Briewe van lesers: 8 Junie 2023

Ons land val uitmekaar

Ons land is besig om uitmekaar te val, tot niet te gaan.

Ons kla onder mekaar by die werksplek, rond-om braaivleisvure en selfs by die Kerk, maar daar gebeur niks.

Ons kinders en baie volwassenes vlug met hul gesinne oorsee terwille van oorlewing.

Die meeste van hulle is hoogs gekwalifiseerde professionele mense….die room van die bevolking. Kan ons dit bekostig?

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Hitler in sy bunker gaan wegkruip terwyl sy land aan die brand was…”und der fürer shlaft nog immer…”.

Die leier slaap nog altyd. Hier by ons leef die Owerheid en die leier ook in ontkenning terwyl die skip onvermydelik aan die sink is.

Metropole se burgemeesters misluk een na die ander, met of sonder rede, of word (moedswillig) deur ’n mosie van wantroue uitgeskop.

Die grootste hartseer is dat ons kerke swyg soos die graf…. dit is soos ek dit ervaar.

Daar was tye in die verlede toe ons kerke tydens erge droogtes biddae vir reën gehou het – meestal met positiewe gevolge.

Kan ons nie maar asseblief ’n landswye dag van verootmoediging reël, oor alle gelowe en kleurgrense heen, ons skuld voor God bely en saam as gelowiges ’n poging aanwend om met die hulp van God Almagtig, ons land te red nie?

Ek doen ’n ernstige beroep op ons kerke want die politici of die staat gaan dit beslis nie doen of regkry nie. Kom ons stel ons vertroue in God Almagtig.

Hy sal ons nie terleurstel as ons met opregte afhanklikheid en diepe berou ons skuld voor hom bely nie. Asseblief!

Ek groet elkeen in die naam van Jesus ons Verlosser en Vriend.
– Pieter