Groot kommer en ongelukkigheid heers onder inwoners en diereliefhebbers van Oudtshoorn omdat die Munisipale skut nie meer na-ure op noodoproepe mag reageer nie.
Op ’n inskrywing op die Facebookgroep, Oudtshoorniete Staan Saam, het ’n inwoner gesê dat Magda Davel van die munisipale skut, glad nie meer na-ure op noodoproepe mag reageer nie of uitgaan nie.
Die bekommernis is as daar ’n noodgeval is waar ’n hond of selfs groter diere soos perde of beeste losloop en die skut nie kan reageer daarop nie, dit ’n gevaar vir inwoners kan wees.
“Wie moet ’n mens dan bel as daar ’n dier in die pad hardloop en ’n gevaar vir motoriste inhou?”, het ’n lid van die diere-organisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), bekommerd aan Die Hoorn gevra. “Diere wat raakgery word moet ook dan ure daar lê sonder hulp.”
Op navraag aan die Oudtshoorn Munisipaliteit het Aurelia Mle, woordvoerder van die Munisipaliteit, gesê dat dierebeskerming en gesondheid ’n prioriteit is vir die Oudtshoorn Munisipaliteit, maar weens begrotingbesnoeiings sal die skut slegs operasioneel wees gedurende werksure, wat van 07:30 tot 16:30 is.
Op die vraag wie inwoners alternatiewelik na-ure moet skakel, het Mle geantwoord dat ander privaat instansies geskakel moet word.
Volgens Vanessa Engelbrecht van die Animal Care Team (ACT), is hulle nie in staat om rondloper diere te akkommodeer nie omdat hulle geen plek het om die diere te huisves nie.
“Dit is waarvoor die munisipale skut veronderstel is om daar te wees”, het Engelbrecht aan Die Hoorn gesê.
Die Hoorn het ook ’n navraag na Ansa De Jager, van die Diereherberg gestuur, maar teen druktyd nog geen terugvoer gekry nie.
Een van die kommentare op die blad het as volg gelees: “Ek glo dat die mense in beheer van die skut, ook rus nodig het vir die ondankbare taak wat hulle verrig.”
“Geen persoon kan 24 uit 24 uur aan diens wees nie. Ook nie 365 dae per jaar nie. Waarvoor is privaat ‘Vet’ daar? Kos geld ja, maar waarom moet die skut dan ’n wetlike verpligting oor my diere hê?”
“Waar stop my verantwoordelikheid?”
“Om vir’n dier te sorg, gaan gepaard met verantwoordelikhede vir my as eienaar, voeding, beserings, ens.” (Deur Lindi Brill)