DIE afgelope ruk sien ek baie mense vra of die persone wat tans die koopkragmeters opdateer “legit” is.
Ek het met hierdie beamptes gesels om te hoor hoe dit gaan met die projek. Van die grootste struikelblokke wat die beamptes ervaar is dat inwoners hulle nie wil toelaat om hul werk te verrig nie en baie nie verstaan waarom hulle meters opgegradeer moet word nie. Dit noop my toe om so bietjie te gaan delf wat die probleem met die meters is.
Toe die koopkragmeters ontwikkel is, het die ontwikkelaars die sagteware so ontwerp dat daar ’n vervaldatum in die meters ingebou is.
Koopkragmeters werk só – verbruikers koop krag en ontvang dan ’n 20-syfer “token”, wat outomaties deur die stelsel genereer word. Gebruikers druk dan die kode in hulle koopkragmeters wat dan die hoeveelheid eenhede wat gekoop is op die meter laai.
Daar was twee groot struikelblokke wat die ontwikkelaars moes oorkom. Die kode moet uniek wees sodat daar nie bedrog kan plaasvind nie en dan moes die kode ook net eenkeer gebruik kan word. Die ontwikkelaars het toe ’n tydgebaseerde meganisme ontwikkel om hierdie aspekte op te los. Elke token is dus gekoppel aan die minuut wanneer die koopkrag gekoop word.
Dit is waar die probleem nou inkom. Die meters kan net ’n sekere hoeveelheid syfers hanteer wat die hoeveelheid tokens wat gegenereer word beperk. Die ontwikkelaars het 1 Januarie 1993 gebruik as die begindatum van die koopkragstelsel.
Die aantal tokens gaan op 24 November 2024 uitgeput wees.
Indien jou koopkragmeter nie opgegradeer is teen 24 November 2024 nie, gaan jy nie jou nuwe aankope kan intik op jou meter nie en mag jy sonder krag sit totdat jou meter opgegradeer word. Die koopkragmeterprobleem is nie net beperk tot Oudtshoorn of Suid-Afrika nie, maar dit raak ongeveer 100 lande. Gelukkig het ons munisipaliteit vroegtydig begin om al ons meters op te gradeer.
U kan gerus die volgende nommers skakel om ’n tyd te reël om u meter te laat opgradeer. – 044 203 3092 of 044 203 3072. (Deur Heinrich Bosman)
Gradeer jou kragmeter op voordat dit te laat is
