Saterdag stop my man vinnig in die parkeerarea van een van die dorp se supermarkte.
Daar is wel ’n paar items agter op die bak van die bakkie, en twee generators op die sleepwa, maar my 13-jarige seun bly sit.
Ek sit sommer binne en wag vir my man om klaar sy inkopies te doen.
Na so rukkie vang my oog ’n sluiper, wat al hoe nader aan die bakkie beweeg en loer wat agterop staan.
Ek besluit toe om maar eerder uit die bakkie te klim en saam met my seun agter te staan.
Die eerste sluiper loop toe maar eerder aan.
Dis nie lank nie of sluiper nommer een kom weer nader, met nog ’n trawant….wat net verbyloop.
Meteens neem ek die hele area in en besef dat daar ’n totaal van ses sluipers in die parkeerarea is.
Hul sakke is in een hoek van die parkeerarea gepak, so hulle is beslis nie net aan die deurloop nie.
Ek begin planne maak vir as een dalk iets gryp, want op ’n Saterdagmiddag na ’n besige werksweek is ek beslis nie lus vir hardloop nie.
Ek het wel ’n besem en ’n mop en haal maar die besem van die bakkie af, minstens kan ek op ’n afstand probeer keer en my lyf Jedi hou met die besem soos ’n “light sabre”.
My seun behartig die mop…hy het darem ’n hoogte voordeel. Die een wag wat daar staan probeer sy bes om klante wat uit die supermark gestap kom veilig te hou teen die ses sluipers, maar hulle is net so twee tree agter hom elke keer.
Elke voertuig wat daar stop met ’n enkel dame of bejaarde paartjie word ook omsingel, en mense knyp handsakke vas en sluit voertuie sommer dubbel, om seker te maak hul eiendom word nie buit nie. Die 10 minute wat my man weg was, het seker soos ’n uur gevoel, maar die verligting was groot toe hy uiteindelik sy verskyning maak.
Die ses supersluipers het ook hulself vinnig uit die voete gemaak, opsoek na hul volgende moontlike slagoffer.
Toe ons daar wegry wonder ek, wanneer die winkel toemaak, waarheen sluip hul dan. Na die plaaslike besighede in die omtrek, of dalk huis toe om hul buit te verdeel, of moontlik om planne te maak vir die volgende dag, sou dit nie ’n suksesvolle dag gewees het nie.
Ons perseel is self nie ver van die super ses se “gebied van besigheid” af nie, maar die kameras wat ons om en in die gebou het, tesame met die alarm en monitering deur ons sekuriteitmaatskappy, wat gereeld verbyry en seker maak alles is nog klopdisselboom, help darem dat ek nie elke oggend met ’n besem by die werk hoef oop te sluit nie. Daardie tipe gemoedsrus kan geld eintlik nie koop nie, want dit gee nie net rustigheid nie, maar help ook vir wanneer jy jouself dalk in ’n angstige situasie bevind.
Ek het wel ook ’n gaspistool op die plaas, maar hy is so swaar en lomp, en ek gaan hom beslis nie in my handsak heeldag rondsleep nie.
Pepersproei is seker die volgende beter opsie, en ek dreig al vir maande dat ek ’n botteltjie wil gaan koop.
Ek is net bang ek moet dalk ’n storie by die hof gaan doen en hulle sien my aan as ’n moeilikheidmaker, en vat dit af of sleep my selle toe. Ek is maar soms vergeetagtig, so om dit in my kar te los is ook dalk nie die beste oplossing nie.
Met drie nuuskierige seuns wil ek graag ook enige pogings om ondersoek in te stel na die gaspistool of peppersproei verhoed, want netnou gebeur daar ’n ongeluk, en dit gebeur tog so vinnig. Wat sê die reg is jou opsies sou jy jouself in so situasie bevind:
Jy mag slegs optree sou jou lewe in gevaar wees of jy deur ’n persoon gedreig word. Jy kan nie bloot net iemand met pepersproei spuit omdat hy jou dalk beledig het toe jy hom verjaag het nie. So ’n persoon kan ’n saak van aanranding by die polisie gaan maak teen jou.
Die beste ding om te doen sou jy voel jou lewe word bedreig of jy voel onveilig, is om die polisie te skakel.
Sou ’n sluiper wel Saterdag enige items vanaf die bak van ons bakkie gegryp het, en ek hom met die besem bygedam het – sou ek nie verkeerd gewees het nie. As ek iemand bydam met die besem terwyl hy te naby na my sin aan ons voertuig geloop het – sou ek moontlik vandag ’n klag van aanranding in die gesig gestaar het.
Wat gebeur sou daar ’n inbreker by jou werks-plek of perseel gevang word deur jou sekuriteitsmaatskappy:
Volgens Harry Coetzee wat ’n sekuriteitsmaatskappy besit doen hulle die volgende wanneer daar ’n vermeende inbreker by een van die persele gevang word wat deur hul gemoniteer word, of wanneer ’n alarm afgaan.
“As ons ’n verdagte vang, hou ons hom by die perseel en skakel die polisie, waarna ons dan die verdagte aan hulle oorhandig” sê hy.
Slegs die polisie, wetstoepassers of verkeersbeamptes kan ’n verdagte arresteer. Daarna lê die persoon van die veiligheidsmaatskappy ’n verklaring af by die polisie, en sou daar enige items gesteel wees, dan moet die eienaar van die besigheid of perseel sy eiendom identifiseer en ook ’n verklaring aflê. (Deur Angelique Erasmus)
Kollig op sekuriteit: Jou veiligheid en die van jou eiendom
