Kortverhaal: Lemoensap

Deur Johnny Malgas

Lemoensap? Waarom sou hy vanoggend lemoensap in sy yskas hê? Hy maak die yskas deur toe en loer oor sy skouer. Hy hoor hoe die stort se kraan oopgedraai word. Hy hoor hoe die ketel kook. En dan onthou hy… Alles!

Hy leun teen die dik wit pilaar van die Ou Hoofgebou. Kry ’n bitter smaak van die sigaret in sy hand. Dit is nie syne nie. Dit is hare. Hy het net ’n teug gevat om te wys dat hy ook cool is. Nou is sy mond droog en sy kop draai effens.

Hy soek na woorde maar daar is net stilte. Hy kyk in haar rigting en sy glimlag en 8 jaar later staan hulle voor die kansel.

Hy vee die sweet van sy voorkop af. Die dominee praat lank. Hy kyk haar stip in die oë en alles voel reg. Alles is reg.

Hy kom moeg van die werk af. Plons op die rusbank neer. Hoor hoe sy stilletjies die vertrek binnesluip. Sy kom sit op sy skoot en kyk regdeur hom in die toekoms in. Sy vryf sy arm en plaas die swangerskapstoets liggies in sy hand.

Die trane begin spontaan loop. Hulle hou mekaar styf vas. In die agtergrond speel daar êrens musiek!

Haar hospitaalkamer in die Mediclinic is privaat. Kon hulle so gelukkig wees? Sy is ’n dag voor die keiser reeds ingeboek. Sy hou daarvan om rustig te wees met haar mense naby haar. Yana, haar suster, loer van die deur af met ’n bree glimlag toe hy uitstap oppad na die koeldrank masjien.

“Wil jy ook iets hê om te drink?” Sy wink. Hy loer terug na hospitaalbed. Haar hande inmekaar gevleg. Doodgelukkig. “Ek kom groet jou nou-nou op ons manier.” Sy glimlag en ’n diamant smelt teen haar wang af.

“Meneer.” Hy wonder hoekom die dokter hom eweskielik as meneer aanspreek. Die konneksie is swak. Hy stap tot in die gang, maak sy kantoordeur toe. “Hello?” Hy sukkel om die presiese woorde oor die telefoon uit te maak. Maar hy haas homself na die hospitaal. Deur die venster kan hy die mooiste babatjie in die glaskas gewaar. Kriewelrig, perfek.

Die dokter vind hom in die gang oppad na haar kamer.

“Ek is jammer meneer.”

“Meneer? Waarom meneer?”

“Daar was komplikasies…”

“Komplikasies?”

“Ons hou haar op die oomblik in ’n medies geïnduseerde koma. Ons glo alles sal goed uitwerk…”

Hy het diep binne geweet dat die trooswoorde net dit sou wees. Niks anders as leë klanke wat hartseer teen jou afdrup nie.

Twee maande later is sy steeds in die diepste slaap moontlik vasgevang. Sy eie Slapende Skoonheid. Maar maak nie saak hoeveel keer hy haar soen nie. Haar oë bly roerloos toe.

“Al die tekens lyk goed meneer. Ons moet net geduldig wees.” Hy stap in die lang gang af. Hy ken al die portrette en kennisgewings uit sy kop uit.

Buite wag Yana in die motor. Sy wil nie meer saam instap nie. Vir die laaste twee maande was sy sy regterhand.

Watter man neem ’n pap babatjie na drie dae uit die hospitaal en maak hom alleen groot? Sonder haar was hy verlore.

Maand drie. Besoek 74. Hy soen sy Slapende Skoonheid op haar voorkop en haar ooglede roer.
“Suster! Hier gebeur iets!”

Bloed jaag deur sy are en druk sy traankliere leeg teen sy wang af. Hy hou haar hand styf vas.

Kyk haar stip in haar donker diep bedwelmde oë. Sy staar terug, maar sien hom nie.

Sy herken nie die beeld wat voor haar sit met trane in sy oë nie. Sy voel sy hande wat hare vasklou, maar sy ken nie die vreemde vel wat haar aanraak nie.

Hy kan voel dat hy as vreemdeling voor haar sit. Haar oë word vlak en leeg. “Dit is normaal meneer.

Haar geheue sal stelselmatig terugkeer.” Maar dit het nie.

Die seremonie was bitter klein. Nie werklik intiem nie. Sy was nie daar nie.

Yana het voor hom gestaan met gedisiplineerde trane in haar oë toe hy die ring oor haar vinger glip. Hulle het mekaar gesoen en die ont-haal was ’n eenvoudige ete en ’n paar glase rooiwyn.

Hulle was gelukkig. Sy dogtertjie het vir Yana mamma genoem. En dit was reg so. Dis wat hy wou hê.

Hy en Yana ry nog elke Sondag, partykeer ry hy alleen, om haar te besoek. Soos gewoonlik sal sy voor die ruit staan en voor haar uitstaar. Haar oë wit en kalm. Maar so so leeg.

Hy sal op die punt van haar bed gaan sit en geselsies probeer maak. Soos mens geselsies met ’n muur probeer maak.

Wanneer Yana nie by is nie, sal hy sy hande op haar skouers plaas totdat sy weg-ruk. Hy sal haar dan lank na haar kyk en huil.

Dis Sondag. Hy staan voor die deur met ’n gekraakte noodglasie. Hy sien haar deur die krakies.
Yana wou nie vandag saam nie. Hy druk die deur oop. Stap tot by haar en plaas sy hande op haar skouers.

Sy ruk nie weg nie. Eers toe tref die welbekende reuk van ’n sigaret hom reg voor die bors. Hy neem die sigaret uit haar vingers en neem ’n teug net om te probeer cool lyk. Op die bedkassie staan ’n glas lemoensap…