Toe ek my hart vir die Here gegee het, was my hele lewe omgekeer en op daardie stadium het ek finansieel en fisies alles verloor.
Mens dink soms as jy jou sondes bely en die regte pad begin loop, sal als oornag regkom. As dinge nie beter begin gaan nie, begin mens twyfel en die duiwel wil weer sy gedagtes by jou plant om jou weer in sonde te laat leef. Ek dink nie God sal dinge sonder enige rede oor jou pad laat kom as jy nie sterk genoeg is om dit te hanteer nie – of dit nou slegte tye is of ’n nuwe uitdaging wat jou lewe kan beter maak.
Ek vertel in kort my getuienis en hoe my lewe verander het en als in Jesus se tyd: Ek het na my bekering by ’n goeie vriend se selgroepie aange-sluit en aan die begin het ek alleen gegaan.
Dit was lekker om elke Woensdag te luister na die stukkie wat vir ons voorgelees is. Ek raak een Vrydag siek en nadat ek by die dokter was, het hy bepaal ek het ’n redelike groot niersteen. Ek sal nooit vergeet ek moes die Donderdag ingaan hospitaal toe dat hul die steen kan verwyder. Na ons selgroepsessie vra ek dat hulle vir my bid vir die hospitaalstorie en dat als goed sal afloop.
Ek is die Donderdag ingeboek. Almal wat ook daar was vir dieselfde probleem is weer gesonar, maar die dokter sê ek hoef nie te gaan nie, myne is so groot hy sal nêrens gegaan het nie. Ek gaan toe in die teater in en hou die horlosie dop.
Toe ek wakker word sien ek dat ek nie baie lank binne was nie en so ’n rukkie later kom sien die dokter my en sê iewers moes hulle ’n fout gemaak het, want toe hulle ingaan en gaan kyk toe is daar nie ’n teken van die groot steen nie. God het my daardie dag gewys met die krag van gebed en geloof saam met gebed is enigiets moontlik.
Ek het van kleintyd ’n selfbeeldprobleem. Mens dink jy is nooit goed genoeg nie of jy is ’n ‘loser’ maar God bewys my op ’n mannekamp verkeerd oor my siening oor myself. Ek en ’n goeie vriend sit die Saterdagaand in die kamer net voor ons gaan slaap en bid vir mekaar. Net voor dit het ek hom vertel ek voel nie goed oor myself nie. Hy bid en vra dat Jesus my wys hoe Hy my sien en my selfbeeld genees.
Die volgende oggend se laaste sessie het iemand deur ’n skildery vir ons die Woord gebring. Die persoon vra wat sal iemand vir die ‘blank canvas’ of sy skildery aanbied. Ek weet ek het nie eintlik geld by my nie en sal nie iets kan gee nie. Hy vra so tussen die ouens en kyk my diep in my oë en vra wat sal ek gee.
Ek sê ek kan ongelukkig nie iets gee nie. Hy sê toe vir my hy gaan vandag vir my wys hoe God my sien en deur sy skildery het God my genees en die donker wolk oor my was weg. Dit was die mees ‘amazing’ gevoel asof als net weer vol lig was en die donker was weg.
Op daardie tyd werk ek vir myself. Werk is stil en daar is dinge wat gekoop en betaal moet raak. Ek ry een Vrydagoggend vroeg dorp toe en so op pad bid ek in die ry en vra God asseblief, ek weet dis al maande na ek bekeer is, maar ek kan nie meer so sukkel nie en Hy moet my asseblief vorentoe help. Dit was ’n warm somersdag in Oudtshoorn.
Ek maak my dag se werk klaar en terwyl ek oppak kom ’n vrou met ’n koevert na my toe en sê dis nie veel nie, maar dis wat hul graag vir my wil gee vir die werkie wat ek gedoen het. Ek is toe baie gelukkig met die seëning wat ek gekry het en soos ek by die perseel uitry ping my foon met ’n Facebook-boodskap, maar my foon wil vir een of ander rede nie Facebook Messenger oopmaak nie.
Ek ry toe gou na my vrou toe waar sy werk en vra haar of ek gou by haar rekenaar kan inteken om te kyk. Toe ek inteken is dit ’n vriend saam met wie ek jare terug oorsee gewerk het. Hy vra of ek dalk belangstel in ’n werk by ’n maatskappy in Midde Ooste. Twee weke later het ’n ek kontrak geteken. Ek vlieg op 28 Februarie en ’n paar dae na ek geland het, is dit Covid en alles kom tot stilstand.
Ek het werk vir die hele tydperk en kom toe sewe maande later terug op my eerste vakansie. God wys my weer die krag van gebed, maar ook dat Hy ons seën op Sy tyd wanneer mens reg is vir dit. Ek en my vrou se verhouding moes eers ten volle herstel voor Hy my geseën het met werk en ek kon sorg vir my familie met meer as genoeg.
Mens moet nie opgee na ’n paar dae of weke nie. Ons tyd is nie God se tyd nie. Hy sal als laat gebeur op die regte tyd. Amen
Kingdom News: God ken die regte tyd
Die kunstenaar, Anthony Noble by die skildery wat hy weggegee het.
Foto verskaf