Deur Tania Smit
As ek ’n boek kon hê vir elke maand wat ek al single is, sou ek teen hierdie tyd al ’n hele kleuterskool van boeke kon voorsien. Kosbare jare na my egskeiding waarin ek nie net ’n toeskouer van my eie liefhê geword nie, maar ook ’n toeskouer van al my vriende en vriendinne se lekkerkry, bymekaarbly, weer-probeers, agterna huils en kan-nie-meer-nies. En as ek al daai boeke se lees en leer in ’n paar lesse moes saamvat, sou dit die volgende wees…
As jy op die dating site cruise, ignoreer toenadering van mense met name soos Die Jackpot, Stokkie, Ladiesman, Soenmytoe, Moegviralleenwees, Theperfectman, Kanniemeernie, of Moegprobeer. Vermy ook mense met profile pics van selfies waar hulle op die bed lê en pruilend in die lens inkyk. Veral as die mans daarby kaalbolyf lê met borshare wat soos ’n pels om hulle drapeer is. Niemand van hulle gaan ’n bottel rooiwyn oopmaak en jou glas eerste volmaak nie, ek belowe jou.
Wanneer jy op ’n eerste date gaan, vra sommer vroeg al vir daai mens hoekom is hy of sy geskei. As hulle wegtrek en net die ander een blameer, sit jou servet net daar neer en hol weg … sommer nog voor die voorgereg gekom het. Want jy gaan nie oor tien jaar nog lekker langbeen saam met daai mens om ’n vuur sit nie … regtig…
As hy jou uiteindelik nooi om by sy huis te gaan braai en sy vriende moet vuurmaak en vleisbraai terwyl hy soos ’n Zoeloekoning sit en heelaand bier drink (al is hulle gewillig), sorg dat daai slaaitjie wat jy in sy kombuis gemaak het, die laaste een is. Want Zoeloeko-nings deel groot geskenke uit, maar trek nooit self die onkruid in hulle eie tuin uit nie. Hulle regeer hulle koninkryk met ’n ysterhand.
Dis omtrent al wat ek het om te sê van ander mense … die res gaan alles oor jou. Want jy is immers die een wat jy uit jou geskiedenis kan gaan haal om saam te vat in jou toekoms in…
Sorg dat jy hou van jou lyf, maak nie saak hoe dit lyk nie. ’n Wyse boyfriend het eens vir my gesê hoe my lyf lyk is net vir hom ’n probleem as my lyf vir my ’n probleem is – as my lyfskaam my keer om saam met hom in die see te swem, of saam met hom in die bergrivier op te swem. Dit het nie… en hy was mal oor my.
Mens hoef nie maer te wees om lekker te wees nie. Maar as jy van kas tot kas moet hol om alleen in jou eie huis kaal te loop, moet jy maar bootcamp toe gaan … regtig. Want jou lyf moet vir jou lekker wees. Punt.
En as jy van wyn en kos hou, kies vir jou ’n maat wat deur multifocals na jou kan kyk. Want jou waarde gaan waarskynlik nie vir altyd in jou lyf lê nie, en iemand wat net ’n lyfbril het, se lense gaan dalk mettertyd uit fokus uit na jou begin kyk.
Buitendien wil geen mens sy hele lewe lank slaaiblare kou om die blinkste trofee op ’n ander mens se kas te wees nie.
As jy kan, soek vir jou ’n maat wat buite die reëls en lyne kan beweeg. Want as hulle hulself kan toelaat om dit te doen, sal hulle jou ook toelaat om dit te doen. Jy wil nie jou hele lewe eksamen skryf met ’n beminde wat rooi kruisies oor jou vrywees trek nie, jy gaan oud wees nog voor jou kakebeen begin sak het.
As mens single is, word jou vriende dikwels ook jou familie. Laat net mense in jou sirkel toe wat verdien om daar te wees. Dapper siele wat spieëls vir jou kan wees. Wat vir jou sal sê as daar gesê moet word, en sal omsingel as daar omsingel moet word.
Liggewig mense word saam met die eerste wind weggewaai, so omring jouself met ankermense, en sorg dat jy self ook ’n anker is. Dan sal jy nooit alleen wees nie.
En as dieselfde patrone oor en oor afspeel in jou verhoudings, is dit waarskynlik oor jou, nie oor hulle nie. Want jy is die enigste een wat in al die stories teenwoordig is. Gaan sit en trek die do-rings uit jou eie hart uit wat bydra tot slegte patrone. Jy verdien ’n doringlose weerprobeer.
En meeste van alles verdien jy mense in jou lewe wat jou sal vashou, en nooit aan jou eie waarde sal laat twyfel nie. Elke mens is worthy om vasgehou te word, nie laat val te word nie. Vind vir jouself iemand wat jou styf sal vashou.
’n Weerkies is ’n voorreg, en ’n journey, nie ’n straf nie. ’n Camino in sy eie reg. Sit jou voete op die dashboard, speel daai musiek, en geniet elke tree van die avontuur. En onthou: ook jy is worthy van liefde.
Moet dit nooit ooit vergeet nie.
Jy is worthy!