Ottniel Baartman, ’n gebore Oudtshoorniet, is onlangs aangewys as bouler van die Betway SA T20-krieketreeks en is ook twee keer aangewys as speler van die wedstryd.
Baartman is reeds twee jaar deel van die Sunrisers Eastern Cape- asook die Dolphins krieketspan van Durban vanaf 2020. “2024 is een van my suksesvolste seisoene ooit,” vertel hy.
Baartman het aan Die Hoorn gesê dat hy vir sy ma, Maria Baartman, altyd baie dankbaar sal wees, omdat sy baie moes opoffer vir hom. Daarom is kwaliteittyd saam met sy familie vir hom baie belangrik, en probeer hy soveel moontlik tyd saam met hulle spandeer wanneer hy in Oudtshoorn is.
Hy het in Bridgton grootgeword, in ’n area wat bekend staan as die Lane. Dit is ook hier waar hy vir die eerste keer blootgestel is aan krieket, deur sy neef en rolmodel, Douglas Baartman, wie op ’n stadium vir die Union Stars Krieketklub gespeel het. “Ek en my vriende het gewoonlik Saterdae in die Plate (Bridgton Stadium) gaan kyk hoe hy krieket gespeel het. Daar was net iets omtrent krieket wat my aangetrek het”, sê hy.
Nadat hy sy matriek voltooi het, het hy klubkrieket gespeel en was deel van die Knights Krieketklub, waar hy vir ’n jaar kontrak geteken het. In 2020 word hy die eerste keer gekies vir die Protea-span om teen Pakistan te speel. Hy het Covid-19 opgedoen en kon nie verder deelneem nie. Hy is verlede jaar weer gekies as reserwe in die krieketreeks teen Indië.
Harde werk is die wagwoord vir sy sukses. Aan die jeug wil hy graag sê dat hulle gebruik moet maak van elke ge-leentheid wat op hulle pad kom en om doelgerig te bly. “Moet nooit opgee nie en moenie jou omstandighede blameer nie. Gaan voluit in als wat jy doen”, sê Baartman.
Dat Baartman wel ’n harde werker is, kan Lee Aries, een van sy voormalige opvoeders, verbonde aan Bridgton Sekondêre Skool, net beaam. “Ottniel was ’n paar jaar gelede ’n leerder aan Bridgton Sekondêre Skool en in een van my klasse.
Hy was ’n baie beskeie, hardwerkende en nederige mens en het nooit ander leerders afgekraak of probeer verneder nie. (Hy) het vir homself doelwitte gestel en altyd dit nagestreef, sonder dat hy ooit tou opgegooi het.
Hy is ’n ware ambassadeur vir ons skool en dra werklik die skool se slagspreuk op sy hart, “Facta, non verba”, vertaal as “Dade, nie woorde”. Hy is ’n man van min woorde, maar sy dade, veral op die krieketveld, spreek vanself. Hy is ’n ware Zibi-legende”, het Aries gesê.
Baartman is beslis ’n inspirasie vir talle jongmense en ’n reusetoonbeeld van sukses. (Deur Geraldine Amsterdam-America)
Baartman se harde werk bring sukses
Ottniel Baartman van Oudts-hoorn is ’n uitblinker krieketspeler wat sy sukses toeskryf aan harde werk en letterlik die “oog op die bal” hou om sy doelwitte te bereik. Dit is ook die advies wat hy vir die jeug gee, sodat hulle suksesvol kan wees en bo uitkom. Foto verskaf