Brian Daniels, Oudtshoorn se eie langstappolisieman, sal die naweek saam met sy span op Oudtshoorn wees na ’n staptog van meer as 1 000 km!
Daniels het in September 2022 nasionaal nuus gemaak toe hy van Oudtshoorn na Kaapstad toe gestap het om fondse in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal. Hy het voor en tydens sy uitmergelende staptog kaartjies verkoop om geld in te samel vir ’n bydrae tot die kinderhospitaal se trustfonds. Aan die einde van die projek het hy R50 000 ingesamel en sedertdien is hierdie fondse tesame met die van ander gebruik om ’n terapeutiese speelkamer by die hospitaal in te rig.
Op 13 Mei vanjaar het hy van Richardsbaai in KwaZulu-Natal begin stap na Kaapstad vir dieselfde doel, maar hierdie keer is hy nie alleen nie. Sy storie verlede jaar het so ver oor die land versprei dat ’n span stappers onder die lei-ding van ene Malcolm Johnson hom genader het om aan ’n meer as 2 000 km-staptog deel te neem wat hulle deur minstens ses provinsies sal neem.
Brian en die span gaan op 3 en 4 Junie, Saterdag en Sondag, op Oudtshoorn wees na ’n staptog van meer as 1 100 km wat hul minstens 16 dae geneem het tot dusver.
Hy het Dinsdag aan Die Hoorn vertel dat hul reeds oor drie provinsies gestap het, naamlik KZN,Vrystaat en Noord-Kaap. “Ek self het al ongeveer 500 km gestap, soms alleen, ander kere het ek ’n maatjie gehad.
“Op party plekke was daar nie ’n ‘skouer’ op die pad om te stap nie. Wanneer dit reen het ons ook nie gestap nie,” vertel hy.
Oor sy toestand op die oomblik sê hy dat hy goed voel. “My voete gee geen probleme nie, net my linker knie pla en pyn bietjie. My span lyk en doen goed!”
Op hul staptog, sê Brian, is almal tot dusver vriendelik en wil meer weet oor hul projek. Sommige mense gee ook donasies.
Volgens Brian gaan die span van De Rust se kant af by die dorp inkom Saterdag en gaan hulle hul tuismaak by Turnberry Boutique Hotel in St Johnstraat terwyl hulle hier is.
Die span beplan om Sondag die diens by die VGK-kerk in Bridgton by te woon. (Deur Stefan Skapie Goosen)
- Enigeen wat wil betrokke raak daarby om Daniels en die span te ondersteun kan hom kontak op 060 523 4786.
