Deur Johnny Malgas
Sy winkeltrollie se wiel tref die hoek van die sypaadjie soos hy dit uit die karwag se hand neem.
“Dankie ek vat sommer hierdie een.” Die strokie van die vorige gebruiker lê uitgestrek op die bodem van die trollie. Hy sien die lang lys items. Weet hulle dan nie?
Hy draai in by die eerste rak, verby die souse en speserye. Hy stel nie vandag daarin belang nie. Hy wonder of mense weet hoeveel suiker in tamatiesous verskuil is.
Hy wonder of mense weet hoeveel skade MSG jou kan aanrig. Mononatriumglutomaat. Hy voel altyd donners slim as hy daai woord in ’n geselskap uiter. Teen daardie tyd is sy spraak al egter sleperig en min mense hoor werklik wat hy sê.
Sy oog vang die rak met die Rascalls, hy onthou die smaak van elke kleur soos hy kleintyd in die son gesit en kou het. Die hond wat hom kort-kort in die gesig lek, terwyl hy die son uit sy oë probeer hou. Maar nou weet hy suiker is giftig. Sleg vir jou. “Dextrose, Citric Acid, Calcium Stearate, Tapioca Dextrin, Confectioner’s Glaze, Carnauba Wax, Artificial Flavours, Artificial Colours…” die lys gaan aan. Weet die mense dan nie? As hulle maar net kon lees. Maar hulle sien dit nie.
Sy trolliewiel mik reguit na die volgende gangetjie… Snaaks hoe die tradisionele manier van handel vervang is deur ’n amper kliniese gerondwaal van mense tussen rakke.
Uitdrukkinglose gesigte wat vasklou aan hul staaltrollies en duidelik eienaarskap van die onbetaalde items verklaar. Weet hulle dan nie? Daardie bottel 100% lemoensap. “Fructose, Sucrose, citric-, malic-, ascorbic acid” Als sleg vir jou! Maar hulle sien dit nie.
Hy neem die blikkie gebakte bone van die rak. Hy maak gereeld geblikte kos bymekaar. Daars sprake dat die energie-netwerk in duie kan stort. Hy tref voorsorg. Hy weet nie hoe lank hy sal oorleef sonder sy blikkies nie. Sy oog soek geoefend na die opsomming van die inhoud.
“Energy (kJ) 340, 918; Protein (g) 4.9, 13.2; Glycaemic Carbohydrates (g) 17, 45 of which total sugar (g)”. Sy kop maal vinning. 4g per teelepel. 45 gedeel deur 4. Elf en ’n bietjie. Elf lepels suiker. Donner. Hy sit die blikkie weer terug op die rak.
Sy trollie se wiele raas verby die bakkery-afdeling. “Stysel sal jou doodmaak”, dink hy. Die vrou
agter die glastoonbank se vriendelike glimlag maak hom ongemaklik. Weet sy dan nie?
Hy kyk voor hom in die gangetjie af, skrik toe hy onopsetlik oogkontak maak met ’n trolliestoter van voor. Hy knik sy kop en mompel. “Hello-hello”, maar net hy hoor dit…
Hy gly verby die suiwel-afdeling. Heeltemal te veel suiker en hormone in geprosesseerde melk.
Daarvoor hy is heeltemal te slim. Dit gaan makliker by die groenterakke. Maar sy oog vang steeds die klein appeltjies en groen tamaties wat slegs rooi verkleur as gevolg van etileen-behandeling. Glo vir ’n langer raklewe. Hy kweek eerder sy eie, maar sy laaste drie pogings tot ’n suksesvolle tamatieplantasie was egter onsuksesvol. Hy sal maar weer probeer.
Hy stoot sy trollie verby die borrelde watersuiweraar. Wat het van ons geword dat ons water in kanne in winkelsentrums kom tap? Een van die dae kom staan ons in rye met ons kannetjies. Hy hou verby. Dit het genoeg gereën die afgelope tyd. Sy watertenk is vol.
Hy skuifel verby na die betaalpunt. “10 items or less” Hy betaal vir sy karige items. “Sakkie?”
“Nee, my naam is Herman.” Die dametjie by die betaalpunt vang nie sy flou grappie nie. “Nee dankie.” Hy haal sy eie herwinbare sakkie uit en pak sy beskimmelde produkte stadig en stewig op die bodem. Die sakkie begin al hier en daar los torring. Om een of ander rede maak dit hom trots.
Sy herwinbare sakkie plaas hy versigting op sy kombuistafel wanneer hy die huis binnestap.
Hy sal dit later uitpak.
Daars niks daarbinne wat kan bederf nie. Uit die boonste kas van sy donkerige kombuis haal hy ’n kort dikrand glas.
Die glasbottel se metaalproppie skroef maklik af. Geen ys.
Hy weet nie wat hulle alles in daai water gooi nie.
Die kartondosie haal hy vlugtig uit sy hemp se bosak en die oopskiet van die pakkie is ’n ou-tomatiese beweging. Die vuurhoutjie skuur aan die brand oppad na die sigaret. Die pakkie gooi hy op die tafel langs die glasbottel neer terwyl hy tevrede in sy stoel sak. “Alcohol abuse is dangerous for your health” “Smoking can kill you.” In vetgedrukte letters, maar hy sien dit nie.
Krit
