Agri Klein Karoo hou AJV, bestuur bly onveranderd

Tydens Klein Karoo se AJV staan van links: Johan Allers (Uitvoerende burgemeester), Anton Schoeman (Agri De Rust), Christo Janse van Rensburg (Agri Bo-Kammanassie), Laubscher Coetzee (Voorsitter), Pieter Terblanche (Agri Herold) en Coetzee Laubscher (Agri Volmoed). Foto: Angelique Erasmus

Agri Klein Karoo se algemene jaarvergadering het op Dinsdag 5 November, by Kansa Krale buite Oudtshoorn plaasgevind.

Die vergadering is deur verskeie boereverenigings asook boere en rolspelers in die landbousektor in die Klein Karoo bygewoon. Die oggend is geopen deur Ds. Jan Marais wat uit Deuteronomium 8:10 gelees het.

Sy boodskap was: Die vrug van die Gees. Twee gassprekers, Henry Josephs en Kobus Rautenbach, het die boere toegespreek oor alternatiewe energie en die verskeie keuses en moontlikhede wat daar in die sektor is.

Kwessies wat tydens die vergadering aangespreek was, is die landelike water, vordering van die sementpad se herstelproses, die treinspoor wat tussen Oudtshoorn en Calitzdorp loop asook die effektiwiteit van kameras wat op verskeie paaie in en om die area aangebring is.

Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Klein Karoo, het die vergadering gelei, en tydens sy voorsittersverslag die vreugde in sy hart met almal gedeel oor die wonderlike reën wat in die Klein Karoo geval het.

“Damme loop weer oor, wat ’n goeie produksiejaar beteken. Met natter tye kom daar natuurlik ook nadele soos bye wat nie wil werk nie en die grond wat nat is wanneer daar geoes moet word, maar ten spyte van die uitdagings, is dit lekkerder om water te hê as die droogte,” het hy gesê.

Hy het die bestuurslede bedank vir hul ondersteuning asook vir Helen Butler, die kantoorbestuurder. Hy het afgesluit met die boodskap: “Ek wens vir elkeen ’n geseënde Kersseisoen en voorspoedige nuwe jaar toe.”

Die bestuur wat uit bestuurslede van die onderskeie boereverenigings bestaan bly onvernaderd. Die bestuurslede is: Laubscher Coetzee (voorsitter), Anton Schoeman (Agri De Rust), Christo Janse van Rensburg (Agri Bo-Kammanassie), Pieter Terblanche (Agri Herold) en Coetzee Laubscher (Agri Volmoed) (ANGELIQUE ERASMUS)