HUURDERS soos TFASA, AIFA en die Oudtshoorn Aeroklub word nie uitgesit wanneer die huurkontrak tussen hierdie instansies en die Oudtshoorn Munisipaliteit in April 2024 verstryk nie, sê die Groter Oudtshoorn burgemeester Chris Macpherson.
Macpherson het Maandag tydens ’n mediasessie, te midde van bekommernis op die dorp en bewerings dat die lughawe gaan toemaak en vervang sal word deur lae-inkomste behuising, gesê die lughawe in Parkweg – wat munisipale eiendom is – se toekoms is reeds vasgelê in die huidige langtermynbeplanning vir die dorp se ontwikkeling.
Volgens Macpherson is daar reeds te veel kapitaal deur die huidige huurders van die lughawe belê vir hulle om bloot net uitgesit te word wanneer die huurkontrak eindig. Daar is onder meer opknappings gedoen aan die omheininging en aanloopbaan, skure gebou en ’n beheertoring oor die jare heen ten duurste opgerig.
Hy het gesê dat ’n RFP, ’n “request for proposals” of versoek om voorstelle, wel binnekort op nasio-nale vlak in die media sal verskyn om belangstellendes aan te moedig om voorstelle vir die lughawe se toekoms op die tafel te sit, maar dat dit nie beteken dat die huidige huurders – onder andere AIFA en TFASA – verwyder sal word nie.
“Belangstellendes sal die huidige huurders in ag moet neem met hul voorstelle vir toekomstige besighede of ontwikkeling en ons sal same-werking tussen alle partye aanmoedig,” het Macpherson gemaan.
Die mediasessie self is deur Macpherson gereël om gerugte wat moontlik tans die rondte doen aan te spreek.
TFASA self was onlangs in die nuus nadat Amerika sanksies op die vliegskool geïmplimenter het weens die vliegskool se verhouding met China, en omdat Chinese leerlinge hierheen kom vir opleiding.
Macpherson het bygevoeg dat hierdie sanksies geen invloed op TFASA se plek in Oudtshoorn het nie.
Luidens ’n verklaring op TFASA se webtuiste het hierdie sanksies tans geen invloed op hul bedrywighede op Oudtshoorn of elders in die land nie.
Vir meer inlgting hieroor, besoek www.tfasa.com. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Lughawe is veilig, sê burgemeester
Die Oudtshoorn Lughawe is volgens die huidige burgemeester, Chris Macpherson, van kardinale belang vir die dorp se toekomstige ontwikkeling. Hierdie foto is tydens ’n vorige geleentheid geneem. Foto: Stefan Skapie Goosen