Skoolhoof groet ná 10 jaar

Mnr. Stephanus Potgieter het belowe hy sal nie ‘n vreemdeling raak nie en dat hy gereeld sal kom kuier.

DIE geliefde skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, mnr Stephanus Potgieter, lê hierdie week die tuig neer ná 34 jaar in die onderwys.

Hy was vir tien jaar die hoof van Langenhoven Gimnasium.

Op die vraag of hy een hoogtepunt kan noem van sy loopbaan in die onderwys, het hy die volgende geantwoord: “Dit was ’n ongelooflike voorreg om met kinders te kon werk en te sien hoe hulle op alle terreine ontwikkel. Die kinders se prestasies was vir my geweldig lekker om deur my onderwysjare te ervaar.”

Hy sê ook dat dit vir hom ’n geweldige voorreg was om saam met die personeel by Langenhoven Gimnasium te kon werk, wat sy lewe in ’n groot mate verryk het.

“Om onderwys op te som…As jy nie ’n liefde vir kinders het nie, moet jy nie in die beroep wees nie.”

Hy het belowe dat hy nie ’n vreemdeling sal wees noudat hy aftree nie. Hy sal nog gereeld op ’n informele wyse betrokke wees by die skool en die sportspanne ondersteun.

”Ek sal altyd opdaag as ek genooi word. Ek wil nie graag hê dat my opvolger egter voel dat daar ’n ‘spook’ rondloop nie. Ek sal graag wil sien dat hy sy eie stempel op die skool afdruk”.

Sy spesiale boodskap wat hy aan Oudtshoorn wil gee is dat daar geen ander skool soos Gimnasium is nie. Wanneer hulle besoekers gekry het en hulle weer eens kommentaar gelewer het oor die ongelooflike gedrag en optrede van die leerders, het hy opnuut besef hoe spesiaal die mense van Oudtshoorn is, en hoe ongelooflik goed die ouers hul kinders grootmaak.

“Ons ploeg met júl goeie produkte,” het hy aan die ouers gesê.

In die dekade wat hy by die skool was het hy, met die hulp van die personeel en beheerliggaam, gesorg vir verskeie verbeteringe by die skool.

Die vlootvoertuie is opgegradeer om meer as 200 kinders te vervoer, daar is ’n sintetiese hokkiebaan gebou met die hulp van die ouers en borge.

Daar is ook strukture opgerig om dit makliker te maak vir die OOV met al hul aktiwiteite, en daar is ’n besproeiingstelsel ingesit.

Daar is ook die sonkragprojek vir die skool en koshuise wat hopelik aan die einde van die jaar voltooi sal wees. Maar die grootste verandering sal seer sekerlik die nuwe skooldrag wees wat ingefaseer is.

Potgieter en sy vrou, Elmarie, gaan hulself in George vestig na sy aftrede.

“Ek sien vreeslik uit daarna om weer my eie gras te sny, en natuurlik meer tyd op die gholfbaan te spandeer. Ek sal egter nog nie by die rolbalklub aansluit nie,” het hy geskerts. (Deur Lindi Brill)

“Wat ek altyd van mnr Potgieter sal onthou is dat hy almal dieselfde behandel het, met soveel respek. Ons sal hom mis.” – Mandy Potgieter, ouer.

‘Hy gee regtig om’ – leerder

Mnr. Potgieter sal onthou word as ’n meelewende skoolhoof wat altyd daar was om sy leerders
te ondersteun. Hy sal altyd ’n spesiale plek in ons harte hê,” sê een van die ouers.