In die warmstoel

Hannes Visser

Verlede week stuur iemand vir my uit die bloute ’n WhatsApp-boodskap met twee foto’s van Lourens Oosthuizen, ’n kunstenaars-vriend wat vyf jaar gelede oorlede is.
Die boodskap is: “Hello Hannes, ek het op die 2 pics van Lourens afgekom.

Gedink jy sal hulle dalk wil hê.” Louise wat die foto’s gestuur het, is ’n familielid van Lourens en sy weet hoe hoog ek ons vriendskap geag het. Ek het geen foto’s van Lourens nie en hy het na ons vriendskap verwys as een van “wisselende intensiteit”.

Ons het mekaar sedert 1989 geken, soms vir jare nie gesien nie en dan weer heeltemal onbeplan mekaar op plekke raakgeloop.

Gedurende sy laaste jare het Lourens elke jaar vir ses maande op Prince Albert gewoon waar hy iemand se huis opgepas het. Gedurende daardie tyd het ons mekaar meer gereeld gesien en ure om gesels. Hy het ’n wysheid en rustigheid gehad wat mens nie kan beskryf nie.

Terwyl ek na Lourens se foto’s kyk, dink ek terug aan al die mense wat al oor my pad gekom het en sonder wie ek geestelik armer sou wees. Van hulle het ek slegs vlugtig ontmoet, van hulle het my pad meer as een keer gekruis, maar elkeen het ’n onuitwisbare spoor agtergelaat.

Ek dink die heel eerste een was Meneer Haupt wat in standerd 3 vir my Engels gegee het. Hy het my op ’n dag op sy lessenaar laat staan en vir die klas verduidelik hoe baie ek lees, hoe goed my Engels is en dat ek eendag nog groot hoogtes sal bereik.

Sy voorspelling oor groot hoogtes was nie heeltemal in die kol nie, maar daardie dag het ek besef niemand skuld my iets nie en as ek elke dag net doen wat ek kan is dit genoeg.

Ek het ’n lys probeer maak van al die mense wat van standerd 3 tot nou ’n rol in my lewe gespeel het, maar dit is onmoontlik. Hulle is almal Lourense op verskillende vlakke en ek besef weer terdeë dat ons nie ver hoef te kyk of te soek na sulke mense nie – hulle is elke dag rondom ons.

Dit bring my natuurlik by die tweede deel; Die vraag of ek ook nou en dan ’n verskil in iemand anders se lewe maak, want dit is belangrik. As ons besef dat ons is wie ons is danksy (of ten spyte van) sekere mense, moet ons ook besef dat ons ’n invloed op ander se lewens het. Of die invloed goed of sleg is hang van ons af.

Ek het die volgende gedig onlangs oor ’n ervaring met Lourens geskryf:
Karoo-gebed
die aand was maanloos die sterre uitbundig
ons het ’n bankie uitgedra verby die olyfboord
en die nag ingeasem sonder ’n enkele woord
’n ligte wind het die nag se stemme aangedra
kriek- en kikkerkore en die weemoed van ’n uil
wyd uitmekaar het jou hande uitgereik na bo
die flonkering omarm afgetrek tot teen jou bors
met hande oor mekaar jou oë gesluit gefluister
… amen
(HANNES VISSER)