Koffie by Wynand Claassen

Dr Danie Craven het Wynand Claassen se Springbokbaadjie en die tradisonele kepsie na sy eerste toets teen Ierland in 1981 aan hom oorhandig. Foto: More than just Rugby

Ek hou stil met die klein huurmotortjie voor die statige, groot gastehuis in Brooklyn, Pretoria. Brooklyn met sy pragtige lanings groot, ou Jakarandabome wat in Oktober ’n natuurlike skouspel is met die strate wat letterlik in pers blomtonnels verander. Selfs die pad is oortrek met ’n kombers van pers blommetjies.

Vir die ouens wat nie die area ken nie, Brooklyn is ’n voorstad daar teen die Tukkiekampus en die Jakarandatyd in Pretoria se pragtige lente is simbolies deel van die aanloop tot eksamentyd aan die einde van elke jaar. As jy op Tukkies studeer het, weet jy hiervan en onthou jy dit met groot deernis. Dit is pragtig.

Nou ja, vandag kyk ek nie blomme nie – ek kom sien vir Wynand Claassen. Argitek, Springbokkaptein, agsteman van Noord-Transvaal en Natal vir ’n rukkie.

Van sy studentedae af al kontroversieël en uitgesproke.

Ek sit ek kyk vir die rankplant teen die wit muur en my gedagtes sweef summier dekades terug. Tot in 1977 om die waarheid te sê.

Op ons rugbytoer Boland- en Kaap toe in 1977 het ons uiteindelik in Stellenbosch aangekom om die intervarsity op Coetzenburg by te woon. Min het ons geweet dat dit die laaste keer ooit sou wees dat ’n Tukkiespan op die geskiedkundige veld sou speel. Tukkies is die dag aangevoer deur ’n jong argitektuurstudent en baie belowende en “nuwe generasie” agtsteman wat opgang gemaak het in die laat sewentigerjare.
– Wynand Claassen.

Tukkies het die wedstryd die dag 23-14 verloor wat natuurlik vir ’n klomp Tukkies wat so vêr gekom baie pynlik was. Ek onthou dat die skeidsregter Steve Strydom te stadig en beswaard was om ’n drie wat my ou vriend Ewoud Malan gedruk het nie toe te ken nie. Ewoud het drie jaar later die groen en goud oor sy kop getrek teen die Britse Leeus van Bill Beaumont in 1980. Terloops, ek dink ou Bill is nou nog suurgat oor die 3-1 reeksnederlaag teen die Bokke daai jaar. Ek en Ewoud het later in 1990 of so vir Harlequins se oumanspan – die Madalas – uitgedraf. Groot pret.

My en Wynand se paaie het weer gekruis in die vroeë 2000’s toe ek weer by Tukkies betrokke was vir ’n paar jaar en Wynand ‘n baie aktiewe rol by die rugby-ondersteunersklub gespeel het. Hy is nog altyd ’n altyd ’n baie groot Tukkie en ’n ou se alma mater bly maar in jou bloed. Daar is gereeld Vrydaemiddae by die rugbyklubhuis langs LC de Villiers ’n gasspreker oor rugbydinge uitgenooi, en natuurlik het ’n stampvol lokaal met manne wat kuier dat dit vrek dit ’n lekker middag gemaak. Lekker tye.

Wynand het ’n paar boeke oor sy loopbaan geskryf en ek wou graag hê hy moes sy boeke vir my teken. Ek het sy boeke gelees en kan net sê hy het ’n ongelooflike geheue. Hy ont-hou dinge en gebeurtenisse in die grootste detail. Baie indrukwekkend. Ek het hom gekontak en ons het afgespreek om te ontmoet by hulle huis in Brooklyn.

So, hier is ek uiteindelik.
Die hele plek straal verfyndheid en styl uit – presies wat ek sou verwag van ’n argitek en kunstenaar se woonplek. Ons gesels oor die ou dae en sy onverwagse beskrywing van ’n klomp kwessies waar rugbypolitiek in daardie dae al bepalend in baie rugbysituasies was. Hy was die Springbokkaptein van een van die beste toergroepe ooit op die baie moeilike toer in 1981 (en laaste vir ’n baie lang tyd) na Nieu-Seeland. Ek onthou baie goed hoe ons baie vroeg moes opstaan om van die wedstryde te kyk. Dit was turbulente tye in Suid-Afrika en almal het regtig uitgesien na ‘n lekker toer in die land van die silwervaring. Om die bokkaptein te wees met outydse hardekoppe soos Prof Johan Claassen en afrigter Nelie Smith moes maar taai gewees het.

Sy outobiografie beskryf die gebeure op die toer baie reguit en op die man af – selfs om hom uit die span te hou as kaptein op ’n stadium. So tipies. Sy eerlikheid en integriteit kos hom natuurlik daarna … en kos hom uiteindelik sy plek as nasionale keurder. Dis jammer, maar soos ek vir hom gesê het; as dit maklik was kon enige ou dit doen. Hy het ten spyte daarvan ’n groot man gebly, ’n man van statuur. Springbokkaptein. Yster.

Ek is daar weg, koppies koud en my boeke geteken en dankbaar – ’n ryker mens. ’n Interessante oggend in Pretoria inderdaad. Ek dink aan die teenstand teen sy waarheidspreke. Dis nou maar een maal so … “A good deed seldom goes unpunished.”