DIE “Dog Of War” motorfietsassosiasie van die Tuinroete het verlede Saterdag hul Vasbyt Jol by Route 62 in Oudtshoorn gehou om geld in te samel vir oud-oorlogveterane.
Die Vasbyt Jol is hierdie jaar die eerste keer aangebied, maar volgens Erika Roach, wat ’n lid van die “Dogs”- klub is, sal hulle dit graag ’n jaarlikse instelling wil maak.
Ander motorfietsklubs van so vêr as Jefferysbaai en PE het ook hul ondersteuning gewee en kom deel in die pret. Die musikante, Mariska Rain and the Thunders, het gesorg dat niemand kon stilsit nie en daar was gelukkige trekkings gedoen wat deur besighede geborg is.
“Ons het ’n groot passie om oorlogveterane by te staan. Ons help nie net met hul fisiese behoeftes soos suurstofmasjiene, rolstoele en prosteses nie, maar ook met sielkundige terapie vir posttraumatiese stresversteurings”, het Eldridge van Niekerk, nasionale tesourier van die klub en self ook ’n veteraan, aan Die Hoorn gesê.
Volgende naweek sal die jaarlikse Nasionale byeenkoms in Bloemfontein plaasvind, wat ook bekend staan as die “Buddyrun”. (Deur Lindi Brill)
“Dogs” blaf vir goeie doel
Klublede van die Tuinroete Motorfietsassosiasie, Die “Dogs of War”. Foto: Lindi Brill