SEKERLIK die mooiste volstruisvere ter wêreld, en dié van die hoogste gehalte kom steeds uit die Klein Karoo!
Vere van hier, spesifiek die Oudtshoorn-omgewing se Middelplaas, is die produk van jarelange harde werk en teling van die beste voëls. Hierdie vere word selfs uitgevoer na die buiteland.
Volgens Kobus Terblanche is die vere die produk van verskillende voëls wat aangekoop is van onder meer die Van der Westhuizens en Le Roux’s. “Ons het geteel met die verskillende soorte voëls en die beste uitgehou met elke nageslag, en dan so aangegaan,” sê hy. Volgens Terblanche gaan hul vere hoofsaaklik Japan en Frankryk toe – na modehuise soos Chanel en die bekende Moulin Rouge – weens die gehalte, lengte en breedte van die vere. Sommige vere word heel uitgevoer, en sommige vere word verwerk in produkte om uitgevoer te word.
Hy sê dit neem etlike geslagte volstruise om hierdie hoë-kwaliteit vere te produseer. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Mooiste volstruisvere kom uit die Klein Karoo!
Van links is Pieter Terblanche, Peter Liebenberg, Kobus Terblanche, Arthur Muller en Schoeman Laubscher met van die pragtige volstruisvere. Foto: Lindi Brill