Ons beleef voortdurend uitdagende tye. Tog behoort God se kinders te midde van uitdagings, bekommernisse, vrese en onsekerheid, vir ander ’n voorbeeld te wees van hoe ’n standvastige mens hulself deur hierdie dinge navigeer deur die leiding van die Heilige Gees.
Ek wil iets in hierdie verband baie sterk beklemtoon: Sonder die leiding van die Heilige Gees, gaan jy die toets van hierdie tye ongelukkig nie deurstaan nie. Mense wat hulleself nie deur God se Heilige Gees laat lei nie, gaan vasbrand. Kies vandag om die Heilige Gees se leiding in jou lewe toe te laat. Vra daarvoor en bly naby aan die Here!
Saam met dit is daar verskeie dinge wat God se kinders prakties behoort te doen en te verstaan om staande te bly en sodoende die Heilige Gees toe te laat om jou te rig in wysheid, insig, vrede, waarheid asook alles anders wat Hy belowe het Hy sal doen:
Bid:
Gebed sal jou deur die moeilikste tye bring.
Om God te vertrou in moeilike tye verg gebed en natuurlik geloof dat Hy sal doen wat Hy sê. God sal Sy beloftes nakom. Hy wag bloot vir jou om Hom te vertrou. Hoekom probeer ons vashou aan ons probleme? Dit lyk soos ’n toutrekkery, tussen ons en God. God het dit. Maar as jy nie wil los nie, hoe kan
Hy help? So bid. Hy sal nie jou gebed beantwoord as jy nie vra nie.
Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie. 1 Tes. 5:16-19
Kweek geloof:
Hoe behou jy geloof in God in moeilike tye? Om jou geloof te laat groei is ’n daaglikse roetine wat redelik eenvoudig kan wees as jy dit toelaat.
Natuurlik is die eerste stap in die groei van jou geloof om ’n verhouding met Jesus te vestig en Hom te vertrou met jou ewige sekuriteit.
Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof en nie deur wat ons sien nie. 2 Kor. 5:6-7
Onthou wat God gedoen het:
As jy nog nie dankbaarheidsjoernaal by jou daaglikse aktiwiteite gevoeg het nie, is dit ’n goeie tyd om te begin. Om ’n daaglikse lys te maak van die dinge waarvoor jy dankbaar is, gee jou ‘n plek om te draai en te onthou wanneer jy voel jy is oorweldig.
Baie van die seëninge in jou joernaal is beantwoorde gebede. Dit is ’n goeie manier om te fokus op wat goed is in jou lewe, asook om ’n goeie manier te gee vir wanneer jy herinneringe van beantwoorde gebede nodig het.
Die beste manier om te leer hoe om die Here in moeilike tye te vertrou, is om na die beloftes van God te gaan. God se Woord is gelaai met beloftes wat ons leer oor geloof in God tydens moeilike tye.
Plaas God heel bo alles:
God wil eerste in ons lewens wees. Dit is die eerste gebod in die Bybel.
Eksodus 20:3 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
Dit hoef nie ’n god te wees in die sin van zeus of boeddha nie. ’n God is enigiets wat jy voor die Here plaas. Dit kan jou gesin, jou werk of jou gunsteling stokperdjie wees. Dit gaan oor om God EERSTE en BO ALLES ANDERS te stel. Om God eerste in ons lewens te plaas, skep die tipe verhouding met Hom, waar ons geen twyfel het oor die vertroue op God in moeilike tye nie. Toets dit uit, jy sal sien.
Streef na Heiligmaking:
Om in gehoorsaamheid te wandel beteken om berou te hê oor die sonde in jou lewe en te streef na heiligmaking. Onthou, God kan nie na sonde kyk nie. Dit skei die mensdom van ons Skepper. Dit is hoekom Hy Sy Seun Jesus gestuur het om aan die kruis te sterf. Toe Jesus hom daaraan onderwerp het om aan daardie boom op Golgota vasgespyker te word, het Hy bloed aan daardie kruis vergiet en die sondeskuld van die hele mensdom daardeur gedek.
Wanneer jy onberouvolle sonde in jou lewe het, skep jy ’n versperring tussen jou en jou Hemelse Vader. Dit is dus belangrik om gereeld te bekeer. Die meeste van ons vra om vergifnis wanneer ons bid, miskien een of twee keer per dag. Maar jy moet so dikwels vergifnis vra as wat jy jouself betrap om te sondig. Dit hou jou naby God en gehoorsaam aan Sy verordinge.
Laat vaar jou eie planne en vertrou Hom:
Jy kan nie sê jy vertrou die Here, maar hou dan met albei hande vas aan jou eie planne en oplossings nie.
Wanneer jy ’n probleem of uitdaging het, sien ’n denkbeeldige prentjie van waar jy daardie probleem of uitdaging in ‘n boks plaas en dit met ’n groot rooi strik toedraai. Stel jou dan voor dat jy daardie geskenk aan Jesus oorhandig. Wanneer jy vir Jesus jou probleem gee, is dit belangrik om dit te laat gaan en Hom te laat oorneem.
U sal ons in volmaakte vrede bewaar omdat ons op U vertrou het. Jes. 26:3
Laat Sy wil geskied en wag:
In die modelgebed in Matteus 6 leer Jesus ons om te bid met hierdie woorde: “Laat U wil geskied…soos in die Hemel, so ook op die aarde…” Dit is woorde waarmee ons aan God al die “reg” gee vir Hom om te maak net soos Hy wil en wanneer Hy wil in elke situasie.
Meeste van die tyd stem God se tydsberekening nie ooreen met wat ons vir ons lewens wil hê nie. Ons groei die meeste geestelik, tydens ons stryd. Om God in moeilike tye te vertrou, moet ’n manier van lewe word. Moeilike tye kom en gaan. Om gefokus te bly en ons geloof in die Here te behou, sal groter seëninge en belonings in die Hemel tot gevolg hê.
Jesaja 40:31 Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle sal opstyg met vlerke soos arende; hulle sal hardloop en nie moeg word nie; en hulle sal wandel en nie moedeloos word nie.
Onthou Wat God gesê het oor ons lewens:
God het ons nooit belowe dat die lewe maklik sou wees nie. In plaas daarvan het Hy gesê dat ons beproewinge gaan hê. Maar daar is ’n punt aan ons stryd. Daardie punt is om geestelik te groei tot ’n sterker Christen. Ons moet volledig word en ’n nouer verhouding met ons Here en Verlosser hê. Wanneer jy dus aan die moeilike tye en uitdagings dink, is dit die beste om jou ingesteldheid te verander na een waar jy jou struikelblokke eerder as seëninge sien.
Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed; Ek het die wêreld oorwin.
Hierdie beginsels sal jou help om te midde van die uitdagings, staande te bly. Dit sal ook help sodat jy die Heilige Gees se leiding sal aanvaar en Hom sal vertrou in welke uitdaging daar blyk te wees. Hy sal jou deur dit dra! (Deur Pastoor Francois Mattheüs)
Kingdom News: Uitdagings? Doen dit…
Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf