Kingdom News – God se belofte: “EK SAL VOORSIEN”

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

God se Woord is propvol beloftes waaraan ons kan vashou, ongeag wat ons behoeftes of omstandighede mag wees.

Dit is maklik om te luister na die stem van die vyand, maar om na die vyand te luister, lei jou altyd tot wanhoop en laat jou bang wees vir die toekoms.

Wanneer ons aanmoediging nodig het, of ons nou ‘n finansiële, mediese of emosionele beproe-wing in die gesig staar, kan ons dit vir seker weet: God belowe om vir Sy mense te voorsien. God se Woord is propvol beloftes waaraan ons kan vashou, ongeag wat ons behoeftes of omstandighede mag wees.
Ek deel graag met jou die wyses waarop God vir Sy kinders voorsien.

  1. Hy sorg vir ons fisiese behoeftes.
    God belowe om te voorsien wat ons nodig het (Filippense 4:19, Matteus 6:31-32). Hy het die heelal geskep en gee kos aan elke lewende wese – insluitend jou en my. Dieselfde God wat kos vir die diere voorsien, sal ons nie toelaat om daarsonder te gaan nie (Psalm 145:15-16, Lukas 12:24-26).
    Nie net belowe God dit nie, ons sien ook voorbeelde in die Skrif. Toe Jesus besig was om te preek, en die skare mense nie geëet het nie, het Hy vyf brode en twee vissies vermeerder en meer as 5 000 mense gevoed (Mark 6:1-14). Toe Adam en Eva gesondig het en hulle oë oop was vir hulle naaktheid, het God vir hulle klere voorsien (Ge-nesis 9:3). Selfs wanneer ons verkeerd doen, voorsien God steeds vir ons want Hy is ’n goeie Vader.
  2. Hy gee ons rus.
    God beloof om sy kinders rus te gee (Matteus 11:29-30, Psalm 23:2). Ons ervaar hierdie rus deur ons vertroue in Jesus te plaas.
    Rus beteken om beheer oor ons lewens prys te gee en Jesus te volg waarheen Sy pad ook al mag lei. Dink daaraan om op ‘n lang motorrit te gaan. Hoe anders is die ervaring wanneer jy die passasier in plaas van die bestuurder is? Die passasier ervaar rus wat die bestuurder nie ervaar nie. God belowe nie net rus nie, Hy beveel dit ook aan (Eksodus 20:8-11). Hoe vertroostend is dit dat ons God die rus voorsien wat Hy van ons verwag!
  3. Hy gee rigting.
    God lei en rig ons voetstappe, sodat ons sy groot doel vir ons kan vervul (Spreuke 20:24). Ons dink ons weet die beste manier om iets te doen en wanneer dinge dan in ’n verkeerde rigting gaan, is ons ongelukkig oor dit. Wanneer ons egter terugkyk, besef ons God het ons deur daardie omstandighede en keuses steeds geposisioneer om iets veel groter te ervaar as wat ons kon dink of droom. (Efesiërs 2:10).
  4. Hy gee ons Sy genade.
    God gee ons die genade wat ons nodig het om deur enige situasie te kom (2 Korintiërs 9:8). God se genade, sy onverdiende guns, is wat ons toelaat om iemand te vergewe wat aan ons iets verkeerd doen, om ons huweliksmaats eerste te stel, om ons gesinne te dien, om onsself te vergewe, of om bloot genoeg krag te hê om deur die dag te kom. God se genade kan nie verdien word nie.
    Dit is ‘n geskenk wat Hy vryelik gee op grond van ons spesifieke behoeftes.
  5. Hy wys ons hoe om versoeking te weerstaan.
    God voorsien altyd ‘n uitweg wanneer ons voor versoeking te staan kom (1 Korintiërs 10:13). Net soos Jesus Satan se versoeking in die woestyn weerstaan het, belowe God om ons te voorsien van ‘n manier om enige versoeking wat oor ons pad kom te kan oorwin.
    God weet dat ons versoeking sal trotseer en gee ons die hulpbronne wat ons nodig het om daardie beproewinge te oorkom, insluitende Sy Woord en Sy Gees. Wanneer ons voorbereid is, belowe God dat ons altyd die versoekings sal kan weerstaan wat die duiwel op ons pad plaas.
  6. Hy help ons wanneer ons seer het.
    God belowe om ons te help wanneer ons seerkry (Psalm 34:17-20). Wanneer die lewe moeilik is, wanneer ons voel dat ons pyn te veel is om te verduur, hoef ons nie vir God weg te kruip nie. Ons kan na God toe hardloop. Hy is ons toevlug en ons sterkte, ons ewige hulp in tye van benoudheid (Psalm 46:1).
  7. Hy red ons.
    God voorsien ‘n manier vir ons om in ‘n verhouding met Hom te wees (Johannes 14:6). Toe Adam en Eva gesondig het, was ons vir ewig van God geskei. Hy het egter sy enigste Seun gestuur om die straf vir ons sonde te betaal (Joh. 3:16). Jesus het die skuld betaal wat ons nooit kon betaal nie. Wanneer ons in Jesus glo, is ons in staat om ‘n persoonlike verhouding met God te ervaar – ons is nie meer geskei as gevolg van ons sonde nie! (Romeine 10:9)
  8. Hy gee ons Sy vrede.
    God voorsien ons van die vermoë om in enige situasie vrede te hê (Filippense 4:7, Romeine 5:1). Hy bewaar ons harte en gedagtes en lei ons op paaie van geregtigheid (Psalm 23:3). Hy gee ons vertroue wanneer ons onseker is en bevredig ons smagtende siele. (Filippense 1:6, Psalm 107:9).
  9. Hy lei ons in waarheid.
    In hierdie tyd voel dit asof jy niemand kan vertrou nie. Leuens en verleiding is deel van die alledaagse lewe. God gee ons egter ’n manier om die waarheid te leer ken. Hy het vir ons Sy Woord gegee. Die Bybel is juis waarheen ons gaan om te weet wat God se wil vir ons lewens is. (2 Timoteus 3:16, Psalm 119:105).

God verbind Homself om in al ons behoeftes te voorsien. Maak nie saak watter beproewing of toets oor ons pad kom nie, ons kan weet dat God reeds vir ons beide geestelik en fisies voorsien het.

Ons kan verseker wees dat wanneer ons deur moeilike tye gaan, God saam met ons stap en vir ons voorsien in al ons behoeftes!