Hoop in die donkerte reeks.
Oor die volgende drie publikasies, wil ek graag met jou ’n besondere gedeelte deel wat baie relevant is vir die tye waarin ons tans leef. Ek wil jou op ’n reis van hoop neem, te midde van al die uitdagings en dinge wat so verkeerd is. Aanvanklik gaan jy lees en dink dat wat ek skryf, baie wanhopig klink, maar ek vra dat jy sal terugkom en verder lees om die geheelprentjie te kry.
Ongeveer 2 600 jaar gelede was daar ’n profeet in Juda met die naam Habakuk. Hierdie profeet sit met ’n baie groot dilemma. Die ryk is verdeel tussen die noordelike ryk, Israel en dan die suidelike ryk, Juda. In albei van hierdie ryke, heers goddelose konings, daar is geen wet en orde nie, mense stry en baklei onder mekaar en daar is geweld en vernietiging. God se sogenaamde spesiale mense is in wanorde en het hulleself weggedraai van God af. Hulle volg nie meer God se wette en verordinge nie.
Boonop is daar die groeiende gevaar van die Galdeërs, ’n wrede en verwoestende nasie wat gebiede inval en mense voor die voet doodmaak of gevange neem en wegvoer na ballingskap. Oor ’n kort tydperk, ongeveer 11 jaar, sal Jerusalem verwoes word, die tempel vernietig word en God se mense in ballingskap weggevoer word na Babilonië.
Dit is nie ’n goeie tyd in die geskiedenis van God se spesiale mense nie. Profete soos Habakuk en sy tydgenote Esegiël en Jeremia, is die spreekbuise tussen God en Sy mense, maar anders as die ander, is Habakuk, soos ons hom noem, ’n “biddende profeet”. Dit beteken dat Habakuk met God praat en met God worstel, “namens” die mense in stede daarvan dat hy vir die mense vertel wat God vir hulle sê. Habakuk sit met ’n baie groot geloofs-krisis. Hy ervaar God glad nie. Dit voel vir hom asof God sy mense verlaat het en dat God geensins luister of ag slaan op die wekroepe en versugtinge van die mense nie. Alles is buite beheer en God is nêrens te vinde nie. God is stil en God is nêrens nie.
Habakuk wend hom tot die Here in hierdie verskriklike uitdagings en tyd van wetteloosheid:
“Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg in die howe nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.” Hab. 1:2-4.
Habakuk kon net sowel in hedendaagse Suid-Afrika geleef het, nie waar nie? Habakuk kon selfs ’n inwoner van Oudtshoorn gewees het…
Habakuk worstel met die tydlose vraagstuk: Waar is die Here en waarom laat Hy onreg toe? Regdeur die eeue beleef gelowiges hierdie geestelike worsteling tussen die beloftes van God en die werklikheid van die lewe. As God almagtig, kragtig, heilig en regverdig is, waarom laat Hy toe dat goddelose mense die oorhand het? Waarom lyk dinge soos wat dit lyk en waarom doen God nie iets om ons omstandighede te verander nie? Is Hy werklik daar? Gee Hy om vir Sy mense?
Bestaan Hy regtig? Is dit die moeite werd om Hom enigsins nog te dien?
Habakuk worstel met hierdie geloofskrisis en ons worstel ook daarmee! Tog is ’n verandering van ’n geloofsperspektief uiters noodsaaklik. Ons moet ons geloofskrisisse verander na geloofspers-pektiewe toe en anders na dinge kyk wanneer dit by God se dinge kom.
Die Here is egter nie traag om op Habakuk se klag te reageer nie. Die Here het Habakuk soos volg geantwoord: “Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.” Hab. 1:5-6.
Beslis nie die reaksie wat Habakuk verwag en wil hoor nie en op dit rig Habakuk sy tweede klag teenoor die Here: “U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is?” Hab. 1:12-13.
Is dit nie ook maar ons nie? Is hierdie gesprekvoering tussen Habakuk en God nie maar ook ons versugtinge en wroegings nie? Hierdie geloofskrisis is ook ons geloofskrisis. Habakuk se probleem met God is ook ons probleem met God in ons omstandighede hier in 2023. Iemand skryf eenmaal die volgende: “A committed believer can both wrestle with honest questions and embrace a genuine faith in God.”
Ongeag jou omstandighede en frustrasies moet jy steeds die volgende besef:
- God verstaan en is bekend met die versugtinge
van jou hart. - God verwelkom jou vrae en klagtes.
- God verlang jou gesprekvoering eerder as om Hom te vermy.
Dink bietjie na oor die volgende stelling in Craig Groeshel se boek: Hope in the dark:
“What if honestly acknowledging your doubts is the first step toward building a deeper faith?
What if embracing your secret questions opens the door for a maturing knowledge of God’s character? What if becoming closer to God, developing genuine intimacy with him, requires you to bear that which feels unbearable? To hear him through an ominous utterance, to trust him in the moment of doom, to embrace his strength when you’re weak with a burden? What if it takes real pain to experience deep and abiding hope?”
Ons is tans maar in hoofstuk een. Moenie in hoofstuk een jou rug op God draai en dink dat Hy onbehulpsaam en kragteloos is nie. Dalk hou jy nie van God se reaksie nie! Verander eerder jou geloofsperspektief! Kom ek illustreer dit vir jou prakties soos ons hier voorloopig eindig. In Habakuk se eerste hoofstuk is die klagte teen God die volgende: “God is NOWHERE”. Ons gaan binnekort sien dat Habakuk se geloofsperspektief verander van “God is NOWHERE” na “God is NOW, HERE”. Selfde woorde, slegs ’n verande-ring van perspektief…
Is dit nie hoopvol nie! Volgende keer kyk ons verder na Habakuk se geloofsperspektief. (Deur Francois Mattheüs)
