In die verte hoor hy ’n mengsel van voëls en sy buurman se skreeustem. Nog verder terug hoor hy die gedreun van karre en trokke wat verby sy kamervenster skuur.
Dan druk hy sy aandag nog dieper in die donker in en daar… hoor hy haar stem.
Haar woorde wat kripties en dekoderend sag vanuit sy geheue se donker kamers aangerol kom oorrompel hom byna. Hy probeer uitmaak wat sy daarmee kon bedoel het. “Dit was die enigste keer dat ek so na jou kon kyk…” Die woorde neem ander klanke aan soos dit gebroke na hom terugkeer, maar wat soos sonvlekke aan sy skedel kleef, is haar oordeellose lippe wat syne sagkuns verlaat.
Toe hy haar die eerste keer gesien het, was sy naamloos. Die effek van sy eerste bier was nog nie naastenby sterk genoeg om selfvertroue te weeg te bring nie. Sy oë kon wel duidelik die kommunikasie na sy brein gelei. Optiese vesel. Teen die spoed van lig. En wanneer twee oë deur rook en stemme konnekteer, gebeur dinge dikwels vinniger as wat dit moet. Die groot poele van haar pupille aangevuur deur swak lig en chemikalieë het hom nader gewink. Sy swak selfbeeld het hom egter in die rigting van die kroegtoonbank gedruk. “Gee maar een van daardie “specials” dankie.”
Sy geselsies met die mense rondom hom sekondêr tot haar oogkontak. Sy woorde en aandag onderbreek met elke halfkonneksie. Hy verbeel hom dat hy ’n dreiging van ’n glimlag in haar mondhoeke gewaar. Maar sy alewige selftwyfel swaai hom weer terug tot in die gesprek oor wie weet wat met die skadu’s langs hom.
Dit is eenvoudig so dat als in skadu’s verander indien jy te lank in ’n skerp lig sou instaar. Die delikate ringspiertjies van die pupil verstyf tot so ’n mate dat net die nodige lig deur jou lens dans, skuin-streep deur die glasvog vloei en dan knus in die keëltjies van jou geelvlekke gaan lê.
En daar skep jou brein die lieflikste beelde vermeng met emosionele herinneringe en tower ’n nuutgevonde illusie vir jou op, om as realiteit te ervaar. Geen wonder die skadu’s langsaan hom het hom stelselmatig uit die geselskap uitgewerk nie. Te veel “hmms”, “is so ja…”, “jy’s reg ja” en “ek sal jou glo’s” is genoeg om enige skaduwee te verveel.
Na nog een van die kortstondige afweergeluide met ’n naburige skadu, let hy egter op dat die vertrek heelwat donkerder voorkom. Die swak lig reflekteer van haar leë stoel af. Sy aanhoudende vloeistofpogings tot die skep van ’n selfversekerde beeld, dwing hom egter na die badkamer. In die stegie af, verby die raserige monde met halfvol koppe. Vergeelde bordjie “Rook verbode.” Sy regterpalm druk die swaaideur oop en gelyktydig swaai daar nog een oop. “Dames”.
Haar lig verblind hom. Hy’t steeds geen woorde nie. Die konneksie vir eerste keer volmaak. Optiese vesel is so laasjaar…
Dis eers toe haar lippe syne verlaat dat die bloed in sy liggaam weer begin vloei. Die dowwe rooi orgaan wat al vir jare in sy borskas lê, weer begin rumoer. Maar toe swaai die deur al agter haar toe.
Hy stap terug na sy tafel waar sy tweede “special” wag. Hy neem ’n sluk en luister “aandagtig” na die halfvol kop langs hom, knik sy kop en sê: “Is seker waar ja…” (Deur Johnny Malgas)
Kortverhaal: Vinnig…
