseer. En so kan ons aangaan.
Nou kom ons by die kruks van die skrywe.
Die aanstelling van onderwysers. In my besigheid sal ek niemand aanstel wat nie die werk behoorlik kan doen nie, maak nie saak wat sy kleur is nie. As ’n beheerliggaam ’n aanstelling van ’n onderwyser moet maak, stel jy die beste kandidaat aan. Die rede? Jy soek die beste leerkrag vir die jeug van ons land. Die leerders moet die beste onderrig kry, want ’n beheerligaam is nie daar om met hul gewetens (of weens druk van ander) aanstellings te doen nie. Hulle moet dit met hul verstand doen.
Ek weet waarvan ek praat. Ek was voorsitter toe die Broederbond nog sterk was en het gesien hoe aanstellings, bloot om die Broederbond te plesier, nie die pyp gerook het nie.
Moenie dat ons weer daardie pad loop nie.
U aanval op die beheerliggaam is werklik nie nodig nie. Sterk liewers hul hand.
– Johan Wagener, Oudtshoorn
Eenheid in diversiteit
Ek reageer graag op die brief van Clifford van Wyk van 15 November 2018 – “Beheerliggame moet gelykheid bevorder”.
Met die skrywe van Van Wyk het hy ’n geleentheid aan skoolbeheerliggame van vorige Model C-skole gebied om die teendeel te bewys en dat sy stelling ongegrond is – “…by elke nuwe aanstelling is dit net weer nog ’n jong onderwyser/es van ’n spesifieke groep”.
My waarneming is presies dieselfde. Dis ooglopend dat Van Wyk daarop sinspeel dat ervaring nie ’n faktor was as deel van die “meriete” waarop die voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Oudtshoorn antwoord.
Ek wil ook met Van Wyk saamstem dat alle leerders by vorige Model C-skole gekondisioneer is/word, soveel so dat leerder deur opvoeders aanbeveel word om opvoeders van ander kultuurgroepe as “oom” aan te spreek – my ervaring as opvoeder van ’n hoërskool in Bridgton gedurende hoërskool-atletiekbyeenkomste. Weer eens ’n bewys dat opvoeders van kleur as minderwaardig gesien word.
My voorstel, soos Van Wyk in sy brief sê, is nie op die opvoeders in vorige Model C-skole gemik nie, maar teen die onsensitiwiteit van beheerliggame in die bou van ’n normale same-lewing.
Ten slotte aan alle beheerliggame van vorige Model C-skole: aanstellings van wit opvoeders word in Bridgton gedoen, waarby ’n kragtige boodskap van eenheid in ons diversiteit uitgestuur word in belang van ’n gesonde samelewing.
– Jan van Wyk, Oudtshoorn