Oudtshoorn se eie kokkedoor bekoor

Rodney Galant wat aan Kokkedoor Vuur en Vlam deelneem, wys sy braaivernuf. Foto Verskaf

RODNEY Galant, ’n bekende Oudtshoorniet, het aan die gewilde TV-program, Kokkedoor Vuur en Vlam deelgeneem.

Galant is die eienaar van Rodney’s Home Cook Cafè & Events in Oudtshoorn. Hy het ook onlangs by Spitskop restaurant by Klein Karoo Game Lodge oorgeneem as restaurantbestuurder.

“Ek het die advertensie op Facebook gesien en ’n week lank daaroor gedink of ek regtig goed genoeg kan kook, bak en braai om in te skryf vir een van die grootste kookkompetisies in die land.

Ek het egter besluit om myself en dit wat ek daagliks doen, kosmaak, uit te daag” het Galant aan Die Hoorn gesê. Die oudisies vir die program het in Februarie 2023 plaasgevind.

Die reeks is oor vier weke in Stilbaai geskiet en die verfilming het op Maandag, 17 April afgeskop. Op die vraag aan Willem Muller, KykNET se mediawoordvoerder, waarom hulle vir Galant gekies het, het hy die volgende geantwoord.

“Nie net het Rodney se kosvernuf ons beïndruk nie, maar sy sjarmante en borrelende persoonlikheid het ook ons aandag getrek.”

Volgens Galant was die gunstelingdeel van sy deelname aan Kokkedoor die “unknown”-faktor. “Die feit dat ek geen idee gehad het waarin ek myself begewe nie, die adrenalien wat deur my are pomp om uitdagings aan te vat soos wat ek in my normale lewe ook sal doen”.

Kokkedoor Vuur en Vlam is Donderdae-aande op KykNet Kanaal 144 om 20:00. (Deur Lindi Brill)