Kingdom News: Genade groot & Genade genoeg

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

Die lewe van die apostel Paulus is altyd vir my ’n merkwaardige voorbeeld van wat dit beteken om op Jesus Christus te bly fokus en op Hom te bly vertrou, ongeag die omstandighede van die dag of tyd.

Sy lewe en getuienis is ook vir my en vir jou ’n aansporing om die wonderlike evangelie van Jesus Christus te bly verkondig en te leef ongeag die omstandighede waarin ons onsself mag bevind. Paulus se lewe leer my wat genade is.

Paulus se getuienis leer my dat God se genade ook genoeg is vir ons omstandighede, ons uitda-gings, ons tye van blydskap en selfs die tye wanneer ons nie meer weet watter kant toe nie.

Paulus se lewe leer ons dat ons onwrikbaar moet bly vashou aan die ewige hoop, Jesus Christus.

Ek deel vandag met jou ’n reaksie van Paulus aan die gemeente in Korinte van daardie tyd, waarin hy hierdie gemeente aanmoedig om nie af te dwaal van die evangelie nie, waarin hy op ’n baie persoonlike manier uit sy eie lewe vertel van dit wat hy deurgemaak het, maar dat God altyd aan hom die versekering gee dat Hy betrokke is, omgee en genoeg genade voorsien sodat Paulus kan bly voortgaan met die missie waarvoor God hom geroep het.

Dit is ook net so van toepassing op jou en my hier vandag. Lees saam met my die volgende skrifgedeelte:
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 2 Kor. 4:8-10

Dit is belangrik dat ons die konteks van Paulus se skrywe sal verstaan sodat ons ook ten volle kan begryp hoe dit ook vandag op ons lewens van toepassing is en hoe ons uitdagings en omstandighede kan hanteer.

Die apostel Paulus het 2 Korintiërs uit Masedonië in omstreeks 55/56 n.C. geskryf. Dit was ongeveer ’n jaar nadat hy 1 Korintiërs geskryf het en ’n jaar voordat hy sy brief aan die Romeine geskryf het. Paulus het tydens sy tweede sendingsreis, die stad Korinte besoek en ’n gemeente daar tot stand gebring (Hand 18:1).

Hierdie briewe (4 in totaal waarvan twee bewaar gebly en in die Bybel opgeneem is) het Paulus aan hierdie gemeente gerig. Boek 1 en Boek 3 het verlore geraak, en toe het boek 2, 1 Korintiërs geword en boek 4 het 2 Korintiërs geword. Dit is dus Paulus se laaste brief aan hierdie gemeente en soos ek genoem het, is dit anders in die sin dat dit baie persoonlik van aard is. Paulus verdedig ook sy apostelskap en evangelie.

Die sentrale tema van 2 Korintiërs is die verhouding tussen lyding en die krag van die Heilige Gees in Paulus se apostoliese lewe, bediening en sy boodskap. Paulus se teenstanders het sy motiewe en sy persoonlike moed bevraagteken. Hulle het aangevoer dat hy te veel gely het om werklik ’n Geesvervulde apostel van die opgestane Christus te kan wees.

Paulus argumenteer egter en verdedig dat sy lyding die middel is wat God gebruik om sy heerlikheid deur Paulus se lewe te openbaar.

Die gemeente in Korinte het met verdeeldheid en rusies gesukkel. Vir ’n meerderheid van die gelowiges daar was die probleem opgelos teen die tyd dat Paulus 2 Korintiërs geskryf het. Baie het berou gehad oor hulle sondige weë en het teruggekom in eenheid met mekaar en met die leierskap van Paulus en het dit wat hy aan hulle geleer het, ten volle ter harte geneem en op daardie evangelie van Jesus Christus bly voortbou.

Paulus het egter steeds die behoefte gevoel om ’n verdediging van sy apostelskap en sy boodskap te verwoord. Sommige in die kerk het blykbaar sy sagmoedigheid onder hulle beskou as ’n teken van morele swakheid of gebrek aan gesag (2 Korintiërs 10:1–2).

Hierdie beskuldigings het daartoe gelei dat Paulus homself verdedig deur aan te voer dat hy op dieselfde vlak van belangrikheid as die ander apostels was, dat hy diepgaande kennis van die Christelike geloof gehad het, dat hy diepgaande fisiese straf in die naam van Christus gely het, en dat hy visioene en openbarings van God ontvang.

Nou het ons ’n baie beter konteks van Paulus se redes waarom hy hierdie spesifieke brief aan hierdie gemeente geskryf het, maar meer as dit, kan ons vandag ook hierdie konteks gebruik sodat ons uit Paulus se lewe sekere lesse kan neem om ons te help in ons uitdagings en omstandighede asook ons verdediging van die evangelie van Jesus Christus en dat Jesus Christus se genade ook vir ons vandag, vir my en vir jou, oorgenoeg is en dat Sy genade ons elke dag sal deurdra.

Kyk wat skryf Paulus verder aan hierdie gemeente.
Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer. Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 2 Kor. 4:14-18

Paulus se onwrikbare versekering en persoonlike getuienis is ook ons getuienis en versekering vandag! Net soos Paulus moet ons ook bly vashou aan die genade en hoop wat ons verlosser, Jesus Christus elke dag aan ons vrylik gee. As ons kyk na dit wat Paulus in sy lewe moes deurmaak en verduur ter wille van Jesus Christus, besef ons dat Paulus nie in staat was om in sy eie krag en vermoë, staande te kon bly nie. Indien Paulus nie aan Jesus Christus bly vashou het en sy oog op Hom bly fokus het nie, is ek oortuig, sou ons nie vandag hierdie wonderlike skrifgedeeltes tot ons beskikking gehad het om ons as gelowiges ook te bemoedig en staande te hou nie.

Paulus moes baie dinge deurstaan en deur baie uitdagende omstandighede worstel in sy lewe.
Dit is ook waarom baie mense sy bediening en apostelskap bevraagteken het. Hoe was dit moontlik dat iemand wat so van Jesus Christus getuig, deur soveel uitdagings kon gaan? Behoort dit dan nie altyd goed te gaan met God se mense nie? Miskien is dit waarmee jy ook tans worstel. Hoe is dit moontlik dat iemand wat so aan Jesus Christus bly vashou en gedurig deur oor Sy goedheid en genade getuig, deur soveel uitdagings gaan? Is dit die beste getuienis wat baie Christene het? Dit is beslis vrae waarmee baie van ons gekonfronteer word. Paulus is openlik oor sy lewe en wat hy moes deurmaak en dit is beslis iets waaroor baie moeilike vrae soos genoem, gevra kan word.

Paulus is vyf maal in sy lewe gestraf met 39 houe wat aan hom toegedien is, hy is by drie verskillende geleenthede met stokke geslaan tot hy amper dood was, hy is eenmaal gestenig en vir dood agter gelaat, hy het driemaal skipbreuk gely, was vir twee dae ter see gelaat, hy was verskeie kere deur rowers aangeval, deur mense in stede en dorpe, selfs deur sy eie mense, deur mense wat hulle voorgedoen het om sy vriende te wees, in die rug gesteek, baie nagte koud en buite geslaap, baie kere sonder kos en selfs water gebly vir dae aan- een, asook die groot verantwoordelikheid en angs wat hy geestelik verduur het vir die gemeentes wat hy gestig het gedurende sy bediening.

Ons kan dus sien en besef dat Paulus beslis geweet het wat dit is om deur baie uitdagings te worstel. Daar was egter iets wat Paulus besef het, wat hom deurgedra het deur al hierdie dinge en wat aan hom die moed en ywer gegee het om voort te bly gaan met die oog gevestig op Jesus Christus. Dit is ook my en jou aansporing vandag. Die vraag is, wat het Paulus van God besef wat hom soveel deursettingsvermoë gegee het, wat was dit wat Paulus verstaan het en aan hom die krag gegee het om elke dag op te kan staan en aan te gaan? Watter rol het God se genade in Paulus se lewe gespeel? Wat is die effek van God se genade vandag in my en in jou lewe? Paulus skryf die volgende:
Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede. Die God en Vader van die Here Jesus weet dat ek nie lieg nie. Aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid! 2 Kor. 11:26-31

Paulus het tot die besef gekom dat daar ’n genadegawe van God in sy lewe aan die werk is. God se krag werk elke dag in Paulus se lewe en dit is hierdie krag deur genade wat hom in staat stel om dit te kan doen wat hy moet doen sodat Jesus Christus verheerlik kan word. Hy skryf verder, en dit is die boodskap ook vir my en jou vandag:
Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. 2 Kor.12:6-10

Paulus gee aan ons die geheim vir uithou en aanhou te midde van alle omstandighede. Hy gee aan ons die antwoord op ons kwellende vrae wanneer ons moeg en swak voel. Paulus verstaan dat God se genade so groot is en soveel genoeg is, dat dit alle omstandighede en uitdagings, en selfs enige vleeslike dorings, oortref en dat dit groot genoeg is om ons kragtig te versterk sodat ons te midde van dit, selfs al word niks van hierdie omstandighede van ons af weggeneem nie, ons steeds sal kan opstaan en aangaan met dit waartoe Hy ons geroep het tot Sy verheerliking.

Wanneer ons dit ten volle verstaan, kan ons ook die volgende verklaring maak:
“I asked the Lord to make me strong that I might achieve,
But He made me weak that I might learn to humbly receive.
I asked the Lord for health that I might do greater things,
But He gave me pain that I might do better things.
I asked the Lord for wealth that I might be happy,
But He gave me poverty that I might be wise.
I asked the Lord for greatness that I might have the praise of men,
But He gave me weakness that I might feel the need of Him.
I asked the Lord for all things that I might enjoy life,
But Jesus gave me life that all things I might enjoy.
I got nothing that I asked for,
But everything I had hoped for…
God took me down that He might lift me up.
Despite myself, my unspoken prayers were answered.
Who I ask, could be more blessed than me?”
(Deur Pastoor Francois Mattheüs)