LUKAS 18: 15-17 (NLV): Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry. Jesus het egter die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koningryk van God. Ek verseker julle wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie,”
Die dissipels laat my so baie dink aan die wêreld tans. My wêreld het verander die dag toe ek self ’n mamma geword het. Ek kon vir die eerste keer verstaan wat ware liefde is, ek onthou nog hoe ek selfs vir my ma gesê het, hoe ek haar liefde vir my en my broers en suster verstaan.
Ek het al baie gedink as ek so voel oor my kinders, hoe moet Jesus nie voel oor ons nie. Hy het presies geweet wat hy bedoel toe hy sê, moet die kindertjies nie verhinder nie. Hoekom dink jy sou Jesus dit sê? Kinders is nederig, hulle vertrou maklik, vergewe gou en is vol liefde en wil dit altyd net uitdeel.
My 8-jarige kyk my een oggend in die oë en sê, “Mamma ek is so bly ons hoef nie meer skapies dood te maak om te offer nie. Ons sou na Oupa se plaas toe moes gaan en skapies daar kry en wanneer hulle babas nie gou genoeg groot word nie, het ons ’n probleem. En waar moet almal skapies kry mamma”
Hierdie seuntjie van my begin spontaan en baie ernstig praat van die spykers in Jesus se hande en hoe seer dit moes wees. Ons gesels oor vergifnis, hoekom Jesus vir ons gesterf het en wat ons verant- woordelikheid nou is.
Hy is tevrede skool toe en ek moet ons gesprek vir ’n oomblik herkou. Ek sien in my geestesoog hoe Jesus die kinders geniet en saam met hulle lag. Ek dink oor wat my 8-jarige gesê het en besef hoe belangrik dit is om Jesus se kruisiging te verstaan.
Ons almal raak groot met Bybelstories, maar het ons die waarheid vas gemaak in ons harte? Jesus se doel was om die verhouding te kom herstel tussen God en mens. Sonde het die mense se harte verhard en Jesus het gekom om ons vry te maak. Ons hoef nie vasgevang te wees in ons sondige natuur nie.
Dit beteken nie ons kan net doen wat ons wil nie. Ons is vrygekoop as kind van God en in daardie belofte kan ons ’n goeie lewe leef. Jesus het gesterf en met sy kruisdood het ons die Heilige Gees as geskenk ontvang.
Ons lees in Handelinge 4:29-31 hoe die gelowiges bid en God vra om hulle te lei om die woord te verkondig. Ons lees hoe die Heilige Gees hulle gevul het en hulle kon die woord onverskrokke verkondig. Ander vertalings gebruik vrymoedigheid.
Ons kan met vrymoedigheid loop met die wete dat Jesus alreeds die prys betaal het sodat ons kan leef.
Die Heilige Gees help ons om hierdie goeie nuus vir ander te kan vertel. Jesus het gekom as Lam en deur sy lewe te verloor kan ons lewe.
Die skrif in Lukas verduidelik so mooi dat ons die Koninkryk soos ’n kind moet aanvaar. Dit beteken ons kan Jesus vertrou, hy leer ons om mekaar te vergewe en te leef met ’n hart vol liefde. Die liefde wen altyd. Vir die wêreld het Jesus verloor, maar hy het gewen. Hy het die dood oorwin, Hy het sonde oorwin en nou kan ons in Vryheid leef.
Ons kindertjies is ’n kosbare geskenk van God. Hulle is kosbaar en uniek en daar is ’n groot plan en doel vir hulle lewe.
As ’n mamma van my eie twee seuns weet ek dat daar dae is wat nie lekker of maklik is nie, soms daag hulle jou uit, soms breek jou hart vir hulle omdat hulle sukkel.
Dalk was ’n maatjie lelik met hulle, of dalk was hulle lelik met hul boetie of sussie. Dit is soms net moeilik om ’n mamma te wees, maar dit is verseker die moeite werd. Die drukkie, die glimlag en die onvoorwaardelike liefde, maak alles altyd beter.
Mamma, Pappa, Ouma en Oupa, Jesus het jou kindjie spesiaal vir jou gegee. Hy het geweet jy het hom of haar nodig.
Daardie kindjie is spesiaal. Spreek lewe oor hulle. Bou hulle op en moet nooit ophou om hulle te vertel van Jesus nie. Jou kindjie sal okei wees, Jesus het ’n plan en toekoms beplan vir hulle en vir jou as ouer. Hou moed, kyk op en onthou, Niks is onmoontlik nie, want God gee vir ons krag. (Deur Charmaine Beneke)
Bo: Charmaine Beneke het verlede jaar haar kinderboek, Milka en Sebastiaan vrygestel. Die boek vertel die storie van Milka, ‘n piepklein muis wat in die 9-jarige Sebastiaan en sy familie se tuin woon. Sebastiaan is ’n hartseer klein seuntjie omdat hy baie eensaam voel, ten spyte daarvan dat hy alles het wat ’n seuntjie graag wil he, smag hy na ’n beste maatjie. Die dag toe hy vir Milka ontmoet, verander alles. Die boek is beskikbaar teen R200 per boek en sluit postgeld in. Bestel joune gerus deur 076 291 3706 te kontak. Beneke is ook besig met haar tweede boek oor die avonture van Milka en Sebastiaan. Foto verskaf
