Klein Karoo is dikwels ’n blomparadys

Die Klein Karoo-blomme en plante is (bo van links) poprosies, knopies, sonsakvygie en kankerbos en karooviooltjies.

Een van die hoogtepunte oor die afgelope 21 jaar wat Die Hoorn op Oudtshoorn gepubliseer en in die Klein Karoo versprei word, was die rubrieke wat inwoners, almal kenners in hul eie reg, vir Die Hoorn geskryf het. Ons bring vandeesweek – hier aan die begin van blomtyd in die Klein Karoo – hulde aan Louis Jordaan wat met sy wye ervaring van die streek se veldplante talle besonderse rubrieke geskryf het. Hier is een van sy ou rubrieke – sodat ons almal weer kan onthou.

SPEKBOOM, worsies, broodbos, botterboom, papkuil, melkbos, lidjiestee – die ontbythoekie in ’n groentetuin, reg? Allermins!

Slangkop, varkstert, olifantvoet, bobbejaanoor, haasstertjie, beestong, volstruisnek, muistepel, koggelmandervoet – liggaamsdele van diere, nie waar nie? Weer verkeerd!

Dan is daar nog ons diere se kos: haaskos, skilpadkos, volstruiskos en bokkos.

Hierdie is die name van letterlik net ’n paar van die duisternis van plante in die Klein Karoo.

Die Klein Karoo huisves ’n verstommende diversiteit van plante in die Klein Karoo (ongeveer 3200 spesies). Hoekom?

Die Klein Karoo, ’n halfwoestyngebied, is ’n oorgangsgebied tussen die westelike winterreëngebied en die oostelike somerreëngebied en kry dus beide winter- en somerreën. Die gebied strek van Montagu in die weste tot by Uniondale in die ooste en van die kruin van die Swartbergreeks in die noorde tot op die kruin van die Oute­niqua- en Langebergreeks in die suide. In die gebied oorvleuel drie biome (plantegroeistreke) wat internasionale brandpunte van biodiversiteit is, naamlik die Vetplantkaroobioom, die Fynbosbioom en die subtropiese Ruigtewoudbioom. ’n Brandpunt (“hotspot”) is ’n gebied wat besonder ryk is aan biodiversiteit, maar wat tot ’n groot mate deur mense verniel is en bedreig word. Hier kom ook sommige van die Nama-Karoo-bioom (Groot Karoo) se plante voor.

’n Vraag wat dikwels gevra word, is wanneer dit die beste tyd is om die Klein Karoo te besoek, bedoelende wanneer dit die beste tyd is om te kom blomme kyk. Ons ou mensdom dink nou maar eenmaal dat as daar nie massas blomme of troppe groot diere te sien is nie, daar niks is in die veld nie.

Iemand wat ’n ruk gelede Gamkaskloof besoek het, sê vir my dat dit die mees “overrated” plek is wat hy nog besoek het! Ek vra hom toe of hy darem opgelet het hoedat die plantegroei voortdurend verander vandat hy Oudtshoorn verlaat het tot in Gamkaskloof, en of hy gesien het watter groot verskeidenheid plante op die roete aangetref word. Sy antwoord: “Ek ry nie soontoe om na plantjies te kyk nie!”

Die beste tyd om die Klein Karoo se veld te besoek?

Die kort antwoord is enige tyd.

Jy moet besluit wat jy wil sien!

Die tydperk waartydens die meeste plante blom, is vanaf Augustus tot Oktober/November, hoewel daar in ’n normale jaar feitlik heeljaar blomme is. Party plantsoorte blom wanneer dit genoeg gereën het, ongeag die seisoen. Ander het weer min of meer ’n vaste blomtyd. Moet egter asseblief nie teen 120km/h op die R62 voortsnel en dan sê dat daar géén blomme is nie! Soms moet ’n mens maar rustig word en soos ’n kindjie kyk: handeviervoet en van naby. Knopies en toontjies laat hulle immers nie so maklik uitkyk nie! Gaan gerus saam met iemand wat weet waar om te kyk en kan herken wat hy/sy sien.

Blomme is natuurlik nie al wat interessant is aan die plante nie. Hoogsomer wanneer blomme normaalweg skaars is en die plante hoë temperature en droogte moet trotseer, sien ’n mens al die vindingryke oorle-wingstrategieë van die plante in aksie. So word dit duidelik waarom hier so baie soorte vetplante is, waarom feitlik al die bossies klein blaartjies het, ens. Dan het ek nog nie eers begin vertel van die plante se arsenaal “wapens” wat hulle inspan teen diere wat hulle wil vreet of beskadig nie. Van die verdedigingsmeganismes is so subtiel dat ’n mens mooi moet kyk en hard moet dink om te besef wat nou eintlik aan die gang is!

Feëklokkies, bobbejaantjie, skaamtone, katjiedrie­blaar, eendjie, gansies, waterglasie, pronkvygie, baardrosie, koesnaatjie – pragtige name, nè? Mooi en gepas soos die name is, is dit egter nie naastenby so indrukwekkend soos die plante self nie. Kom kyk gerus!

• Interessante feite:
Dié pragtige Klein Karoo is ook ’n kernarea van diversiteit van reptiele en ongewerweldes en spog met meer as 250 voëlsoorte wat al hier aangeteken is – nie sleg vir ’n droë plek nie, of hoe? (Deur Louis Jordaan)