Liewe vriende, vandag wil ek met u praat oor die verhaal van Jona, ‘n profeet wat deur God gekies is om ‘n boodskap van bekering aan die mense van Ninevé te bring.
Tog was Jona se reaksie op God se roeping gekenmerk deur ongehoorsaamheid en ‘n poging om van God se teenwoordigheid weg te vlug.
Vandag gaan ons indringend kyk na die lesse wat ons kan leer uit Jona se optrede en hoe dit verband hou met ons eie lewens.
God se Roeping en Jona se Ongehoorsaamheid:
God se duidelike roeping:
As ons die boek Jona lees, kom ons ‘n duidelike bevel van God aan die profeet teë: “Gaan na die groot stad Ninevé toe en verkondig My woord, want hulle goddeloosheid het voor My gekom” (Jona 1:2).
Die Here het begeer om Sy genade aan die mense van Ninevé te bewys en hulle ‘n geleentheid te gee om weg te draai van hulle verkeerde weë.
Jona se koppigheid:
Ten spyte van die direkte bevel van God het Jona gekies om ongehoorsaam te wees en weg te vlug van God se teenwoordigheid.
Jona se ongehoorsaamheid openbaar ‘n dieper stryd binne sy hart.
Miskien was hy bang vir die taak wat aan hom gegee is, of het hy gevoelens van haat teenoor die Nineviete gehad.
Nietemin toon Jona se poging om weg te vlug van God se roeping die menslike neiging om God se wil te weerstaan wanneer dit bots met ons gevoelens of gemaksone.
Hoe dikwels draai ons nie weg van God se opdrag af net omdat ons aan onsself dink nie.
Die Gevolge van Ongehoorsaamheid:
Die Storm:
Toe Jona aan boord van ‘n skip gaan in die teenoorgestelde rigting van Ninevé, het God ‘n groot storm op die see gestuur.
Die storm het sterker geword en die seevaarders op die skip was verskrik.
In die aangesig van teëspoed het Jona se ongehoorsaamheid nie net sy eie lewe beïnvloed nie, maar ook die lewens van die mense om hom.
Ongehoorsaamheid lei dikwels tot onbedoelde gevolge wat nie net onsself nie, maar ook die mense wat ons op ons reis ontmoet, raak.
Soms word ons onmiddellike familie en vriende geraak deur ons ongehoorsaamheid aan God se stem.
Ingesluk deur ‘n Groot Vis:
In Sy onvermoeide strewe na Jona, het God ‘n groot vis aangestel om hom in te sluk.
Vir drie dae en nagte het Jona homself in die maag van die vis bevind, omsluit deur duisternis en isolasie.
Die ongemaklike ervaring ooit vir ’n mens om in ’n vis se maag vasgekeer te wees.
Natuurlik skep God die geleentheid vir Jona om oor sy optrede na te dink. Ongehoorsaamheid kan ons na donker en verlate plekke lei maar tot in die donkerte is God ook met ons. Sonder God se teenwoordigheid in ons lewens sal ons dit nooit maak nie, net soos Jona dit nooit sou maak vir 3 dae en nagte in die vis se maag nie.
God gee ons nog steeds vandag ‘n tweede kans om na te dink, selfondersoek te doen sodat Hy ons weer in die regte rigting kan bring.
Ons ongehoorsaamheid kan ons tot donker dieptes en verlate plekke lei waar ons afgeskeur van God kan voel.
Pad na bekering en restourasie:
In die donkerste diepte het Jona na God geroep, hy het sy ongehoorsaamheid erken en het bekeer van sy wederstrewigheid.
Hierdeur kan ons leer dat in ons desperaatste oomblikke kan ons hoop en vergifnis vind deur onsself voor die Here te verneder. God is so groot dat daar geen sonde is wat vir hom te groot is om te vergewe nie.
God van ‘n tweede kans:
God in Sy grootheid en almag, Sy wonderbaarlike liefde en genade het die vis opdrag gegee om Jona op die strand uit te spuug.
Jona kry ’n tweede kans om sy roeping uit te leef. Liewe vriend, God wys hierdeur vir ons Sy genade is meer as genoeg as ek en u net wil bekeer en erken dat ons verkeerd is.
Dit maak nie saak hoe vêr weg ons afgedwaal het nie, God wag vir ons en Hy bied ons geleenthede om na Hom terug te keer.
Kom ons leer van Jona se foute wat hy gemaak het. Laat toe dat die wil van God in u lewe geskied.
Kom ons laat toe dat God ons restoureer en ons op ’n plek van totale gehoorsaamheid tot Hom bring. Hy is die God van genade en barmhartigheid. Shalom (Deur Biskop Joey Denvor Thorne)
Kingdom News: Leer uit Jona se ongehoorsaamheid
Biskop Joey Denvor Thorne van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) Tikvah Embassy in Dysselsdorp Foto verskaf