Bob en Bea se groot dag

Die gelukkige honde-paartjie, smul aan hul biltonggeur roomys na afloop van die seremonie. Onder: Albei het spoggerige gelyk vir die groot dag. Foto’s: Ilse Jordan

Bob (6), die oulike en superintelligente goue apporteerhond (Golden Retriever), en sy bruid, die minlike Bea (18 maande) het op 17 November 2024 ewig trou aan mekaar beloof tydens ’n intieme bruilofsfees, met hul mens-ouers Jorrie en Ilse asook grootouers Fred en Susan Jordan as getuies.

Daar was nie net groot vreugde nie, maar ook heerlike biltongroomys vir honde om die spesiale geleentheid te vier.

“Bob is ’n ongelooflike hond wat meer soos ’n kind as ’n hond is,” vertel Ilse. Sy wou nog altyd graag dat Bob eendag kinders moet hê en dan ’n baba uit daardie werpsel hou. Bob is toe by twee geleenthede na mooi meisies geneem, maar die ou wou niks weet nie. “Ons dink Bob het gewag vir ware liefde,” skerts Jordan.

Hulle het in 2023 vir Bob ’n maatjie, Bea, aangeskaf en dit was liefde met die eerste oogopslag. Hulle is onafskeidbaar. “Wanneer hulle slaap, moet hul aan mekaar raak, dis ongelooflik oulik,” sê Ilse en daar is met groot vreugde bevestig dat Bea dragtig is en die babas word op Vrydag 29 November verwag.

Dis toe dat hul ouers besluit het dat hierdie twee hulle ouerskapsreis as getroude paartjie moet aanpak en die troue gereël het.

“Ons het gedink mense gaan dink ons is mal en die video so stilletjies op sosiale media gedeel. Die terugvoer was ongelooflik en mense vra daagliks of ons asseblief die video kan aanstuur. Dit was baie pret gewees,” sê Ilse.

Bob, word ook gereeld met verjaarsdagspartytjies bederf, behalwe wanneer hy eerder ’n see-uitstappie verkies. Hy voer ook nes ’n kind, wafferse opdragte uit.

“Ek sal vir hom items gee om vir Jorrie te vat, en dan maak hy so. Hy kan nog net nie die yskas oopmaak om vir Jorrie ’n bier te vat nie,” lag Ilse.

Bob is ook baie gewild onder die Sixty60 afle-weringsmanne van Checkers en help sy ma om die inkopiesakkies tot in die kombuis te dra.

Die Hoorn beoog om Vrydag vir Bob en sy bruid Bea te gaan kuier, en hopelik het die nuwe kroos ook dan hul opwagting gemaak. (ANGELIQUE ERASMUS)