Sy veldskoen haak aan die sementblok wat skuins oor die sypaadjie hang. Waarom dra hy veldskoene in die stad? Het hierdie land dan so gevaarlik geword? Waarom is hy enigsins in die stad? Wat maak hy hier? Rondom hom hang die reuk van ou sonneblomolie in die lug.
Die geraas van motors en taxi’s knaag aan sy binnekant. Sirenes loei êrens … op pad na ’n hartseertoneel. Sy mond is droog. Sy tong plak-plak teen sy verhemelte vas. Hy proe nog gisteraand se herinneringe.
Die vlekke op sy linkerkantse veldskoen is nuut, dink hy. Voor hom toring die geboue verwelkomend uit! Groot inslukdeure blink in die son vol beloftes en probleme. Dit voel asof hy op aandag staan, maar dan besef hy dat sy hemp uithang.
Hy trek sy maag in en vryf oudergewoonte die inknoop hemp agter sy belt in. Netjies. Hy glip oor die besige straat met lang tree. Sy oog vang die oorvol sement asdrom op die hoek. Die middeljarige besigheidsman met sy vinger op die verkeerslig se knoppie. Hy wonder of hy weet dat die knoppie geen uitwerking op die verkeerslig het nie. Net op hom. Vir ’n oomblik voel hy slim, maar die refleksie in die rykmansgebou se ruit reguleer sy emosies.
Voor hom sien hy hoe ’n herfsblaar homself akrobaties orent hou. Hy hou van blare. Dit laat hom vir ’n oomblik honger voel. ’n Vegetariese dieet was die laaste ruk sy redding. Baie makliker om in die hande te kry as wat hy gedink het.
Hy is lus om sy bo-knoop toe te knoop. ’n Plek vir ’n das. Maar vandag voel hy nie lus om sonder ’n das met ’n toegeknoopte bo-knoop in die publiek te wees nie. Hy word egter raakgesien deur soveel belangrike mense. Mense wat hulself belangrik ag. Mense met pakke (en dasse), nuutont-werpte rugsakke met skootrekenaars daarin. Moderne selfone met draadlose oorfone.
Blinkgepoetsde skoene. Soms sien hy selfs denims met netjiese hemde, ingesteek agter netjiese leerbelde en…veldskoene. Hy laat die idee van sy bo-knoop eers. Hy steek oudergewoonte sy hand in sy sak en tas na niks.
Vandat die “cloud” alles oorgeneem het, dra hy nie veel meer besittings by hom nie. Hy voel weer slim, maar die weerkaatsing in die verbygaande luukse sportmotor reguleer sy emosies.
Hy ruik meteens die geur van varsgemaalde koffiebone. Hy sien hoe die maroenkleurige winkeldeure oopswaai en die reuk word sterker. Pakke en dasse stroom soos skape by die deur in.
Hy is deesdae lig op kafeïen . vandat die opskrifte in die glanstydskrifte die newe-effekte verkondig hou hy maar verby. Dalk ’n bitter klein slukkie van dit wat op die bodem van ’n nie-herwinbare koppie agterbly.
Dit les gewoonlik sy dors vir geweekte koffiebone. Een van die dasse haal ’n driehoekpakkie uit ’n plastieksak. Pluk dit oop soos ’n selfoon uit die jare negentigs. Hak met sy wysvinger ’n driehoekbroodjie uit en neem skewekop ’n groot hap. Alhoewel hy ’n groot liefhebber van driehoekbroodjies is, het hy sy laaste een geëet by die onthaal na die begrafnis.
Die oorledene se naam ontgaan hom. Stysel, lees hy in die gesondheidstydskrifte en koerantbylae, is glo sleg vir jou. Hy voel vir ’n oomblik vlugtig intelligent, maar sy weerkaatsing in ’n groot sonbril van voor reguleer sy emosies.
Hy vryf met sy hand oor sy kaal arm. Daar waar ’n spoggerige horlosie op ander se arms hang, hang sy oopgeknoopte hempsmou. Hy vou dit stelselmatig, versigtig en perfek terug. Drie oorvoue, vryf dan sy duim onder die laaste vou in en stryk die mou in ’n perfekgevoude materiaalring om sy arm net bo sy elmboog plat. Knoop na buite. Netjies. Hy sien nie die klein rafeltjie wat wegkruip agter die knoop nie, niemand sien dit nie. Vandat almal se nuutgekontrakteerde selfone die presiese tyd met die hulp van ’n internetkonneksie aandui, het hy geen nut meer vir ’n swaar boei om sy arm nie.
Die klein glimlag in die hoek van sy mond ver-klap sy oombliklike gevoel van wysheid, maar die weerkaatsing van die pragfontein in die middel van die besigheidspark onderdruk sy oomblik van insig.
Die fontein het deesdae baie minder munstukke in. Vandat mense minder nut vir kontant en munte het en eerder hul geld in die lug gooi as in die water, sien hy baie minder roesmerke op die bodem van die adellike fontein. Die Victoriaanse beeld kyk af tot in sy oë. Hy voel ’n konneksie. Hy vee sy klam hand teen sy broekspyp droog en stap vir ’n oomblik meer doelgerig na die verste hoek van die besigheidspark.
Sy veldskoen trap die gladgetrapte kraak in die sypaadjie mis. Hy gly in die pad op. Swaai links by die drankwinkel in en plons die nat munte op die deurgeskuurde toonbank neer. Die bottel is yskoud in sy hand en die inhoud gly vrylik in sy keelgat af. Hy skuifel om die hoek en skuur by die halfoopgetrekte hek in. Onder die afdakkie lê ’n hoop verfrommelde vuil tydskrifte en geelgevlekte koerantpapiere. Vier tydskrifte op mekaar word ‘n gemaklike kussing. Die koerantpapier trek hy oor sy borskas. Sy oog vang ’n insetsel “Resessie wink, brandstofpryse styg, voedseltekorte straks ons voorland.” Vir ’n oomblik voel hy slim…
Kortverhaal: Slim
Deur Johnny Malgas