Briewe / Letters

Godsdiens in die skole

Na ongeveer vier jaar se geswoeg met godsdiensbeoefening in skole en met die manier waarop die skole die hofuitspraak ignoreer, wil ek graag repliek lewer.

So, waar staan ons nadat die hof beslis het dat die beoefening van een enkele etos in openbare skole onwettig is? Ek begin met ’n analogie:

Wat dink u as leser sal gebeur as ek bv by die gholfklub of selfs in die kerk se voorportaal ’n sigaret aansteek en doodluiters daar rook, wetende dat ek nie mag nie, want die wet bepaal dat ek nie daar mag rook nie? ’n Persoon van gesag nader my en verwys na die wetgewing en se ek mag nie daar rook nie. My reaksie? “Bogger jou! Ek rook waar ek wil, wanneer ek wil. As jy ’n probleem het, kry ’n duur prokureur, kry bewyse en dagvaar my maar, ek sal aangaan net soos ek wil!”

Bogenoemde is presies wat gebeur in die skole. Die skole het die saak verloor, besluit om nie te appelleer nie en weier steeds om die wet wat baie duidelik aan hulle gestel is, na te kom. Ouers wat ’n probleem het met godsdiensbeoefening in skole moet nou duisende rande uithaal om ’n skool te dwing om die wet na te kom. Die skoolhoofde skuif eenvoudig die verantwoordelik­heid na die beheerliggame, wat abso­luut niks met die klagtes van Ogod te doen het nie.

Die onus lê by die skoolhoof (geen verwysing na ’n spesifieke skool nie), nie by die beheerliggaam nie. Verder word die hofuitspraak deur verskeie groepe/orga­nisasies uitgemaak as “niks het ver­ander nie en gaan aan soos altyd” en word mense opsetlik deur­me­kaar­ gemaak oor die uitspraak, met die doel dat dit besigheid soos altyd kan wees.

Liewe leser, die dag nader waar die eerste skoolhoof in die hof gaan moet verduidelik hoekom die wet op gods­-diens in skole nie nagekom word nie en die dag nader waar die eerste skoolhoof sy werk gaan verloor. Mense ignoreer die wetgewing op eie risiko.

Wanneer ons mense en veral kinders eers verstaan hoe propaganda werk, dan sal ons vordering maak en werklik ons potensiaal as ’n spesie bereik. Daardie dae van “bly-stil-en-maak-soos-ek-sê” is lank verby. Geagte skoolhoofde, ons bly nie meer stil nie. Dis ’n skool, nie ’n kerk nie. Kom die wet na of dra die gevolge.

– Pieta van den Heever, Oudtshoorn

Water is lewe!

Etlike dae na die berig oor die water-besparingsmaatreëls in Die Hoorn het baie mense steeds geen kennis van dié besparingsmaatreëls gehad nie!

Ek aanvaar dat die komende munisipale rekeninge ’n kennisgewing in verband daarmee sal bevat. Dit moet ook insluit dat elke regdenkende inwoner die oë van die munisipaliteit moet wees, want as die maatreëls nie gemo­niteer word nie, sal dit geen doel dien nie.

Boetes is ook noodsaaklik.

Regdeur die jaar behoort genoemde maatreëls van toepassing te wees omdat daar altyd mense sal wees wat nie besef hoe lewensnoodsaaklik water is nie (totdat daar geen water is nie).

Die maatreëls moet ook insluit die vermindering van die waterdruk, veral wanneer tuine natgelei mag word. Waar daar kinders in huise, skole en veral koshuise is, moet die stopkrane ook effens toegedraai word, want die meeste kinders besef nie hoeveel vermorsing by wasbakke en storte plaasvind nie. Koshuispersoneel behoort bymekaar te kom om besparings-strategieë uit te werk.

Ons mag nie toelaat dat ons krane leegloop nie!

– Belastingbetaler, Oudtshoorn
(Die Oudtshoorn Munisipaliteit ant­woord op bladsy 5 oor al die ma­niere waarop die waterbesparingsmaatreëls gekommunikeer word, Die plaaslike media – pers en radio – lig inwoners ook in. Ongelukkig baie oningeligtes onder ons wat nie lees of luister nie. – Redakteur)