Ek sit vanoggend en wonder waaroor ek die week moet skryf. Waar gaan die inspirasie vandaan kom? Soos wat ek om my kyk, sien ek een van my orgideë het begin blom. Net een wit blommetjie.
Ek moet darem net eers noem, ek is enige plant se grootste nagmerrie. My vingers is ver van groen af en selfs die vetplante in my huis of by die werk sneuwel.
Dit keer my natuurlik nie om elke nou en dan met groot opwinding en ywer ’n plant te koop en huis toe te neem nie met die hoop dat ek hierdie een langer as ’n maand kan deurtrek. Ten minste het ek dalk mooi potplante wat lekker geskenke maak wanneer hulle uiteindelik hul laaste doodsnikke gee.
Met dit in gedagte, is dit vir my vreemd dat my orgideë jaar na jaar blom en oorleef.
Vanjaar is dit ook die enigste een wat nou sy eerste blom met baie moeite uitgestoot het nadat twee bloeisels voor hom gesneuwel het. En toe val die woord my by – moeiteloos. Hoekom maak ons geloof so ingewikkeld vir onsself en ander om ons.
Sondagaand by die kerk was daar ’n aha-oomblik toe Nadia Nel praat oor christene wat weer gered moet word wanneer hulle afval.
Waar val hulle af ? Van die kar af of van die bank af? Ek weet nie, en as mens eenkeer gered is, hoekom dink mense jy moet oor en oor gered word?
As my orgidee nie dié jaar blom nie, gooi ek nie die hele plant weg nie. Nee, ek is dankbaar vir die een blom wat wel gegroei en uiteindelik oopgemaak het. Anders wag ek maar tot volgende jaar.
Is dit dan nie juis waarom Jesus aan die kruis gesterf het en ons sondes vergewe het nie. Ons kan net op ons knieë gaan, vir God jammer sê dat ons gesondig het en dan ’n punt daarvan maak om tot die beste van ons vermoë dit nie weer doen nie en aangaan met ons lewens. As ek my man kwaad maak, of ons baklei, hoef ons nie weer te trou en ons huwelik van voor af te begin omdat ons ’n probleem gehad het nie.
Ons vra om verskoning wanneer albei afgekoel het, vergewe mekaar en beweeg aan.
Daarom, terug na die blom toe. Orgideë is moeilik om te kweek, maar hulle groei kom so natuurlik en wanneer hulle een maal per jaar blom, gee dit vir my soveel vreugde.
Dis hoe ons verhouding met God moet wees. Gemaklik, natuurlik en vreugdevol. Ons is vir hom kosbaar – meer as enige van die voëltjies in die lug. Hy ken elke haar op ons kop. Waarom maak ons dan dinge ingewikkeld vir onsself?
’n Skepper wat ons so goed ken, wil nie net ’n nabye tasbare verhouding met sy kinders hê nie, maar ook ons hartsbegeertes vir ons gee.
Lukas 12:7 “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.”
Psalm 37:4 “Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee,”
Onthou, Hy is nie doer bo die wolke en kyk af na ons nie; hy is in elkeen se hart. Hy bly saam met ons, is hartseer saam met ons en Hy beskerm ons daagliks, want watter pa sal nie die beste vir sy kinders wil hê nie. (ANGELIQUE ERASMUS)
Liefde is moeiteloos
Foto: Angelique Erasmus