’N SPESIALE raadsvergadering van die Groter Oudtshoorn munisipale raad verlede Woensdag (10 Augustus) het rustig verloop met raadslede wat op die oog af vasberade lyk om die dorp se administrasie te verbeter, in plaas daarvan om onder mekaar te stry.
Van die hoofbesprekingspunte was die huidige oponthoud vir die voltooiing van die Blossomsnoodwaterpyplyn; die aanstelling van ’n waarnemende direkteur vir beplanning en ontwikkeling; en die opening van die curio-winkel by die Kango Grotte in die lig van meer besoekers wat nou die Grotte besoek.
Blossomsnoodwaterpyplyn
Die Hoorn berig reeds jare oor die Blossomsnoodwaterpyplyn. Op 6 Julie vanjaar het die munisipale raad goedkeuring verleen dat ’n ooreenkoms met die twee grondeienaars oor wie se eiendom die grootste gedeelte van die Blossoms-pyplyn loop, gesluit kan word.
Die ooreenkoms het gevolg ná talle gesprekke die afgelope paar jaar tussen die grondeienaars en die munisipaliteit.
Tydens die raadsvergadering op 10 Augustus is die nuutste verwikkelings in die oponthoud van die projek se voltooiing bespreek, ’n punt wat deur Walter Hendricks, waarnemende munisipale bestuurder, op die agenda geplaas is.
Volgens inligting voor die raad het die Gerrie Ferreira Trust nou met verdere voorwaardes na die munisipaliteit gekom om die konstruksie van die pyplyn op dié trust se grond toe te laat en versoek dié trust nou ook verdere betaling/vergoeding vir die maande van konstruksie. ’n Bedrag van R7 000 per dag vir die periode van konstruksie is genoem.
Volgens berekinge van die munisipaliteit sal die bouwerk op die stuk grond – wat deur die eienaar as wildkampe gebruik word – byna drie maande neem, en hou dit in dat die trust byna R600 000 eis vir “verlore inkomste” omdat toeriste nie tydens die bouwerk daar toegelaat sal kan word nie.
Chris Macpherson (DA), burgemeester van die Groter Oudtshoorn, het in die vergadering die trust se versoek bevraagteken. Hy het die versoek as buitensporig bestempel en gesê die munisipaliteit kan nie verwag dat belastingbetalers hiervoor sal moet pa staan nie.
Macpherson het voorgestel dat ’n komitee onmiddelik op die been gebring moet word om die trust se versoek te ondersoek.
Raadslid Abraham Tiemie (ANC), het soos die ander raadslede, die voorstel ondersteun.
“Ons kan nie vir spooktoeriste betaal nie. Daar moet ondersoek ingestel word,” het hy gesê. Die raad het eenparig besluit om die trust se versoek te ondersoek, en dat as dit nodig is, die hof ’n besluit oor die kwessie te laat neem.
Die ander grondeienaars oor wie se eiendom die pyplyn loop, het reeds verlede jaar toestemming daarvoor gegee.
Departement beplanning en ontwikkeling
Die aanstelling van ’n waarnemende direkteur, in die departement beplanning en ontwikkeling is tydens die vergadering aangekondig, met Louis Booysen wat in Lluwellyn Coetzee se plek aangestel is. Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, is Coetzee gehospitaliseer nadat hy ’n dringende operasie moes ondergaan, en sal hy vir die volgende ses weke met siekverlof wees.
Booysen is aangestel vir hierdie tydperk.
“Die proses vir die vul van die pos is deur die Raad goedgekeur en sal eersdaags adverteer word,” het sy bygevoeg.
Curio-winkel
Alison Moos, waarnemende bestuurder van die Kango Grotte, het aan die raad gesê besoekersgetalle by die Grotte neem tans toe, en dat daar buiten die Grotte self en die restaurant wat onlangs weer sy deure geopen het, geen ander lokpunt vir toeriste is nie. Sy het gesê dat die geslote deure van die curio-winkel beslis ’n impak het op die inkomste wat by die Grotte gegenereer word, en dat dit nét tot voordeel van die Grotte sal wees indien dié winkel weer kon oopmaak. Die raad het eenparig ingestem om die proses vir die opening van die winkel onmiddelik te begin, met die voorwaarde dat die winkel se deure mie later as 1 Oktober moet open nie, maar eerder vroeër. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Raad hoor grondeienaar het nog voorwaardes vir lê van Blossomspyplyn oor grond
Die Groter Oudtshoorn munisipale raad tydens ’n vorige vergadering.
Foto: Stefan Skapie Goosen