Met die oggendson wat al voor 06:00 deur die gordyne begin loer, is dit duidelik dat dit ’n warm dag in die Klein Karoo gaan wees.
Die hitte in hierdie area moenie sommer ligtelik opgeneem word nie.
Dit kan verskeie aktiwiteite beïnvloed soos atletiekbyeenkomste, sportdae of selfs ’n eenvoudige middag stappie.
Daarom is dit van kardinale belang om bedag te wees op jou welstand wanneer jy aan aktiwiteite in Klein Karoo se hitte deelneem, wat die kwik op gereelde basis tot oor 40 grade druk.
Maak dus altyd seker dat jy genoeg water byderhand het en drink. Sorg ook dat alle diere toegang tot water kry en maak gereeld seker dat waterbakke vol is.
’n Stappie teen ’n matige tempo kan lei tot ligte dehidrasie in ’n uur, terwyl ’n harde oefensessie tot dieselfde resultaat in net 30 minute kan lei.
Vul jou liggaam met ekstra elektroliete wat in verskeie sportdrankies by supermarkte beskikbaar is, of koop ‘Rehidrat’-pakkies, beskikbaar by enige apteek en gooi dit by jou water om te verseker jy bly gehidreer.
Dehidrasie kan nadelige uitwerkings op die liggaam hê, insluitend gemoedsveranderinge, verwarde denkwyse en ’n afname in atletiese prestasie. Energie- en sportdrankies is net effektief as jy energie nodig het, en dus aktief is.
Wees versigtig vir energiedrankies wat hoë hoeveelhede suiker bevat en ook kaffeïen, die kombinasie van suiker en kafeïne het ’n ligte diuretiese uitwerking op jou liggaam en kan jou liggaam uitput wat tot verdere dehidrasie lei.
Jou liggaam gebruik water as ’n verkoelings- meganisme om liggaamstemperatuur te beheer deur jou sweet.
Selfs in matige warm weer gaan aansienlike hoeveelhede water deur sweet verlore. Daarom is dit belangrik om genoeg water te drink al kry jy nie warm nie.
Dis belangrik om ook na die uiterlike om te sien, en nie net die innerlike nie.
Sonskerm moet jou beste vriend wees, ongeag of jy in die middel van die woestyn woon of in Antarktika. Dit is belangrik om jou eerste laag sonskerm minstens 30 minute voordat jy in die son gaan wees aan te sit en ten minste elke 2 uur daarna weer.
Sonskerm hou jou vel veilig teen die son se UV-strale. Dit filtreer die UV-strale en keer dat dit die vel binnedring. Sonder sonskerm word ons vel blootgestel aan sonskade, wat baie ernstig kan wees, en selfs tot kanker kan lei.
Noudat jy bewus is van die basiese voorsorgmaatreëls wat nodig is om die Klein Karoo se hitte te trotseer, is dit noodsaaklik om dit doeltref-fend te implementeer. (Deur Trix Jansen van Rensburg)
Bly só veilig in die son en hitte
Generiese foto