Hoop in die donkerte reeks 3:
Ek gesels tans met jou oor ’n groot geloofsworsteling. Baie Christene, net soos die profeet Habakuk ook, worstel met die eeu-oue dilemma van waarom God toelaat dat dinge gaan soos dit gaan. Waarom doen die Here nie iets aan al die probleme, geweld en ongeregtigheid nie?
Dinge gaan elke dag agteruit en ons wonder waar God in die prentjie inpas. Habakuk het ook gewonder en hiermee geworstel. Kom ek gee net weer die agtergrond:
Ongeveer 2 600 jaar gelede, was daar ’n profeet in Juda met die naam Habakuk. Hierdie profeet sit met ’n baie groot dilemma. Die ryk is verdeel tussen die noordelike ryk, Israel en dan die suidelike ryk, Juda. In albei van hierdie ryke, heers goddelose konings, daar is geen wet en orde nie, mense stry en baklei onder mekaar en daar is geweld en vernietiging. God se sogenaamde spesiale mense is in wanorde en het hulleself weggedraai van God af. Hulle volg nie meer God se wette en verordinge nie.
Boonop is daar die groeiende gevaar van die Galdeërs, ’n wrede en verwoestende nasie wat gebiede inval en mense voor die voet doodmaak of gevange neem en wegvoer na ballingskap. Oor ’n kort tydperk, ongeveer 11 jaar, sal Jerusalem verwoes word, die tempel vernietig word en God se mense in ballingskap weggevoer word na Babilonië.
Habakuk wend hom tot die Here te midde van hierdie verskriklike uitdagings en tyd van wetteloosheid:
“2Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?”
In Habakuk se eerste hoofstuk is die klagte teen God die volgende: “God is NOWHERE”.
Wanneer ons egter na hoofstuk twee kyk en begin lees, sien ons dat Habakuk se geloofspers-pektief begin verander van “God is NOWHERE” na “God is NOW, HERE”.
Ons sien hier dat Habakuk iets doen wat so noodsaaklik is. Hy neem ’n geloofsbesluit om op te staan, posisie in te neem en op die Here te wag!
“Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.” Hab. 2:1.
Habakuk doen dit wat elkeen van ons as God se kinders ook behoort te doen, in elke omstandigheid, wanneer die son skyn, wanneer die wolke van onheil rondom ons toetrek, wanneer jy deur ’n diep donker dal stap of langs groen weivelde jou rus vind.
Habakuk sit vir homself ’n wagmuur op, ’n geestelike wagmuur. ’n Plek van hoogte waar hy op die Here sal wag en bly wag.
Ons moet onthou, “God’s delays are not God’s denials…” Selfs al twyfel ek, sal ek kies om op die Here te wag, selfs al sien ek geen weg vorentoe nie, weet ek Hy sal ’n weg maak. Wanneer ek hoop wil verloor, besef ek met die Here is daar altyd hoop. Wanneer ek bang en onseker voel, weet ek die Here sal my nooit verlaat nie.
Here, ek’t gedink U is nêrens, maar Here, ek weet nou U is hier.
Met vandag se skrywe, wys ek jou op die derde en laaste hoofstuk van die profeet se boek. Ons sien nou dat hier ’n totale verandering in geloofsperspektief is. Die moedelose profeet word nou ’n hoopvolle profeet. Die profeet wat met God argumenteer word nou die een wat op Hom wag.
“Die wat op die Here wag, kry nuwe krag” (Jes. 40:31) – Dis nie krag om aan te gaan met jou lewe nie, dit is krag om aan te gaan met God se lewe. Krag beteken ek het die Here gesien en te midde van die omstandighede, het my hart tot bedaring gekom en sien ek kans vir waarmee ek ookal gekonfronteer word. Krag gaan daaroor dat God verskyn en toe God verskyn, begin Habakuk te sing! Habakuk sing nou ’n oorwinningslied tot eer van die Here in die vorm van ’n gebed. Ons lees hierdie vers in hoofstuk 3:
“Here, ek het die verslag aangaande U gehoor en ek het gesidder. O Here, laat herleef U werk te midde van die jare; te midde van die jare, maak dit bekend; in toorn, onthou onverdiende guns. God kom van Teman en die Afgesonderde Een vanaf die berg Pa’ran. Sy grootsheid bedek die hemele en die aarde is vol van Sy lofprysing. Sy glans is soos die sonlig; Hy het strale vanuit Sy hand en daar is die bedekking van Sy krag.”
Habakuk se geloofsperspektief verander van “ek, ek ek” tot “U Here”. Dit gaan alles net oor U! ’n Perspektief van gee, gee, gee, na “Here, ek’t U gesien en ek het tot bedaring gekom en nou kan ek sing.”
Dit is waar die Here Sy Kerk wil sien in uitdagende tye! Sien tot julle My raak sien! Bid tot julle My raak bid! Hoor tot julle My raak hoor!
En dan, dit waarvoor Habakuk so bekend is, sy grootste verklaring, sy nuwe GELOOFSPERSPEKTIEF – Een van die heel grootstes van die Bybel:
“Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyf-oes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”
Here, wanneer ek na die situasie in die land, my dorp en die wêreld kyk, dan wil ek ’n klaaglied sing. Wanneer ek egter tot die besef kom dat U tog orals is en dat U tog my lewe en die wêreld, steeds in die holte van U hand hou, wanneer ek kies om stil te word in U teenwoordigheid en op U te wag, verander my perspektief en kan ek nie anders as om ’n oorwinningslied te sing nie.
“Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.”
Dis maklik om op veilige plekke, veilig te loop. Baie van God se kinders kan ongelukkig nie eers op veilige plekke, veilig loop nie. Ons word egter geroep om op hoë plekke te loop! Ons is nie mense wat veronderstel is om op die veilige plekke te loop nie. Onthou jy Jesus se woorde daar in Mattheus 5:14-16?
“You are the light of [Christ to] the world. A city set on a hill cannot be hidden; 15 nor does anyone light a lamp and put it under a basket, but on a lampstand, and it gives light to all who are in the house. 16 Let your light shine before men in such a way that they may see your good deeds and moral excellence, and [recognize and honour and] glorify your Father who is in heaven.”
Dis op die hoë plekke waar God vereer word – Ja net soos Jesus, die lig vir die wereld op ’n hoë plek, daar op Golgota se heuwel, vir die wêreld geskyn het tot eer en verheerliking van God. Habakuk se tent staan eers op moed verloor se vlakte. Hy besluit egter om sy tent in God se teenwoordigheid te gaan anker en dan besef Hy dat God tog in beheer is en dat God dit sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Dis dan waneer God ons help om ons geloofsperspektief te verander en weer hoopvol te wees. Dit is hoop in die donkerte!
“Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” – Romeine 15:13. (Deur Francois Mattheüs)
