Kingdom News: Getoets aan tafel

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

Daar is baie mense in ons samelewing wat kompromieë aangaan met die dinge van ons wêreld.

Dit terwyl ons as kinders van God deur God se Woord duidelik geleer word, dat ons anders as die wêreld behoort te leef, te dink en dinge te doen.

Ons redeneer nie soos die wêreld nie, ons dink nie soos die wêreld nie en ons leef ook nie ons lewens volgens die beginsels van hierdie wêreld nie. God se mense is nie mense van Sy Koninkryk en van die wêreld nie.

Daar is egter tans in baie opsigte ’n wesenlike pro-bleem met ons geloof vandag. Ons glo dat ons kompromieë met die wêreld kan aangaan. Dit leer dat dit goed is om as ’n wêreldse Christen te lewe, om ‘n sekulêre wêreldbeskouing te hê en menslike wysheid met Goddelike wysheid te meng. Dit poog om krag en sukses te verkry uit die beginsels en die wysheid van ons tyd in pleks van om ten volle op God se Woord en die Heilige Gees staat te maak as kinders van God.

Ek glo dat die oorgrote meerderheid van diegene wat hulself vandag Christene noem, ernstig onder die invloed van hierdie sienswyse is. Hulle leef in kompromie en hulle besef dit nie eers nie.

Kompromieë weerhou mense daarvan om uit die ingesteldheid van die natuurlike persoon te beweeg na die ingesteldheid van die geestelike persoon wat aan Christus onderwerp is.

Die Here se opdrag is om jou ten volle te bekeer. Ons moet wegdraai van die versoeking om te aanbid by die altaar van sekulêre humanisme wat die aanbidding van menslike wysheid en rede is. Bekering beteken ook om na die Here te draai, waarsonder bekering onvolledig is.

Ons moet ten volle staatmaak op die wysheid en kennis van God wat vrylik aan ons gegee word deur openbaring van die Woord en deur Sy Gees. Die Bybel is ons finale gesag in wat ons glo en hoe ons leef. Ek nooi jou vandag om saam met my te kyk na ’n bekende verhaal uit die lewe van Daniël en hoe Daniël homself voorgeneem het om geen kompromie aan te gaan nie.

Ons lees die volgende in Daniël 1:8:
Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie.
Kom ek gee jou die konteks van wat hier gebeur het en hoe hierdie spesifieke vers inpas in die groter prentjie in Daniël se lewe:

In die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook ’n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre.

Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense.

Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, be-kwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. Die koning het bepaal dat hulle ’n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree.

Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja, maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego. Ons lees en verstaan dat ongeveer in die jaar 586 vC val Babilonië Jerusalem binne en Jerusalem kom tot ’n val. God se mense word in ballingskap weggevoer na Babilonië.

Daniël word saam met ander jong mans, weggevoer ongeveer 800 km vanaf Jerusalem waar hulle as totale vreemdelinge in ’n ander land is.

Die koning van Babilonië gee opdrag dat hierdie jong mans in die Babiloniese sisteem ingeburger moet word, hulle moet die Babiloniese gebruike leer, die kultuur aanleer en hulle volgens die kulturele sisteme van Babilonië onderrig sodat daar uit hulle groepering, toekomstige amptenare vir die koning gekies kan word wat dan sal diens doen in die Babiloniese ryk as raadgewers, adviseurs, en ander ambagte.

Daniël, net soos ander, moet dus alles van sy Joodse kultuur prysgee en opoffer en homself in ’n nuwe land vestig onder die kulturele asook gods- dienstige praktyke van hierdie land en dit ten volle nastreef. Ongehoorsaamheid hieraan is ’n besliste doodsvonnis. Daniël neem egter ’n deurdagte en voorgenome besluit van die begin af. Hy neem hom voor dat hy nie enige voedsel aan die koning se tafel sal eet nie. “I will not defile myself” – I will not do any harm to my purity before the Lord…”

Iemand skryf hieroor en sê die volgende:
We need to be like Daniel who would not defile himself and be a part of the idolatry in the culture around him. He refused to go along with the crowd taking into himself what everyone was partaking of and defile himself with the kings idolatrous food. He would not tolerate mixture. This is not just about ingesting physical food but the king was trying to make Daniel (and the other youth) inwardly and outwardly a Babylonian. To think, speak, eat, dress, and act like a Babylonian.

The reason Daniel did not compromise was that he “purposed in his heart” not to defile himself. The word means to plan or rehearse. It implies he already decided and had a plan of how to respond when the opportunity to compromise would be presented. He purposed, “what will I say if this happens or if that happens; what will I do if this is presented to me?” He made a decision ahead of time.

Daniel besluit dus met doelgerigtheid en spesifieke rede, doelbewustelik om nie enige geestelike kompromie aan te gaan nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Dit is baie interessant dat Daniël nie bekommerd was of enige slapelose nagte gehad het oor die feit dat die koning sy naam verander het nie. Ek glo die rede hiervoor was dat Daniël geweet het wie hy was en dat dit nie vir hom saak gemaak het wat hy genoem word nie. Hy het geweet wat sy ware identiteit is en toe die koning sy naam verander, het Daniël in hierdie vaste identiteit van wie hy is, bly glo.

Daniël het ook geen objeksies gehad oor die onderrig wat hy sou ontvang nie. Weereens, ook hierin het Daniël besef en geweet dat hy in God gegrond is en dat geen ander kultuurperspektief en onderrigstelsel, hom op enige manier sou ontneem van sy standvastigheid in God nie. Dit wat hy van God geweet het, ervaar en beleef het, was vir hom genoeg en dit het hom vasberade gemaak om aan God vas te bly hou in hierdie vreemde land.

Daniël besluit egter dat hy wel nie aan die koning se tafel sal eet nie. Hy is nie bereid om sy lewe te ontheilig deur kos wat aan afgode geoffer is, te eet en homself daardeur voor God te ontheilig nie.

Ek wil egter vir jou noem, liewe leser, dat dit hier nie oor die kos gegaan het nie. Daniël het ’n geestelike siening van dinge gehad en hy het in beginsel van wat hy ervaar het God nie wil hê hy moet doen nie, in wysheid en insig opgetree.

Hieroor skryf iemand ook soos volg:
“Daniel realised that his relationship with God, included and touched every aspect and being of his life and that his “daily bread” will not be defiled.”

Ons lees verder in hierdie gedeelte dat Daniël met die amptenaar gaan praat en hom goedgunstiglik versoek om hulle eerder ander voedsel te gee wat nie deur die koning se tafel verskaf is nie.

Van hierdie oomblik af sien ons dat God op ’n wonderbaarlike manier Daniël se gehoorsaamheid seën en die feit dat Daniël te midde van sy nuwe uitdagende omstandighede, besluit om geen kompromieë aan te gaan met dit wat hy weet nie reg is in die oë van die Here nie. Ons lees verder in hierdie gedeelte uit Daniël 1, dat God vir Daniël-hulle op die volgende maniere deurkom in hulle situasie:

Eerstens, lees ons dat Daniël guns van die Here kry. “Die amptenaar het toe hulle versoek toege-staan…”

Tweedens lees ons dat God hulle geseën het: “Na 10 dae het hulle mooier en gesonder daar uitgesien as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het…”

Derdens lees ons dat God hulle geseën het met baie goddelike insig, wysheid en gesonde verstand: “God het aan hierdie jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is en ook wysheid. Daniel kon enige gesig of droom uitlê”

En dan laastens lees ons dat God se goedheid en guns oor hulle in die langtermyn volhoubaar was:
“Daniel het in diens van die paleis gebly tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.”
Selfs toe Babilonië deur die Persiese reik oorgeneem word, het Daniël selfs in die nuwe bedeling guns gehad en ’n hoë posisie beklee omdat hy sy lewe ingerig het volgens God se beginsels van geen kompromieë nie.

In hierdie opsig wil ek die laaste aanhaling met jou deel uit iets wat ek hieroor gelees het:
Daniel and his friends showed that inner conviction can overcome any outer pressure and that

God-honouring convictions, result in God-blessed and God-honouring rewards.

Besluit vandag dat jy as kind van God die beginsels van Sy Woord gaan begin toepas in jou lewe sonder kompromieë. Doen dit ten volle en moenie met die sisteme en beginsels van hierdie wêreld meng nie. Vra die Here deur Sy Heilige Gees om elke dag aan jou die nodige insig, wysheid en kennis te gee om tot eer van Sy naam te leef en suksesvol te wees. Te veel Christene wil met God en die wêreld in beginsel geassosieer wees. Hulle wil die begeerlikhede van die wêreld nastreef, maar ook die aansien van ’n toegewyde lewe aan Christus voorhou.

Ongelukkig kan God hierdie sienswyse nie seën nie en gaan sulke mense op die ou einde eerder die beginsels en gebruike van hierdie wêreld nastreef en volg, eerder as Christus Jesus en Sy beginsels. Jesus het self gesê dat geen mens twee meesters kan dien nie. Jy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of die een meer liefhê en die ander een haat.

Wees jy soos Daniël en besluit doelgerig om geen kompromieë met die wêreld se stelsels en manier van dinge doen, aan te gaan nie. Dan sal jy werklik geseënd wees.

Die artikel is gebaseer op Sondag 3 Maart 2024 se preek, gaan kyk gerus daarna op ons YouTube kanaal: Klein-Karoo Gemeente Oudtshoorn. (Deur Pastoor Francois Mattheüs)