Haar vingers tik tik op die rand van die tafel. Sy kan nie help om onophoudelik te staar na haar eie weerkaatsing in die dik glasruit voor haar nie. Die volgende kliënt kom drentel voor haar in. Eentonige woorde, soos altyd. Die geld word gevoelloos onderdeur die glasvenster gestoot. Sy neem dit sonder om oogkontak te maak.
Twee harde houe van ’n ou bankstempel tref ’n bladsy voordat dit uitgly na die wêreld anderkant die dik glasruit. Soveel gesigte wat elke dag sielloos voor haar kom staan. Meeste van hulle leeg, bekommerd. Vuil banksakke vol vuil gefrommelde note in hul kloue vasgeklem. Moeë en tam oë wat haar aanstaar terwyl hul pote oor die toonbank gly.
By tye word dit effens stiller, dan gly haar oë na haar skoot, waar haar leesstof lê. “Are we alone in the universe?”, “Do you only live once?” “A guide to understanding reincarnation.” Kort brokkies wat haar nuuskierigheid prikkel. Haar vlugtig wegneem na ’n wêreld buite die dik betonmure van die bank. En dan wonder sy…
Skielik ruk iets haar terug tot reg in haar ongemaklike tellerstoel agter die dik inperking van die glasruit. Die stem sag en lewend.
“Goeie môre.”
Haar boekie val van haar skoot toe sy opkyk.
“Jammer”, sy sak ongemaklik en tel die boekie van die grond af, plaas dit per ongeluk op die toonbank en dan weer op haar skoot.
“Jammer meneer. Hoe kan ek u help vandag?”
Sy oë slaan regdeur haar. Dit ruk haar terug tot in haar kinderdae. Haar pa se oë. Haar pa se oë wat tranerig voor haar ma gestaan het, terwyl hy gesukkel het om regop te bly. Sy baadjie skeef om die lyf. Sy omdraai en wegstap. Dit was die laaste keer dat sy hom gesien het.
“Net ’n deposito, dankie.”
Sy stem neem haar terug na die dag toe sy soos ’n weggooi-banknoot by haar ouma en oupa gedeponeer is. Haar ma wat huilend probeer verduidelik terwyl sy al hoe stywer aan haar lappop vasgeklou het. Haar ouma se kwaai stem en haar ma se kinderlike uitdrukking. Dit was die laaste keer dat sy haar gesien het. Die tatoeëermerk.
Hy skuif die netjiese banksakkie onderdeur die swaar glasruit en ’n tatoeëermerk van die mooiste mopanie mot pryk op sy hand. Sonder keer herleef sy haar eie metamorfose van weeskind, nadat haar ouma haar laaste asem uitgeblaas het, na jong verliefde. Sy pragtige sagte hande en blomme. Sy laataand kuiers en die motorongeluk. Dit was die laaste keer dat sy hom gesien het.
Sy neem die sakkie en keer haarself om op te kyk. Te bang dat iets van hierdie bekende vreemdeling haar weer sal herinner aan almal wat haar lewe verlaat het. Haar stoksielalleen agtergelaat het op hierdie dorre stuk aarde. Almal verlaat jou die een of ander tyd. Daarmee het sy al lankal vrede gemaak, maar sodra die horlosie se lui arm skuins oor vyf gaan hang en sy haar boekies en koekies in haar deurgeleefde handsakkie druk, almal groet en na haar eenslaapkamerwoonstel terugkeer, brand dit. Dit brand sonder pyn hier diep in haar binneste. Dit stoot op tot reg onder haar bors en daar bly die gevoel dikwels totdat die slaap haar kom haal.
Sy loer vir oulaas na die eksentrieke patrone op die vlerke van die mot-tatoeëermerk. Sy hande vou dankbaar om die netjiese banksakkie. Hy knik.
“Moet asseblief nie dink ek is voorbarig nie…” klink sy stem terwyl hy senuagtig met die sakkie vroetel.
“…maar ek kon nie help om op te let dat…” hy huiwer. Sy kan duidelik sien hoe hy sukkel om sy woorde reg te kies. Hy vee met sy vinger in die hoek van sy oog. Die volle prentjie van die tatoeëermerk kom na vore. Sy verkyk haar aan die kolle op die vlerke.
“…dat jou oë…” hy huiwer
“dat jou mooi oë…”
“…so ongelooflik hartseer lyk nie. “
Sy voel asof hy regdeur haar kyk. Sy het geen woorde nie. Sy veg om die trane agter haar grys oë te hou. Die sluise stewig toe, maar as sy iets sou antwoord sou die damwal verseker breek.
Sy glimlag skeef. Die oomblik tussen hulle voel soos ’n leeftyd. Die stilte soos die ewigheid.
“Geniet jou dag… en… dankie.” Hy draai vinnig om en mik vir die uitgang.
Dis sesuur. Haar sleutels raas soos sy haar woonstelletjie se deur oopstoot. Sy plons op die rusbank neer. Almal gaan een of ander tyd weg, dink sy terwyl sy na die plafon staar. Uit die hoek van haar oog bespeur sy beweging. Skielik, uit die rigting van die lamp in die hoek van die vertrek, kom daar die mooiste Mopani mot aangefladder en kom land sagkuns op haar hand. Sy verkyk haar aan die eksentrieke patrone op sy vlerke.
En skielik…brand dit nie meer binne haar nie en êrens in die agtergrond klink die klank van sirenes… (Deur Johnny Malgas)
Kortverhaal: Teller
