Oudtshoorn staan saam en help diere

Werk begin aan die stuk grond wat deur ’n plaaslike boer aan Oudtshoorn Diereherberg gegee is vir gebruik. Hul beoog om 35 hokke te bou. Foto: Angelique Erasmus

DAAR was onlangs ’n groot herrie op sosiale media, nadat die diere welsynsorganisasies wat die skutperseel gebruik deur die Oudtshoorn Munisipaliteit kennis gegee is om die perseel te verlaat.

Dit is egter belangrik om by die begin te begin en te besef dat hierdie situasie nie sommer oornag ontstaan het, en kennis links en regs uitgedeel is nie.

Eerstens is daar vier diere welsynsorganisasies in Oudtshoorn. Hulle is Oudtshoorn Diereherberg (ODH), Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), Animal Care Team (ACT) en The Cat Hotel.

In die verlede het drie van die organisasies van die munisipale skut gebruik gemaak, naamlik ODH, ODIN en ACT. Lee-Ann van Sittert van The Cat Hotel het nog altyd van haar huis af gewerk en daar hokke waar sy katte vir aanneming aanhou, en katte na haar geneem word vir sterilisasies.

Tans gebruik net ODH en ODIN die munisipale skut vir diere wat aangehou moet word.

Op ’n raadsvergadering in Oktober 2022 is daar besluit om die organisasies kennis te gee.

Hulle het toe in Januarie 2023 die nuus gekry dat hulle die munisipale skut moet verlaat teen 10 Maart 2023.

Beide organisasies het toe die munisipaliteit genader en gevra vir uitstel, waarna hulle tot Maandag, 31 Julie uitstel ontvang het.

ODH het ingespring en ’n stuk grond naby aan die skut op die Rooiheuwelpad by ’n boer gekry, wat dit beskikbaar stel om hokke te bou.

Hulle het tot op datum genoeg materiaal ingesamel deur skenkings om sowat 17 hokke te kan bou.

“Ongelukkig met al die reën die afgelope tyd is die bouproses bietjie vertraag en het die munisipaliteit vir ons uitstel gegee tot 30 September om alles in plek te kry,” het Ansa De Jager van die Diereherberg aan Die Hoorn gesê.

ODIN het Dinsdag grasie ontvang vanaf die munisipaliteit en moet teen 31 Augustus al hul diere van die perseel af verwyder.

Teen druktyd was daar sowat 11 honde wat nog ’n huis soek, maar ODIN sal steeds na Augustus in Oudtshoorn en die omgewing beskikbaar wees en na die gemeenskap se honde om te sien en te help waar hulle kan, al het hulle nou nie meer ’n permanente perseel nie.

Intussen moet die skut volgens die munisipale mandaat vorentoe bestuur word.

Dit beteken dat die skut slegs ’n tydelike heenkome vir 7 dae vir diere kan bied, wat ook vee insluit.

Daar is nie ’n mandaat om diere vir lang termyne te versorg nie.

Intussen kan inwoners steeds help met bydraes vir al vier van Oudtshoorn se dierewelsynsorganisasies, deur middel van skenkings vir kos, komberse, finansies en boumateriaal of selfs die aanneem of tydelike huisvesting van ’n hond of kat. (Deur Angelique Erasmus)

Skakel gerus die volgende persone:
Oudtshoorn Diereherberg – Ansa de Jager
072 070 5977
Oudtshoorn Dogs In Need – Colleen Smith
072 084 1374
Animal Care Team – Vanessa Engelbrecht
082 927 7276
The Cat Hotel – Lee-Ann van Sittert
083 334 0172.