Geheuefoto’s van ’n nommerplaat

Deur Poem Mooney

My vrou en ek het so ongeveer twee weke gelede op die Checkers kliënteparkeerterrein in ons motor gesit en bak in die vroeë oggend wintersonnetjie.

Ek het ewe skielik ’n kalm gevoel en ’n lomerigheid ervaar.

Dit wat my tot die hede teruggeroep het, was my vrou se stem, toe sy na ’n wit motor wys, wat skielik langs ons ingetrek het. “Kyk, Poem”, het sy opgewonde uitgeroep.

Die wit motor wat langs ons ingetrek het, se registrasienommer is CG1010.

Ek het onmiddelik na die motor langsaan ons gestap en teen die ruit geklop.

Die vrou het die ruit afgedraai en nuuskierig na my gekyk. “Goeiemôre, mevrou”, het ek met die deur in die huis geval. Dit is u motor se nommerplaat wat my aandag getrek het.”

“U sien, hierdie nommer het my met die eerste oogopslag teruggevoer na my skooldae in Jubileestraat.”

“Dit was ons skoolhoof van destyds se nommer. Hy, Mnr John Lyners, het ’n 1948 Studebaker gehad met dieselfde nommer, so ’n groen ‘alkant, selfkant’ Studebaker.”

Die vrou het my verbaas aangekyk en sonder om iets te sê oor my voorbarigheid, ’n gesprek begin oor die registrasienommer, CG1010.

Hoe sy en haar man aan die registrasienommer gekom het. Dit was op hulle eerste mototr, die fabrikaat, ’n Toyota.

Sy het die kleur van die motor beskryf en hoe hulle as hulle ’n ander voertuig gekoop het, dieselfde nommer behou het.

Sy het vertel van haar man, Kallie, wie haar alreeds vooruit gegaan het, “sewe jaar gelede”, en dit is hoekom die registrasienommer vir haar van sentimentele belang is.

Toe sy die wit motor aangeskaf het, het sy vir die verkoopsagent gesê: “Op een voorwaarde, ek soek my nommer CG1010.

Net daar het ek spontaan my eie storie met haar gedeel. Haar vertel dat ek my Laerskool opleiding begin het by De Villiers NGK Primêre skool, in Jubileestraat. Ons het toe nog in Oxfordstraat nommer 40, gewoon.

Die blok waarop die skoolgebou gestaan het, het gestrek vanaf Jubileestraat tot in Oxfordstraat, want die skool en die kerk het rug aan rug gestaan in beide hierdie twee strate.

Die voedingsarea van die skool was Vaaldraai, Randstraat, Jonesstraat, St Georgestraat, Oxfordstraat, Curtisstraat en St Johnstraat, asook etlike families in Noordeinde, was by ons skool ingeskryf.

Die bedieningsarea het die interessante name gedra, Afvaldorp, Benedraai, Daggadraai, Kassiedraai en Semelkloof. Die meeste leerders het ook uit die Ou Kas, die Askamp en Suikerbult, gekom. Dit was nog voor New Bridgton.

Dit was nog voor die gedwonge verskuiwings.

Meester John Lyners was toe die skoolhoof, sy vrou was ’n nooi Africa van Worcester.

Hulle het twee pragtige dogters gehad, Desiree en Irma. Slim kinders.

Ek kan onthou hulle het oorsee gereis per boot tydens een van die lang vakansies. Ek onthou die stories oor Europa wat hy aan ons vertel het. Hy was ’n goeie prinsipaal, ’n reguit mens.

Hy was ’n prinsipaal duisend, ’n lid van die Kerkraad.

Hulle was regtig meelewende, gemeenskapsmense.

Die huis waarin hulle gewoon het, is vandag in Jonesstraat, die plan van die huis het hy self opgetrek en daarna is die huis gebou.

As meester soggens in Voortrekkerstraat op pad was met die Studebaker, CG1010, het hy twee keer getoet dan het die kinders gestroom vanaf die speelgrond – vandag is die eens speelgrond van die leerders van De Villiers Primêr toegebou met moderne huise.

Ek onthou die “binneplein”, die vierkant waar ons voor die aanvang van elke skooldag, Gods-diens gehou het.

Die liedere wat gesing was, onder andere: Nooit is hy verlate, wat op God vertrou, en die lied wat ek nooit sal vergeet nie, tydens een van Meester Lyners se Godsdienslesse:
Nogsteeds met U – vroeg as
die rooidag skemer,
Nagskadu’s vlug, die mossies
Tjilp vol lus;
O, die genot, as’k in die môreglorie
ontwaak, van U nabyheid diep bewus.
Ek onthou die een spesifieke Godsdiensles wat hy een oggend gehou het.
Ek was nog maar ’n kind.
Die les was uit Spreuke 24:30.
Ek het by ’n lui mens
se land verby gestap
by ’n onverstandige mens
se wingerd:
dit was heeltemal oortrek
van onkruid,
toegegroei onder die bossies
en die klipmuur was omgeval.
Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink,
en daar iets uit geleer:
nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer,
nog ’n bietjie handevou
om te slaap,
en dan kom jou armoede aangestap,
daar oorval die gebrek jou soos
’n inbreker, sonder dat jy
dit kan keer.

Daar is so baie dinge, wat die eienaar van CG1010 vir ons geleer het.

Dinge wat onuitwisbare indrukke op ons gemaak het.

Die Lynerste het Kaap toe getrek – en ’n leemte gelaat in die gemeenskap van Oudtshoorn.

Jare later en ek praat onder korreksie, want ek het gehoor dat hulle Australië toe getrek het.

Ek het nadat ek hierdie storie geskryf het, gedink hoeveel herinneringe aan beide kante, die huidige eienares, wyle Kallie se vrou, en my herinneringe aan ons eertydse skoolhoof se registrasienommer ons, met hierdie pragtige geheuefoto’s gelaat het.