Ek onthou my heel eerste preek. Ek moes preek vir my praktiese opleiding en ek kan nog onthou hoe gespanne ek was.
Ek het daardie aand gepreek oor vergifnis uit Paulus se brief aan Filemon. In Mattheus 5 begin Jesus se bediening met ook met Sy heel eerste boodskap of preek aan ’n groep mense wat vergader om na Hom te luister. Die tema vir sy heel eerste boodskap is: “Die werklik gelukkiges”.
Daar lees ons hoe Jesus begin praat en sê: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is…” (Mat. 5:3)
Dit is interessant dat uit alles waaroor Jesus kan begin praat, Hy heel eerste hierdie boodskap wil oordra. Die Psalmdigter skryf ook hieroor in Psalm 84. Enkele verse lees soos volg:
Psalm 84:5-13:
“5 Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
6 Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
7 As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit ‘n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
8 Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
9 HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, O God van Jakob! Sela.
10 O God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.
11 Want ’n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
12 Want die HERE God is ’n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.
13 HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!”
Die woord “geseënd” beteken “gelukkig”, so hier is ’n goddelik geïnspireerde voorskrif vir geluk. Daar is vyf bestanddele in hierdie voorskrif vir ware geluk of dan welgeluksaligheid:
- Daar moet ERKENNING van God wees
Die fundamentele rede vir al die ongelukkigheid in die wêreld is dat God uit die lewens van mans en vroue gelaat word. In hierdie gedeelte word daar na God verwys op hoogagtende wyse en word God waarlik erken vir wie Hy is:
(1) Hy is die Here die Almagtige – Hy is groot, vol van krag en daar is niemand soos Hy nie.
(2) Hy is die lewende God – Wat ’n wonderlike titel is dit tog! Hy is lewend en aktief namens Sy kinders.
Baie aanbid vandag ’n “dooie” God, baie in heidenlande en, helaas, baie in “beskaafde” lande.
Dit dui ook op dat hierdie titel vir die Here ons vertel van Sy voorsiening.
(3) Hy is my Koning en my God – Die psalmis het Hom erken as die Koning van die konings.
(4) Hy is die God van Jakob – Hierdie titel vir die Here vertel ons van Sy doel soos Hy met Jakob gehad het, want dit is Sy wil vir elkeen van ons dat ons “meer as oorwinnaars” moet wees (Romeine 8:37).
(5) Hy is God ons skild – Hier het ons natuurlik ’n titel vir God wat ons herinner aan Sy beskerming.
Die eerste bestanddeel van ’n werklik gelukkige lewe is om God te erken as die almagtige, genadigvoorsiende, uitnemende Een wie se doel dit is om ons te transformeer en ons te beskerm vir Sy eer.
- Daar moet BEGEERTE na God wees.
Die onbekeerdes het nie so ’n begeerte nie – kyk na Romeine 3:11, maar kyk wat sê die man wat God herken – Psalm 84:2-3. Hy beny selfs die voëls omdat hulle hulle neste gemaak het en hulle families in die huis van die Here grootgemaak het! Smag ons so na Hom? Wat begeer ons die meeste van alles, en waarvoor leef ons en stel ons ons liefde? Kyk na die woorde van die Here Jesus wat in Matteus 5:6 opgeteken is. Baie mense honger en dors na wêreldse plesier, waarin daar geen bevrediging is nie. Kyk wat sê die psalmdigter tereg in vers 10, want dit is beter om die laagste plek in die geloof-huishouding te hê as die hoogste plek buite dit. - Daar moet saam met God GELOOP word.
Let op die beskrywing van die lewe in vers 7. Ons gaan almal deur die dorre laagtes.
Ons almal leer vroeër of later iets van hartseer, teleurstelling en verlies, want die pad wat God ons roep om te loop, moet langs die pad van die vallei loop.
Niemand is vrygestel van die laagtes nie, maar die groot woord in vers 7 is ”deur”.
Die vallei is nie ons tuiste nie, want ons gaan daardeur en verder in die teenwoordigheid van God (vers 8). - Daar moet met God GEPRAAT word.
Kyk na vers 9. Niks is meer geneig om ware geluk in ons lewe te bring as verhoorde gebed nie. Beantwoorde gebed is ’n persoonlike demonstrasie dat ons God die lewende God is en in ons belangstel. Wat gebeur wanneer ons bid volgens hierdie gedeelte:
(1) Hy hoor ons gebed.
(2) Hy Sien om na ons.
(3) Hy hou ons veilig onder Sy sorg. - Daar moet VERTROUE in God wees.
Daar moet ’n geloofsvertroue wees, wanneer ons Hom kan vertrou, neem ons begeerte na Hom toe en begin ons saam met Hom wandel en met Hom praat.
Die enigste manier is ’n dag-vir-dag, oomblik-vir-oomblik vertroue in Hom.
Hierdie vertroue beteken letterlik dat ons:
(1)Weet ons kan by God skuil en veilig wees.
(2)Weet ons kan op God staatmaak en reken.
(3)Weet ons kan enige iets aan God toevertrou.
(4)Weet ons hoef net op God te wag. Hy sal op die regte tyd doen wat Hy wil doen.
So, wie is hulle wat in die wêreld van vandag, te midde van uitdagings en moeilike omstandighede, werklik steeds gelukkig kan wees?
Dit is elkeen wat God erken as God, ’n begeerte het om in verhouding met Hom te staan, saam met Hom wandel, met Hom praat en Hom vertrou dat Hy weet wat die beste is vir Sy kinders.
Wanneer jy hierdie voorskrif volg, sal jy werklik gelukkig wees. (Deur Pastoor Francois Mattheüs)
