DIE Oudtshoorn Polisiekantoor se naam is prominent in ’n verslag van die Wes-Kaapse regering oor polisie-ondoeltreffendheid in die die provinsie wat daartoe gelei het dat 198 hofsake wat tussen 1 April en 30 Junie voor die hof was, teruggetrek moes word.
Luidens die verslag wat deur die Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, Reagen Allen, vrygestel is, is die hofsake teruggetrek omdat polisiedossiere nie by die hof was nie of polisieondersoeke onvolledig was.
“Dit is 198 sake wat nooit deur die wet getoets sal word nie, 198 beweerde misdade waar die oortreders eenvoudig vry sal loop, en ’n reeks slagoffers wat nooit geregtigheid sal sien geskied nie. Dit is op sigself krimineel,” sê Allen.
Die verslag is gegrond op statistiek uit die kwartaallikse verslag van ’n eenheid in die Departement van Gemeenskapsveiligheid verantwoordelik vir polisietoesig.
Die vyf polisiekantore wat verantwoordelik was vir 48,2% van die 85 sake wat teruggetrek is nadat dossiere nie by die hof was nie, is Beaufort-Wes (16), Oudtshoorn (10), Lingelethu-Wes (8), Kuilsrivier (4) en Knysna (3).
Oudtshoorn is eerste onder die vyf polisiekantore waar onvolledige ondersoeke verantwoordelik was vir 52,5% van die totale 80 sake wat teruggetrek is: Oudtshoorn (13), Laingsburg (12), Citrusdal (7), Beaufort-Wes (6), Manenberg (4).
“Ek is regtig kwaad oor hierdie statistiek,” het Allen gesê, “veral omdat dit nie net blote hofsake is nie, maar werklike mense wat deur misdaad geraak is. My hart bloei vir die individue wat hul vertroue in die SAPD en die regstelsel plaas, sodat wie ook al oortree het, aanspreeklik gehou sal word en die nodige vonnis ontvang. Die enigste manier waarop algehele geloof en vertroue in die polisie herstel kan word, is as ons SAPD-beamptes en speurders bemagtig word met die toepaslike hulpbronne en gereedskap, nodige vaardighede en die regte houding om hul sake deur te sien.”
Allen het aangedui dat hy die betrokke polisiekantore gaan besoek en by hulle sal staan totdat die polisiebestuur hulle help om hul kwessies uit te sorteer. Die inwoners van hierdie gebiede, en trouens alle inwoners, verdien ’n polisiediens wat sal verseker dat misdaad verminder word en dat geregtigheid geskied wanneer dit plaasvind.”
“Ek is ook woedend dat ek in Vrouemaand ’n verslag ontvang het wat sê dat geslagsgebaseerde geweldsake (GBV) 18,2% (36) van die 198 gevalle wat gemoniteer is, uitmaak.
“Dit is ’n droewige mislukking van die SAPD ten opsigte van een van die grootste kwessies wat ons samelewing vandag teister.
“Dit is geen wonder dat vroue nie misdade van hierdie aard wil aanmeld nie – hul sake is dood in die water in die SAPD se hande.”
Allen sê hoewel hy bewus is van probleme met hulpbronne en veral ’n ernstige gebrek aan speurders, kan dit nie aanvaarbaar wees dat mense op hierdie manier gefaal word nie en moet die SAPD-bestuur dit dringend aanspreek.
“Ons moet beter doen, en ek wil hê die SAPD op stasievlak en in die Wes-Kaap moet weet dat ons sal aanhou om vir hulle te veg, maar hulle moet nie ophou veg vir die beskerming van ons inwoners nie.”
Allen het ook verwys na onvoldoende infrastruktuur in die streek en onder-neem om daaroor aan die nasionale minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, te skryf. “Ek sal mettertyd na die gebied terugkeer om vordering in bogenoemde sake op te volg.
“Ons is ingelig hoe misdadigers van die Metro die kleiner dorpe wil infiltreer, wat ons nie kan toelaat nie – dié dorpe moet oor die hulpbronne en polisiedienste beskik om hul dorpe veilig te hou.
“Ek wil graag vrywilligers in verskeie gemeenskappe regoor hierdie gebiede prys vir hul opstand teen hierdie misdadige elemente.” (Deur Liesel le Roux)
Kommer na plaaslike polisie se naam ook verskyn in verslag oor ondoeltreffendheid
Reagan Allen, Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid en polisietoesig. Foto: Wes-Kaap Regering