Dit blyk dat troutradisies voortdurend verander en elke nou en dan is daar ’n nuwe tendens wat kop uitsteek, of wat reeds ’n geruime tyd plaasvind, maar tans meer gewild raak.
Een van hierdie tendense is dat baie paartjies nie meer net op ’n Saterdag trou aan mekaar beloof nie, maar op Vrydae en Sondae. Daar is immers net 52 Saterdae in ’n jaar waarop paartjies teen mekaar meeding vir hul spesiale datum.
Die tendens het my eendag lelik in die skande gesteek toe my vriendin op ’n Vrydag trou. Ons is mos maar uit die “ouer” garde met huwelike wat op Saterdae plaasvind het.
So ontvang ek die pragtige troukaartjie, neem kennis van die datum, waar in die maand die Saterdag homself bevind en maak my gebruiklike afsprake vir hare en naels. My uitrusting is ook mooi bymekaar in my geheue aanmekaar gesit. Afgehandel.
Op ’n Vrydagaand so net na 17:00 met ’n broeiende storm, trek ek my motor netjies in die motorhuis in, en maak my reg vir ’n heerlike rustige aand saam met my kinders, voor die groot dag en samesyn wat saam met huweliksklokke op ’n Saterdag lui.
My foon vibreer in my sak, dis die suster van die bruid.
Ek is nogal opgewonde en verbeel my hulle gaan my nooi om ’n draai by die bruid te maak voor haar groot dag.
Ek antwoord heel vrolik, en die Volgende woorde laat my yskoud. “Waar is jy?” vra sy.
“Ek is by die huis – hoekom?” antwoord ek. “Jy het die seremonie gemis, ons is nou by die saal,”
En net daar besef ek, die troue is Vrydag en nie Saterdag nie.
“Ek kom,” en soos blits word die kinders in die kar geboender, by skoonma nog so in die ry afgegooi, grimering stuk-stuk in die kar se truspieëltjie aangewen, ongewaste hare in ’n bolla opgedraai en haargel aangesmeer aan die los stukke wat wil uitval.
Binne 40 min is al die draaie gery, afgelaai, geld getrek, aangetrek, reggemaak en reg-gepluk wat reg gepluk kan word binne die beperkte tyd sodat jy darem skaflik vir ’n troue lyk.
My karretjie stop voor die saal buite Oudtshoorn waar die troue plaasvind. Hou ook net ingedagte dat ons ook op ’n plaas sowat 20 km buite die dorp gebly het in die teenoorgestelde rigting.
Ek sluip net betyds in en kruip agter ’n tafel weg toe die koek gesny word, en met die eerste dans sluip ek van skaduwee na skaduwee na my uitgesoekte sitplekkie.
Die troue was pragtig, my vriendin stralend en die kos heerlik. Ons dans en lag en geniet ons gate uit.
Die les om te leer – maak seker van die DAG en datum, want troues is nie net meer beskore vir Saterdae nie. (Deur Angelique Erasmus)
Maak seker oor die DAG!
Al was ek laat, was die onthaal heerlik gewees. Die serimonie moes maar later op foto’s gekyk word. Foto: Tristan van Wyk