PTA bied ondersteuning aan onderwysers

Bo van links staan Glen Snyman (stigter) Granwille Strydom, Hein Coetzee, Lucy Slinger, Cardo Coerecius, JamJam, Mervan Ewerts, Rubber Johnny, Pieter Safers en Leon Van Rooyen. Die PTA groep bestaan uit onderwysers, afgetrede onderwysers, en lede van die gemeenskap. Foto verskaf

Bekende Oudtshoorniet, Glen Snyman, tesame met ander onderwysers het die beweging “Pardoning Teachers Movement (PTA) op die been gebring.

Synman is die stigter van die PTA groep en ook ’n onderwyser by ’n skool in die Klein Karoo.
Die groep is gestig om onderwysers by te staan wat daagliks in oorvol klaskamers met kinders te doen kry wat swak gedrag en soms gewelddadig optree teenoor onderwysers.

Onderwysers het min tot geen dissiplinêre stappe wat hul mag toepas teenoor daardie kind nie.
“Onderwysers het amper geen regte nie, en kinders kom min oor wanneer hulle onderwysers aanval of aanrand.

Die onderwyser trek aan die kortste ent sou hulle waag om hulself te probeer beskerm of die kind keer,” sê hy.

Die naam van die beweging word afgelei vanaf die manier waarop klagtes en probleme hanteer word deur die Onderwysdepartement.

“Onderwysers moet daagliks enige kwade gevoelens, gedrag of kommentaar vanaf kinders teenoor hulle vergewe, maar wanneer die onderwyser dalk uit die lyn trap, is die onderwysdepartement traag om dieselfde vergifnis te betoon,” vertel Snyman.

“Ons is ’n groep onderwysers wat bymekaar gekom het om idees en ervarings in die klaskamer met mekaar uit te ruil oor en hoe om die probleme rakende leerderdissipline op te los”, voeg hy by.

Hulle beoog om gereeld vergade-rings te hou, hulpbronne oor leerder dissipline met mekaar te deel via hul webtuiste asook met afgetrede onderwysers en lede van die publiek te skakel vir hulp, en sodoende oplos-sings vind wat vir almal voordelig sal wees, sowel as verhoed dat onderwysers of leerders se regte geskend word.

Snyman sê ook dat dit nou belang-riker as ooit is om onderwysers te ondersteun, veral nadat die staat die nuwe Bela Wet wil instel.

Geweld neem nie net in die samelewing toe nie, maar ook in skole. Snyman verwys hier na die onlangse geval waar ’n 13-jarige graad-6 leerder van Primrose Primêr in Johannesburg op 16 Februarie sy skoolhoof gewond het, nadat hy hom in sy kantoor geskiet het.

“As ’n skoolhoof nie eers meer veilig is in ’n geslote kantoor met toegangsbeheer nie, hoeveel te meer die kwesbare onderwysers wat daagliks voor 40-plus leerders moet staan”.

Belangstellendes kan vir Snyman kontak by 072 3424 926 of stuur ’n e-pos na glensnyman1@gmail.com. Besoek ook gerus hul webwerf www.teachersrights.co.za. (Deur Angelique Erasmus & Lindi Brill)